Tuesday, October 02, 2012

Mooi fotos wat ek in Suid Afrika geneem het

Die skakel na hierdie inskrywing
Een van my groot liefdes in my lewe is fotografie. Ek geniet 'n mooi foto en ek probeer om altyd 'n mooi komposisie te hê in die fotos wat ek neem. My idee vamn 'n ideale vakansie is om na mooi plekke te gaan waar daar allerhande pragtige foto geleenthede is. Ek hou daarvan om mooi tonele op te gaar. Ek tel oral stukkies van die natuur op en versteek dit in my kamerasak. Ek kry dit swaarlik reg om verby 'n mooi blom, of 'n insek op 'n stingel of 'n mooi uitsig of 'n asemrowende natuurtoneel te stap sonder om soos in daardie Klipdrift TV advertensie LAAAANK VAS TE HAAK. Ek kom gewoonlik soos agteros agtena gedrentel wanneer ons op 'n staproete gaan.
Ek hou van mooi kleurvolle fotos, veral Makro fotografie met diertjies of blomme van naderby. Toe ek nou onlangs in Suid Afrika was vir so 'n oogwink, het ek heelparty mooi dinge gesien. Ek wens ek kon sommer al my fotos oplaai op my blog, maar dan maak dit die aflaaiproses net heeltemal te stadig. So ek moet dan maar altyd 'n paar uitsonderlike fotos uitsoek - amper soos 'n Ma wat moet kies tussen haar kinders.

Die Karoo het baie plante wat besonder goed aangepas is vir lewe in droogte. Een van hulle is die Plakkie, soos dit alombekend is.  Ek het so 'n paar van hulle afgeneem in my ouers se tuin in Beaufort Wes.

Die vetplant wat bekend staan as Kalanchoe thyrsiflora word ook die volgende genoem:

  • Plakkie
  • Meelplakkie (afkomstig van die melerige lagie op dit wat die son se strale weerkaats)
  • Geelplakkie
  • "Desert Cabbage"
  • "White Lady" (dalk vanweë die melerige lagie)
  • "Flapjacks" (Soos in plaatkoekies)
  • "Dog tongue plant" (waarskynlik vanaf die ooreenkomste met 'n hond se tong - Hondetong)
  • "White Bird's Brandy" / Voëlbrandewyn (Hemel weet waarom)
Die plant kom voor in die Karoo, noordelike KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga and Noord Wes, dwardeur Afrika, Madagaskar, Siprus, Indonesië en Maleisië, en soos ons gesien het ook Hawaii asook waar ook al mense dit aanplant.

Ek het net so vlugtug gesoek en dit op Wikipedia gekry asook op 'n ander webtuiste wat weer praat oor plante van Hawaii (en hulle noem ook dat dit nie inheems aan Hawaii is nie). Wanner mens op Google Images soek is daar sommer heelwat fotos.  Mens kan ook op die Kumbula kwekery se webtuiste lees daaroor.

Dit is baie dankbare plante hierdie.  Ten tye van die droogte in Beaufort Wes, toe mense selfs bottels water moes aanry na die dorp vir die "Bottles for Beaufort West" projek, het bykans al die gras in my ouers se tuin doodgegaan.  My Ma het toe besluit om hierdie dankbare plante te plant.  Nou is haar voortuin al net so groen van die plakkies en vetplante soos wat dit voorheen was met die gras.  Hulle benodig baie min water, inteendeel, volgens die Kumbula Kwekery artikel moet hulle nie te vell water kry nie anders verloor hulle hul kenmerkende rooi randjie om die blare ("Do not over-water as the plants will lose their red colour")

Kalanchoe thyrsiflora

Hier is 'n plakkie met blomme aan.  Blykbaar sterf die plant sodra die saad ryp is om weer plek te maak vir die volgende generasie.




Soos ek reeds genoem het, was ons een dag in die pragtige dorpie Prins Albert.  Indien mens die suidelike afdraai vanaf Beaufort Wes neem op die N12 in die rigting van George en jy draai regs op die R407 net voor jy by Klaarstroom kom, dan is Prins Albert net so 'n hanetreetjie die Swartberge in langs die pad wat deur die Kredouw vallei kronkel.

Die strate van Prins Albert is besaai met blomme, waarskynlik te dankie aan die leivoor wat deur die hele dorpie loop. Elkeen langs die hoofstraat kry sy eie lei-beurt en kanaliseer dan die water in sy erf in deur die sluise voor sy erf soos sinjale op die treinspoor te verander. Die leivoor het my nogal laat terugdink aan hoe ons kinderdae as dit gereën het met blaarbote by die laerskool se reënwatervore gekyk het wie se "boot" eerste aan die onderkant van die speelgrond kon uitkom.

Die blomme langs die hoofstraat (Kerk straat) is besonder mooi.  Kyk, ek ken nou nie al die blomme se name nie, maar hier is van die mooiste fotos wat ek geneem het langs die hoofstraat.







Ek het gedink die pers en groen in die vorige foto het 'n besonderse foto gemaak, veral met die klein goggatjie op die blom. My kamera is nou nie die heel beste in die wêreld nie, maar ek dink tog dit is 'n baie mooi foto.



Toe ek die gebou hierbo sien met "Omkom Stoor" daarop geskryf het ek aanvanklik gedink dis 'n ander naam vir AVBOB waar hulle die afgestorwenes stoor, maar toe besef ek dit moet seker net 'n "Corner Store" wees waar mens gou-gou omkom as jy iets wil koop.





Hoe lekker is dit tog nie om naamborde met sulke eie Afrikaanse woorde te sien nie. Langs die hoofstraat is 'n hele paar sulke geboue. By een van hulle het 'n ou Omie gesit wat besig was om die nuus te luister op sy draadloos. Maar die oom se gehoor is dalk nie meer wat dit was nie. Dit was vir my amper asof ek die verlede op film kon vasvang - met die grootste respek gesê: net soos wat die koerant strokiesprent-karakter Robert in BenBabsieEnFamilie mos altyd met sy draadloos teen die oor sit en luister het.



En dan is daar nog meer blomme...hierdie blomme staan sommer so in sulke plate blomme langs die pad. Die blomblaartjies het so 'n papieragtige tekstuur.


Ek het die volgende fotos van 'n blommetjie (seker omtrent so 2 cm groot) op die koppie buite Beaufort Wes geneem:




Die volgende blommetjie het ek nog nooit voorheen gesien nie. Dit is letterlik miniatuur in grootte. Hulle groei op sulke laaang stingeltjies...en lyk kompleet soos blommetjies wat uit koekversiersel gemaak is. Ek het met die foto probeer om die agtergrond soveel moontlik uit fokus te kry om derhalwe die blommetjie te beklemtoon






Op die pad na Oudtshoorn, net buite De Rust in die klein Karoo, so net na die son opgekom het, het ek verby hierdie droomagtige toneeltjie langs die pad gery. Ek kon myself net nie keer nie, maar ek moes net stop om dit af te neem. Die mis het nog gedeeltelik oor die lande gelê terwyl die spilpunt besproeiing die aarde deeglik natgemaak het. Hierdie huisie langs die pad het my laat dink aan een of ander Cadbury sjokolade advertensie waar 'n meisie met 'n groot blok sjokolade deur die veld aangestap kom en een blokkie afbreek en dit vir die held in die advertensie gee....terwyl die mis nog oor die veld hang.


Die volgende twee fotos van die noordekant van die Outeniekwaberge het ek geneem net voor ek oor die berge begin afdaal het na George.

Hierdie foto met die hoofpad wat in die verte verdwyn sou 'n baie mooi prentjie maak vir 'n olieverf skildery.

Terug in Centurion het ek hierdie foto by my skoonma se huis geneem...die blare lyk of dit met was bedek is.

My vroulief en haar ma was die afgelope paar weke baie doenig in die tuin.  Hulle het nou ook vir ons 'n paar Plakkies/Plaatkoekies/Hondetong/Voëlbrandewyn voor in ons tuin geplant...
Net om vir julle te wys dat ons ook nou Plakkies of Hondetong in ons tuintjie hier in Sydney het...hier is 'n foto van ons Plaatkoekie plantjies wat hulle by die kwekery gekoop het.
Dit was dan nou die Suid Afrika fotos...volgende keer bietjie meer uit Australië

3 comments:

  1. Puik fotografie ... "memories" vir die toekoms!!

    ReplyDelete
  2. It`s a nice blog, but too heavy for my computer coz all article pop up in one whole long page. Here`s my travelogue blog, would you please drop by and visit my blog? Thanks. Greetings from INDONESIA.

    http://bandungwestjavaindonesia.blogspot.com/2012/10/cafe-restaurant-food-stalls-in-bandung.html

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings