Sunday, September 30, 2012

Boesmanland


(Skakel na hierdie blog inskrywing)

Julle wonder seker wat het hierdie blog met Boesmanland uit te waai?  Byt vas...ek kom nou daarby

Hier is so 'n uittrekseltjie uit die geliefde Worsie Visser se liedjie...

Maar Boesmanland, vat my hand en lei my oor die rant se kant.
As jy vir my kan sê waar die Boesmanland lê. Boesmanland vat my hand.
O, die hond het my beskuit.
O, die hond het my beskuit .
Ja, die hond het my beskuit ,
van die tafel afgesmyt.

Maar as ek maar net weer kon.
O, as ek maar net weer kon.
Kaal bolyf daar kon lê,
in die Boesmanland se son.

Maar Boesmanland, vat my hand en lei my oor die rant se kant.
As jy vir my kan sê waar die Boesmanland lê.
Boesmanland vat my hand.
(Kies gerus die opsie aan die regterkant om hierdie blog in engels te vertaal - as julle so bietjie komiese verligting wil hê)

As julle geraai het dit gaan oor BESKUIT, dan is julle reg !

In Augustusmaand was ek vir die eerste keer in 3 jaar se tyd weer so 'n bietjie in Suid Afrika op besoek. Ek het baie verlang omdat ek voor die besoek my ouers en familie in die laaste 5 jaar se tyd nog net vir 'n maand gesien het...en dit was 3 jaar gelede.

Dit was 'n lang verlang en ek was baie opgewonde oor die besoek.
. Vir my was dit omtrent 'n "Amazing Race" in die kleine en ek het op verskeie soorte vervoermiddels gery om einde ten laaste in Beaufort Wes te kom uitkom:

- My vroutjie het my vroeg die Augustus oggend by Pennant Hills stasie gaan aflaai.
- Ek het die voorsteledlike Sydney trein geneem met my hele pakaas tot by Epping Stasie.
- Af met die 7 verdiepings roltrappe tot op die onderste perron, het ek toe die trein geneem tot by Sentraal stasie
- Vandaar is ek met die Lughawe treinlyn tot by die Kingsford Smith Internasionale lughawe


- 10 uur die oggend is ek toe met die Qantas Boeing 747 op 'n 14 uur lange vlug tot in Kempton Park Johannesburg.
- Daardie aand oorgeslaap by Oom Eddie hulle in Kempton Park wat my by die lughawe kom oplaai en aflaai het die volgende dag.
- Die volgende oggend is ek met 'n Kulula vlug George lughawe toe. Die wolke het soos 'n wolkombers oor die Outeniekwaberge gelê en hier is 'n foto daarvan.


- Vanaf George is ek met 'n Thrifty Hyundai huurmotortjie deur die Outeniekwaberge, deur Oudtshoorn, De Rust, deur die Meiringspoort in die Swartberge tot in Beaufort Wes in die Karoo.
- Toe het ek 'n hele twee weke lank lekker my Ma se kos geniet, met my Pa en Ma op die stoep gesit en gesels en weer familiebande en leisels bymekaargeraap.

Ons was een dag in Prins Albert gewees en hier is so 'n paar fotos:



Ek het besluit ek wil iets blywends saamneem Sydney toe...iets soos lekker tuisgebakte BESKUIT.  Ek het my Ma gevra het om my te leer KARRINGMELK BESKUIT bak.  Dit was nog altyd my gunsteling soort beskuit.  Ek wou presies sien wat ek moet doen om semel karringmelk beskuit te bak. Ek sou al die bestanddele kry en dit self bak terwyl my Ma my leer wat om te meng, hoe om dit te knie en hoe om dit te bak.


Nou sal ek altyd aan my Ma se kombuis kan dink as ek beskuit bak hier in Sydney in die Land-doer-onder.

- Na twee weke van siele lafenis is ek weer vroegoggend terug deur die Swartberge, die Klein Karoo, die Outeniekwaberge tot in George.
- Met 'n swaar hart klim ek toe op die Kulula voël se rug en ek is soos Nils Holgerson die lug in.  Met my GPS het ek gemeet dat ons op tye tot 10 meter per sekonde gestyg het, dieselfde tempo as wat mens later afdaal grond toe.
Die Klein Karoo se plase het soos 'n lappieskombers doer vêr onder die vliegtuig gelê.


- Vir my eerste keer is ek toe met die spik-splinternuwe Gautrein tot op Marlboro stasie waar ek oorgeklim het op die trein na Pretoria (Centurion).



Die mense van Gutengeleng kan welikswaar baie trots wees op hul Goue Trein - sonder 'n sweempie van Graffiti op die vensters of 'n taai borrelgom wat aan jou voete vasplak.
- Na 'n baie kort kuiertjie in Centurion, is ek die volgende dag saam met my liewe skoonsussie in haar karretjie tot by oorle Oom Jan Smuts se Lughawe vanwaar ons weer die dagreis tot in Sydney afgelê het. Hierdie keer was die vlug vir my so 'n bietjie makliker omdat ek reeds in Sydney vir my een van daai fensie oorfone gekry het wat die geraas aktief uitkanselleer. Dit verminder die vligtuig se gesuis tot net so 10% van die oorspronklike volume. Ek het dus heerlike uiltjies geknip.
- Veilig op moeder aarde het my vroulief ons (my en Skoonma) kom oplaai op die lughawe en ek is met ons kar huistoe....'n totaal van 13 vervoermiddels waartussen ek oorgeklim het...treine,vliegtuie en karre.
So dit was dan my reis...

Nou terug na die belangrike besigheid van BESKUIT...

Sedert ek hier in Sydney aangeland het, het ek nou alreeds 3 keer weer hierdie beskuit gebak en nog nie 'n flop gemaak nie. Ek glo nie dit kan sommer flop nie...

Julle het die volgende bestanddele nodig vir die SEMEL KARRINGMELK BESKUIT van Tannie Dora.
(Tannie Dora en Oom Elmie is my Ouers se vriende in Beaufort Wes en ek het hulle ook ontmoet.)

Hier is die lys:
(Ek het sommer vir julle 'n foto geneem van al die bestanddele wat ek hier by ons in Woolies gekry het)



Julle benodig:

'n Mengbak wat so 6 liter hou - meet dit vooraf
2 oond bakpanne van so 30 cm x 20 cm

1 kg Bruismeel / Self Raising Flour (Hier in Aus kos dit so $1 per kg en in Suid Afrika so R9 per kg : die wisselkoers vir bruismeel is so 8, dus is dit omtrent gelyk met SA)
2 koppies semels (Digestive Bran) / Natural Bran ($1.69 / 500 g = R4 / 350 g = 3.38 keer : wat daarop dui dat dit dubbel so duur is hier)
1 koppie Sonneblomsaad / Sunbeam Seed Mix ($2.49 / 165 g)
1 teelepel sout
2 teelepels bakpoeier (gelykgeskraap)
6 fyngedrukte Weetbix ($ 4.19 / 750 g =  R17.89 / 450 g = wisselkoers 7.11)
500g standaard Margarien ($2.99 / 500 g = R18 =  wisselkoers 6)
500g klam bruinsuiker ($2.09 / 500 g = R5.69 / 500 g =wisselkoers 2.72, wat beteken dit is amper 4 keer duurder hier)
500ml Karringmelk ($2.49 / 600 ml = R11 / 500 ml = wisselkoers 5.3)
3 normale grootte (of 2 ekstra groot) Eiers ($4 / dosyn = R12 dosyn = wisselkoers 3, dit is dus redelik duur hier in Aus)

Julle benodig ook 'n mengbak van so om en by 6 liter volume asook so 2 oond bakpanne van so 30cm by 20 cm groot.

Hier is hoe julle te werk moet gaan:
Sit op hierdie stadium sommer al julle oond aan op so 180 grade. (As jou oond 'n waaier in het mag die baktyd korter wees).  Moenie die oond op "Grill" sit nie.

- Druk 6 Weetbix fyn met jou hande in die mengbak.
- Gooi 2 koppies semels/natural bran in die mengbak.
- Gooi die 1 kilogram bruismeel by
- Voeg 1 teelepel sout by
- Voeg 2 platgeskraapte teelepels bakpoeier by

Op hierdie stadium smelt jy die
- 2 koppies klam bruinsuiker
- 500g gewone margarien
in 'n ander bak in jou mikrogolf oond vir so 2 minute
Meng die gesmelte margarien en suiker deeglik in die aparte houer

Voeg nou die
- 500 ml karringmelk en
- 3 normale grootte of 2 ekstra groot eiers by die gesmelte mengsel

in die houer en meng of klits dit goed en voeg by die ander mengbak met die meel in. 

Knie en meng die hele gedoente deeglik met jou hande totdat daar nie meer dele is met los meel in nie.


Gebruik sommer die bietjie margarien wat in die houer oogebly het en gebruik 'n frommel papier handdoekrol om die margarien in die bakpanne te smeer, of gebruik wat ook al julle normaalweg gebruik om te keer dat baksels vassit.

Druk uit in bakpanne tot op 'n diepte van nie meer as 3 cm diep, want as dit te diep raak bak dit nie so maklik heeltemal egalig nie en dan breek dit ook makliker wanneer julle dit later in beskuite sny.


Bak dan in die opgewarmde oond vir so 20 minute op 180 grade en dan weer so 20 min op 160 grade.  Wanneer dit klaar gebak is, druk 'n dun mes in die beskuit - wanneer julle die mes uittrek en die mes is heeltemal skoon, dan is dit reg.


Haal dit nou uit die oond, keer die bakpanne om in 'n skinkbord en laat dit afkoel vir so 'n rukkie.  My ervaring is dat die bokant nogal breek as jy dit probeer sny as dit nog te warm is.  Maar moet ook nie te lank wag nie, want dit sny makliker in beskuite as dit nog so 'n bietjie klam is.
Gebruik 'n broodmes met redelike fyn tandjies en sny die beskuite van die onderkant af - dan kan jy baie makliker beskuit blokkies sny.  Die beskuite moet so om en by 3 cm x 3cm wees aan die onderkante en so 4-5 cm hoog.  As die beskuite te groot is raak dit te vinnig op en dan sukkel jy ook om dit in die koffie koppie te druk... 

Hou nou die oonddeur so 3 cm oop en sit die oond op die heel laagste.  Teen hierdie tyd behoort jou oond al baie afgekoel te wees.  As jou oond 'n waaier het - des te beter.  Die kuns is om die beskuit nou lekker uit te droog sonder om dit verder te bak of te brand.  Pasop ook as die beskuite te naby aan die element is, jy wil nie jou kosbare beskuite verbrand nie.

Hier is my beskuite - eintlik nog aan die groot kant.  My latere probeerslae het ek dit kleiner gesny.


Die enigste probleem met hierdie resep is - mens kan net nooit voorbly met die bakkery nie, want die familie verslind dit so vinnig mens moet elke naweek bak.  Dit is heerlik om net so daaraan te knibbel, of jy kan dit in koffie doop - 'n amperse godsdienstige ritueel.

Groete tot volgende keer



Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings