Saturday, May 04, 2013

Wat net onder die wateroppervlak vir ons wag

(Skakel na hierdie inskrywing)

So gereeld as wat ek moontlik kan, probeer ek om 'n goeie snorkel in te kry.  Wanneer mens mos by die see bly kom jy later nie meer so gereeld op die strand soos wat jy behoort nie.  Mens se lewe raak dalk net te besig.  Maar laas naweek het ons 'n heerlike warm sonnige dag hier in Sydney gehad en ons het besluit om bietjie na Freshwater strand toe te gaan


View Larger Map

Ons snorkel gewoonlik teen die rotse aan die noordelike kant van die strand.  Hierdie tyd van die jaar is daar 'n verbysterende groot hoeveelheid klein visse vir 'n gebied wat in die gematigde temperatuur waters van Australië voorkom.  In die tropiese streek is daar natuurlik baie meer verskeidenheid in seelewe.

My familie snorkel saam en geniet dit ook baie.  Ek het al 'n paar keer baie besonderse seelewe hier by Freshwater strand gesien, soos byvoorbeel die 2 meter Wobbegong haai wat ek al hier gesien het.  Hulle is nie regtig gevaarlik vir mense nie, behalwe as jy miskien op hulle gaan trap.  Mense egter is wel gevaarlik vir hulle, soos die volgende uittreksel lees: "Although wobbegongs do not eat humans, humans frequently eat wobbegongs; the flesh of a wobbegong or other shark is called flake and it is often used in fish and chips in Australia".

Wel, hierdie keer het ek my bewapen met my klein Olympus mik en druk en my seun belowe dat ek fotografiese bewyse gaan probeer kry van die Wobbegong by Freshwater beach.  Die see het my egter verras met baie meer as wat ek kon gevra het en ek het my fotografiese bewyse gekry.
Wobbegongs leef op die seebodem soos naby rotspoele en daarom is ek altyd op die uitkyk vir hulle tussen die seeplante - juis omdat hulle hulself so goed kamoefleer.

Ek het nou wel nie die ou grote opgespoor nie, maar kon wel hierdie kort videotjie afgeneem kry van die kleiner een (nie seker watter sub spesie van die Wobbegong dit is nie).  As julle fyn dophou sal julle sien hoe dit agter die rotse verdwyn.  Ek het 'n geruime tyd gewag vir dit om uit te kom, maar later aanbeweeg elders.



Ek het die plek waar ek hom gesien het op die onderstaande satellietfoto gemerk.



Die water was heerlik...ek het seker meer as 2 ure gesnorkel en het ook die volgende twee "Rays" gesien, net so 'n entjie verdel langs die rotspoele af, omtrent gelyk met die getypoel.

Die eerste was 'n Fiddler Ray of Banjo Ray.
Hier is die video.

Met hul kenmerkende patrone op hul rug, is hulle baie maklik om te eien.

Terwyl ek besig was om hierdie kalant te bewonder het ek skielik in die hoek van my oog 'n tamaai "Bullray" of "Southern Eagle Ray" gesien.  Ek het eers gedink dit is dalk 'n Stringray, maar het na 'n soektog uitgevind dit is die "Asutraliese Southern Eagle Ray (Myliobatis australis)"

Ek het dit op 'n veilige afstand gevolg en die volgende video daarvan geneem terwyl ek gesorkel het:


Ek is redelik seker dit is die Bullray - hier is 'n ander video wat in Sydney deur Scuba duikers geneem is.

Dit was die "Cherry" op die koek vir my.

My enigste spyt is dat ek nie 'n beter onderwaterkamera gehad het om dit vir julle af te neem nie.

Hoe bevoorreg is ons nie om die see so op ons voorstoep te hê nie...
Ek het 'n 8 minute video gemaak van die magdom ander vissies wat ek Sondag daar gesien het wat julle kan sien deur hier te kliek.

Op 'n effense ander noot....  Het julle geweet jy kry nou die Google Street View ekwivalent vir die "Great Barrier Reef".  Dit is nou wel nog in wording, maar mens kan die onderwater skatte van die koraalrif verken deur slegs die kliek van jou muis.  www.catlinseaviewsurvey.com
Dit staan bekend as die Catlin Sea View Survey (www.catlinseaviewsurvey.com)

Jy kan op 'n virtuele skubaduik gaan.  Hulle het reeds 'n hele paar koraalriwwe met spesiale 360 grade kameras afgeneem.






Wat nogal besonders is van die webblad is dat mens dit in volskerm met realistiese onderwater klank kan bekyk, wat jou amper laat voel of jy werklik daar is.

Kliek op "Locations" en kies een van die riwwe, soos byvoorbeeld die Opal Reef.

Gaan besoek asseblief hierdie Webblad....dit is uitstekend.  Nou kan almal die Groot Australiese Rif besoek.
Hier is 'n koerantartikel oor die webblad uit die SMH.

Op dieselfde onderwerp:  Die Verenigde Nasies het Australië blykbaar kennis gegee dat hulle die Groot Australiese Rif op die lys van bedreigde wêrelderfenisgebiede gaan plaas wat in die woorde van 'n Australiese senator beteken dat "it was worrying that Australia was on the brink of joining the ‘‘list of shame’’ as a country that could not manage its world heritage sites." " ‘‘Australia would be the only developed country in the world to have a world heritage site on endangered list. It would be a huge international embarrassment and it would be a big blow to our tourism industry,’’ she said.


1 comment:

  1. Baie dankie vir al die waardevolle inligting op jou Webtuiste. Hoop jy skryf weer binnekort vir ons ietsie nuuts.

    Ek wou graag die gediggie met julle deel:

    SKOENE VAN GISTER

    Al is jou spore vergete

    al is jou sole verslete

    al is die pad lank en swaar

    die skoene moet jy dra

    jou verlede klou verbete aan die veters van jou gewete

    Maak jouself los van jou

    GISTERS, dis verby

    LEEF vir vandag want dis al wat jy het

    Hoe dikwels klou ek en jy nie nog aan die

    veters van gister vas nie, oor dit wat ons moes of nie moes doen nie

    As die lewe of mense jou al onderstebo gestamp het

    sal jy weet hoe moeilik dit is om jou

    ou skoene van gister uit te trek en met nuwes verder te stap

    Die skoene van GISTER is mos lekker sag en gemaklik en uitgetrap terwyl die

    NUWES jou druk en knyp.

    Vader help my om los te kom van al my gisters, sodat ek my mores kan leef.

    Groete
    Amanda, Houston VSA

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings