Sunday, April 25, 2010

Die mense op my pad : Deel 2

Terwyl ek nou hierdie naweek so bietjie meer tyd het om te blog, dink ek, moet ek julle verder vertel van die mense wat ek elke dag van my lewe oppad werk toe en terug huis toe raakloop. 

Soms is die treine ook maar vir onverklaarbare redes stampvol...dit gee die term: "Die verkeer is druk op die trein", 'n heel ander betekenis. Dieselfde mense wat so 'n onsigbare veilige area tussen hulself en ander hou, word daardie oggende genoodsaak om hul liefde vir hul medemens tot op 'n hoër vlak te neem wanneer ons almal styf teen mekaar ge-"squeeze" word soos sardientjies.  Teen die tyd wat my trein dan by Eastwoord of West Ryde uitkom mis 'n hele paar mense hul trein...nie omdat hulle laat is vir die trein nie, maar omdat die mense wat dan alreeds in die trein is nie snoesiger onder mekaar se arms kan inwurm om vir hulle ook plek te maak nie...die trein se deure sluit dan mooitjies net weer sonder dat enige nuwe passasiers kon opklim.  Ons glimlag dan maar net vir mekaar en aanvaar dat dit die uitsondering en nie die reël is nie.  Teen die tyd dat ek by die stasie kom wat ek moet afklim, dan kanaliseer ek die inkomende mense verby my sodat ek in die teenoorgestelde stroom weer kan uitkom by die deur soos wat die menselywe verby my glip.  Nodeloos om te sê...die mense op die trein leer ken mekaar soms van baie naby.  Ek het ook al baiemaal op die trein geklim waar daar heelwat oop sitplekke is en waar ek dan die enigste een is wat by my stasie afklim....ek vermoed al die ander passasiers was dan op die vorige trein.

Toe ek nou die dag op die stasie by Epping staan en wag om oor te klim op die tweede trein besef ek weereens hoe bekend mense kan lyk - met goeie rede.  Week in en week uit staan mens mos maar op dieselfde plek en wag.  Dan, wanneer die vlag-man in sy oranje kleur uniform verbykom knik ek mos maar beleefd.  Later van tyd, wanneer jy sien dat dit 'n vriendelike vlag-man kan wees, waag jy 'n glimlag of 'n kopknik.  En hy knik terug.  Na weke of so wat hy jou dan elke oggend op dieselfde plek hom sien groet, dink ek begin jy al so 'n bekende gesig vir die ou raak, hy verwag later die groet en groet terug.  Jy word dan soos 'n "regular" vir hom.  Later waag jy 'n aanmerking oor hoe besig die treine is of jy glimlag net en begin 'n geselsie aanknoop.  Mense sien mos nie altyd die vlag-man raak nie, hy is dan deel van die stasie?!  Die spesifieke vlag-man by Epping stasie het egter vir my vreeslik bekend gelyk....so amper asof ek hom behoort te ken. Hy het 'n donker gelaatskleur en ek het aan sy gesig gewonder of hy nie van Maleisië af kom nie. Nie lank nadat ek met hom begin praatjies aanknoop het nie, lei hy toe af dat ek van Suid Afrika af moet wees (Wonder hoe?).  En met die' besef kom ek toe agter dat hy van dieslefde kontinent as ek kom.  Hy vertel my dat hy al so 25 jaar gelede Sydney toe gekom het van Zimbabwe af.  Hy werk al jare op die stasies.  Hy sê vir my ek moet sien hoe besig dit soms op Town Hall stasie kan wees want hy het baie jare daar ook gewerk.  Sy pa bly nou nog daar in Zim en hy gaan kuier so af en toe.  Sy naam is Ian.  Hy sê hy het gedink ek moet van Suid Afrika af wees.  Ek moes seker geweet het dat iemand wat my naam: "Heinrich" so goed kan uitspreek van onse mense moet wees.  Nou as ek hom sien noem hy my op die naam en ek groet die vlagman op Epping stasie weer op sy naam, want nou is ons nie meer vreemdes nie. 

Een ou wat nou al bykans 3 jaar lank elke dag saam met my die trein tot in West Ryde haal is Stephen.  Hy is 'n jong ongetroude programmeerder wat by Koorong werk.  Kooring is 'n Christelike Boekwinkel met takke regoor die land.  Hy is 'n stillerige ou met donker krulhare.  Beide van ons moet op Epping stasie oorklim op 'n ander trein.  Ons vra mekaar gereëld hoe gaan dit.  Hy is ook in Thornleigh Baptist en help met die lering van die jong kinders daar op Sondae.  Oor die afgelope paar jaar het ons mekaar al goed leer ken.  Hy is ook 'n vrywilliger by die NSW Rural Fire Service.  Ek en my seun het eenkeer by hul brandweerstasie in Westleigh gaan inloer soos ek in 'n vorige blog van vertel het
Hy vertel my gereëld hoe hulle "fire-drills" doen.  Nou onlangs met die baie reën moes hulle baie mense se huise se kelders en motorhuise help leegpomp of bome gaan verwyser wat afgeval het.

Nog 'n vrou wat ek baiemaal raakloop by die stasie in West Ryde is Julie.  Sy is 'n kort Koreaanse vrou met dimpels as sy glimlag.  Soos my gewoonte is glimlag ek mos maar vir mense wat met my oogkontak maak en groet beleefd in eg Afrikaanse tradisie.  Na 'n hele paar maande van hierdie gegroetery vra ek haar eendag of sy daar naby werk.  Sy vertel my toe dat sy sommige dae van die week daar by 'n donkterspraktyk uithelp.  Interessant genoeg hoor ek toe dat sy ook in Castle Hill bly en toevallig net 'n paar huise van ons af.  Haar kinders was ook in dieselfde skool as my kinders.  Sy groet nou nog altyd baie vriendelik.  Ek onthou haar naam en noem haar op die naam as ek haar groet.  Sy kan bykans nie eens Engels praat nie en ek dink dit sou haar normaalweg afskrik om sommer met enigiemand te gesels, maar ek is mos eiewys en anners...

Tussen die stasie en sy kafee staan die taxibestuurders teen hul taxis en gesels met mekaar.  Hulle laai mense op daar by die stasie.  Dis baie interessant dat daar so baie midde oosterse mense is wat taxi bestuur - die een groot rede is omdat hulle ambagte en professionele werke moes afterlaat om hier te kom taxi bestuur omdat hulle nie so goed Engels magtig is nie. Nog 'n stereotipe wat mens baie in Australië sien.

Ek steek die pad oor en teen hierdie tyd kom daar (indien my trein op tyd was) gewoonlik 'n spierwit Sjnese vrou verbygestap in die teenoorgestelde rigting.  Haar man laai haar altyd by West Ryde Marketplace (net so 'n honderd meter verder af) en dan stap sy stasie toe.  Sy het altyd wit handskoene aan met 'n ronde punthoed op.  Ek dink sy moet 'n baie sensitiewe vel hê wat maak dat sy nie te veel son kan kry nie want haar gesig is altyd spierwit ge-"paint" en haar kop altyd bedek.

Op die hoek is 'n straatkafee.  Ek koop soms daar vir my twee sappige bloedrooi appels vir teetyd.  Ek kan sien die eienaar is baie trots op die feit dat sy groente en vrugte baie vars is.  Hy pak dit elke oggend netjies en sorgvuldig op die rakke uit.  Ek sien hom elke dag as ek daar verbystap. 

Meeste van die tyd stap ek egter deur West Ryde Marketplace om vir my middagete te koop en 'n koffie te drink.  Die man met die draagbare stofsuier op sy rug is teen hierdie tyd al besig om die teëls skoon te suig, maar hy is meestal maar stroef.

By die winkel se ingang is 'n slaghuis waar die Mrs. Balls Blatjan, Ouma Beskuit en Cross & Blackwell Majonnaise oral op die toonbanke rondstaan saam met Ina Paarman se souse.  Daar hang ook biltong oral aan hakies rond.  Ek skat hulle het seker een of ander Suif Afrikaanse kontakte of hulle hou eenvoudig van ons souse.  Die mense agter die toonbank is al van vroeg af besig om die vleise in die vertoonglas uit te pak.

Hierna stap ek gewoonlik in Woolies in om middagete te koop.  Soms koop ek van die lekker geblikte Heinz sop, soms koop ek 'n slaai of blikkies vis of iets, 'n yogurt en 'n Royal Gala appel of twee.  By die betaalpunt hoef mens gelukkig nie in rye te staan nie, jy "swipe" dit sommer self oor die laser by die "self-checkout" punt.  Dis mos hier waar ek vir Jenny ontmoet het.  Ek weer nie of julle al die sepie "Home and Away" gekyk het nie, maar sy laat my geweldig dink aan Irene (die vrou met die rooikop wat by die Diner werk).  Sy is 'n ouerige vrou met kort donker swart hare.  Ek sien haar bykans elke dag daar en groet vriendelik met 'n glimlag en sy groet terug.  Sy hou toesig by die selfhelp-betaalpunte en help mense as hul vashaak.  Na 'n paar weke van sien begin sy my toe met "Have a good day...Luv" groet, en sy laat my voel asof ek haar familie is want sy wil weet hoe dit gaan.  Ek sê toe ek weet nie eens wat is haar naam nie alhoewel ek haar elke dag sien - en voel of ek haar al lankal moet ken.  Sy sê toe haar naam is Jenny...haar man is al 5 jaar gelede oorlede en sy bly nou alleen hier in Sydney nadat sy baie lank in die Central Coast in 'n klein voorstad Blacksmith daar naby "The Entrance" gebly het.  Haar kinders is al almal uit die huis uit (omtrent so oud soos ek).  Sy sê sy het 'n seun in Amerika, en nog 'n seun en twee dogters in die Central Coast.  Daardie oggend vertel sy my ook baie trots en met 'n glinster in haar oë dat sy die naweek haar vier kleinkinders ge-"babysit" het en dit baie lekker was.  Ek vertel haar ook van my eie familie.  Sy groet my nou altyd vriendelik as ek by die betaalpunt is en vra hoe dit met my familie gaan.  Ons gesels dan so 'n kort versie oor wat ek of sy die naweek gedoen het en dan heet sy my 'n lekker dag toe met: "Have a good day Luv".

Hierna koop ek gewoonlik vir my 'n lekker ou koffietjie by die Gloria Jeans koffie-"shop" in die winkelsentrum op die hoek.  Ek hoe nie eens meer te sê wat ek soek nie, ek vra net "The usual" en hulle weet dit beteken 'n Large Irish Nut Creme koffie.  Die bestuurder van die koffieshop se naam is 'n Aussie met 'n baie sterk Australiaanse aksent genaamd Darryl.  Hy is 'n effens stil ou van, ek skat so 45 jaar oud.  Sy seun werk ook soms in die winkel in die oggende.  Hy gee soms Barista koffiemaak lesings by die TAFE college en dan kry ek hom by die stasie oppad in stad toe as ek van die trein afklim.  Soms kry ek hom waar hy by die treinstasie se trappe afkom as ek opgaan.  By die koffiewinkel hoor hy gereëld van my snorkel en kamp ekspedisies.  Hy spreek my naam nou al goed uit. Ek vertel hom van al die Wobbegongs en  Electric Rays wat ek op my avonture teëgekom het.  Hy is altyd bekommerd dat ek nie deur 'n haai gebyt moet word nie. Hy maak soms grappies en wil weet of ek nogsteeds vir die Blou Bulle skree.  Ek sê natuurlik, ek het mos daar grootgeword en vertel hom van Pretoria.  Soms wil hy weet of ek nie na die sokkerwêreldbeker gaan kyk nie.  Jy sien hom behendig die koffiemeulens dryf en die geure ingooi.  Soms drink ek nie koffie nie en stap net verby, maar groet altyd vir Darryl deur net my hand op te lig as ek daar verbystap...en hy wuif terug, amper soos 'n saluut in die weermag. 
Die ander vrou wat by die koffieshop werk is Estelle.  'n Korterige krulkopvrou met 'n sagte rustige stem.  Sy wil altyd weet hoe gaan dit nog met my vrou en kinders, geniet hulle darem nog die skool.  Ek vertel haar byvoorbeeld as ek en die kinders gaan ysskaats het of die naweek weer by een of ander park of piekniekplek was.  Sy volg belangstellend en vertel weer wat hulle gedoen het.  Sy vra graag uit oor Suid Afrika.  Soms vra sy hoe dit gaan by my werk en ek moet soms sê dit gaan maar dol.  Nog 'n meisie waat daar werk is Mia, 'n klein en kort vroutjie met donker hare.  Sy praat nie baie nie, glimlag net skaam.
Soms, wanneer ek die vroeër trein gehaal het, gaan sit ek en drink eers my koffie rustig klaar en lees een van die koerante wat daar rondlê.  As ek klaar is staan ek op en groet vir Darryl hulle.  "See you next time", se hy.

Daarna stap ek verby die West Ryde Hotel.  Daar is 'n ou Oom wat byna elke oggend met die "blower" die blare en stof op die sypaadjie voor die hotel wegblaas, die vensters skoonmaak en die deure oopsluit.  Wanneer ek aangestap kom, sit hy eers sy masjien af en wag dat ek verbygestap het.  Gewoonlik maak hy nie oogkontak nie/ Nou het ek hom al begin groet.  Na baie maande glimlag hy nou en groet terug.  Eendag sal ek nog sy storie hoor.

Nog iemand wat ek gereeld gesien het was die vrou by die Anatolian straatkafee in Victoria road, waarvan ek al 'n vorige keer geskryf het. Sy weet ook dat die Ryde Burger my "the regular" is.  Dit is 'n familiebesigheid en hulle maak die lekkerste hamburgers.

Ek besef nou dat daar so baie mense is wat ek nooit sou ontmoet as ek nie met die bus en die trein werktoe gery het nie...

Saturday, April 24, 2010

Kampeer skou by Rose Hill Resiesbaan

Ons was vandag by die Karavaan en Kampeerskou by die Rose Hill Perderesiesbaan.  Dis mos waar die perdewedrenne normaalweg plaasvind.  Ons het egter bietjie gaan inloer watter soorte kampeer-kartoeters (gadgets) daar alles is.  Ons het die meeste gehou van die kampeer-"slow cooker".  Hier is vir julle 'n foto slideshow. Kliek daarop om dit te kyk in volgrootte. Ek het heelwat van die tente en kampeersleepwaens se pryse ook afgeneem.

Thursday, April 22, 2010

Die mense op my pad : Deel 1

Ek het reeds voordat ons Sydney toe gekom het besluit dat ek sover moontlik van publieke vervoer gebruik gaan maak.  Toe ons nog in Centurion gebly het, het moes ons twee motors op die pad hou.  Ons moes eenvoudig albei motors hê, want dis hoe dinge daar werk.  Almal sê mos maar daar elke oggend die verkeer die stryd aan.  Dit is iets wat jy nie regtig kan vermy nie.

 Jy klim in jou motorhuis in jou kar en klim 'n paar meter van jou werk af uit die motor.  So verander jy in 'n "car-seat" potato, want al oefening wat jy kry is om jou tas te dra.  Jy het mos nie eens nodig om uit jou kar te klim om jou motor se bande te pomp of petrol in te gooi nie! Alles word vir jou gedoen...   So, oppad werk toe sit jy dan mos maar en Jakaranda 94.5 en luister en kyk hoe die Minibus Taxis op die grondpad skouer aan die linkerkant verbyjaag en doer voor die mense van die pad af gaan indruk.  Met 'n geween en 'n gekners van tande bereik jy dan 'n uur of so later jou werk na 'n stewige sit-sessie.  Jou enigste geselskap is die ouens op die radio...met dieselfde radio advertensies wat elke dag omtrent op dieselfde tyd herhaal...selfs die musiekkeuse is tot in die fynste besonderhede vooruit beplan. 


Hoe hemelsbreed verskil my lewe nie nou nie!!  Hoe word 'n mens 'n Aussie?  Hoe voel mens aan jou lyf wat dit beteken om 'n Sydney-haner te wees? Hoe word mens net soos die gewone mens op die straat?  Wel, ek dink, nou na 2 jaar en 11 maande se treinryery op meer as 3000 trein en busritte, dat ek nou nogal weet hoe dit voel... Daar is net soveel meer mense wat jou pad kruis op publieke vervoer! Ek het al menige stories van al die mense wat met my paaie kruis elke dag oppad werk toe.  Aanvanklik as mens op die treine en busse begin ry, lyk meeste mense maar stroef, maar soos wat die dae, weke en maande verbystap en jy dieselfde bekende gesigte elke dag op dieselfde plek raakloop, raak die vreemde gesigte later onmisbaar.  Jy weet later PRESIES watter persone op watter stasies die trein vang.  Mens begin selfs later agterkom wie sekere kledingstukke bo ander kledingstukke verkies, wie vir hulself in die oggende 'n koffietjie koop en wie in watter oggendkoerant belang stel.  Wie daardie oggend haastig by die huis weg is en wie ontbyt gemis het.

By my stasie, Pennant Hills, is daar byvoorbeeld die volgende mense wat ek net van sien ken en wat elke dag so tussen 7h20 en 7h50 by die stasie teëkom:

Die pynlik netjiese Koreaanse/Japannese besigheidsman wat jy elke dag deur 'n ring kan trek.  Hy dra elke dag 'n aktetas (ek dink hy werk seker by een of ander bank).  Sommige dae is sy seun saam met hom.  'n Tipiese tiener wat aan die hoë standaarde van sy pa probeer voldoen.

Dan is daar die ouerige middeljarige vrou.  Soms glimlag sy vriendelik, en ek glimlag terug.  Ek sien haar elke dag op dieselfde plek staan.  Sy lyk vir my so bietjie soos 'n sigeuner en sy dra sulke platterige hoëhakskoene.  Eendag sal ek nog haar storie hoor.

Daar is 'n jong man wat vir my net soos die akteur Gerard Butler lyk (van The Ugly Truth).  Soms is daar 'n vrou saam met hom.  Ek dink sy is sy ma.  Hulle praat een of ander midde oosterse taal.  Wanneer hulle saam is gesels hulle land en sand en ek kan sien hy geniet haar geselskap. Ek sien hom elke oggend.

Daar is heelwat verskillende skoliere wat by die stasie opklim.  Hulle trek gewoonlik in sulke groepe van 5 tot 10 bymekaar.  Ek het al gesien hoe 'n hele klompie van hulle eers in deftige skoolklere elke oggend saam gesels.  Jy sien later wie is die skames, wie is die voorbariges en "loud" tieners en wie het muisneste.  Net so het ek nou al gesien hoe dieselfde tieners se balkies op hul baadjies al hoe meer word tot hulle die volgende jaar nie meer in skoolklere by die stasie op die trein klim nie.  Van dieselfde groepie weet ek dat daar ten minste een musikant is, 'n ander een volg 'n ballet-loopbaan, terwyl 'n ander een (wat op skool altyd die meeste gepraat het) nou in die regte gaan swot het.

Ek het julle al 'n vorige keer van die Koreaanse meisie (Esther) vertel wat by die koffie-shoppie by die stasie werk.  Wel, sy werk nou nie meer daar nie.  Sy het my laas vertel dat sy ook by Hawkesbury in Castle Towers winkelsentrum werk, wek miskien loop ek haar weer raak. 

Maar in haar plek werk daar nou 'n ander immigrant vroutjie.  Sy vertel my dat sy in 'n high-rise woonstel naby Town Hall in die stad werk, dan kom sy elke dag met die trein tot by Pennant Hills so net na 5 uur in die oggend en hou die koffiewinkeltjie oop tot so voor 11 uur.

Soms kry ek vir Gordon by die stasie.  Hy is ook in ons kerk (Thornleigh Baptist).  Hy is seker so by die 50 jaar oud.  'n Skot.  Sy ouers en familie is nog almal daar, maar hy het ook baie jare lank in Zimbabwe gebly, daarna in Suid Afrika en so in die 90's het hulle Sydney toe ge-emigreer.  Ons gesels lekker.  Hy het my kort na ons aankoms by die gemeente vir ontbyt genooi.  As ek hom op die stasie of die trein kry is dit gewoonlik omdat hy later gaan werk het daardie dag.  Hy werk by Virgin Atlantic.  Groot kop by hulle - hy was juis deel van die samesprekings om die nuwe Melbourne na Suid Afrika roete op die been te kry.  As hy jou eers begin stories vertel van sy lewe in Zimbabwe kan hy jou al die ins en outs van die Ian Smith regering en die toestand van Afrika verduidelik.  Baie intelligente ou.  Hy en sy vrou het nie kinders nie, maar dit is baie aangename mense.  Soms kry ek hom en Michael op die trein.  Michael is ook 'n ander ouerige half bles ou.  As ek hom en Gordon saam op die trein kry, dan moet ek my omtrent van hulle geselskap losskeur en verskoning maak want ek moet nou afklim.  Ek sien Michael baie oggende langs die pad...hy stap seker omtrent 3 kilometer stasie toe.

Soms as ek die 632 bus stasie toe neem sien ek vir Willem op die bus.  Hy is 'n lang blondekop ou.  Hy en sou vrou het 4 kinders. Hulle het jare gelede van Holland af hierheen gekom.  Sy vriendelike krulkop vroutjie lei soms die aanbidding in die kerk.  Hy sit alewig op sy Blackberry en tik.  

Ek het tot laasjaar ook altyd die 632 bus geneem stasie toe, maar toe verander hulle die busroete en nou kom dit nie meer so gereëld to by die Oakhill Drive winkels nie.  Dis mos nou waar ek altyd die bus gevang het.  Ek het vir 'n baie lang tydperk die bus daar gekry.  

Net oorkant die straat bly daar 'n Down Sindroom meisie wat elke liewe oggend saam met my op die bus geklim het.  Wanneer ek ingedagte in die bus-huisie gesit het, dan sou sy besorgd my aandag trek deur my op die skouer te klop wanneer die bus oor die bult nader kom. 

Dit was ook in daardie tyd wat Alan nog die bus bestuur het.  Hy was nou vir jou 'n stiptelike busbestuurder!  Elke oggend klokslag 7h00 het hy oor die bult gekom en voor 7h20 was ek by die stasie.  Sommige oggende het ek met Alan gesit en gesels.  Hy het sommer dadelik geweet dat ek 'n Suid Afrikaner was.  Mens kan mos net jou mond oopmaak en dan is die kat uit die mou...  Op hierdie roete was daar 'n hele paar gereëlde mense op die bus: 'n baie deftig uitgedosde vroutjie met hare wat soos pouvere staan het in County Drive ingeklim (ek dink haar name is Jade, sy is 'n vriendin van Bianca, wat ek nog later van sal vertel), 'n Koreaanse meisie met 'n poniestert het in John rd opgeklim, 'n entjie verder nog 'n Koreaanse student wat byna altyd met sulke groot swart oorfone oor sy ore gesit het.  Hy het seker besluit dat hy nie speel as hy musiek luister nie - hy wil hoëtrou musiek luister.  Ek weet nou dat hy ook regte swot - ek sien soms dat hy sulke dik "LAW" boeke ronddra.  In Edward Bennet Dr. het daar 'n kort amper bles meganiese ingenieur opgeklim.  Ek weet hy is 'n ingenieur want hy het altyd gesit en Ingenierswese boeke lees.  Ek het altyd gedink hy is 'n proffessor, maar endag het ek agter hom gesit en 'n geselsie aangeknoop.  Toe vertel hy my wat hy doen.  Vir 'n baie lang tyd het hy saam met sy dogter by die busstop opgeklim.  Sy was baie stylvol uitgevat, het seker onlangs begin werk in die rotteresies.  As sy by die stasie geloop het het dit altyd vir my gelyk of sy nog nie die loop met hoëhakskoene nog so lekker onder die knie het nie.  Ek het die ingenieur lanklaas gesien...ek ry nou 'n ander busroete. Hy vang die trein by Beecroft. Nadat Alan nie meer die 632 roete gery het nie, was dit nooit weer dieselfde nie.  Soms was dit 20 minute laat en soms was dit alreeds verby wanneer ek 6h55 by die busstop aangekom het. Die 638 is na my mening baie meer betroubaar.

So met die busryery leer mens baie meer mense ken as op die treine.  Ek dink dis omdat mens baie minder in mekaar se persoonlike ruimte is op die busse.  Op die trein kyk almal mos maar net voor jou en probeer die ongemaklike situasie vermy.  Maar met die bus, veral smiddae na werk, is almal baie meer ontspanne en dan knoop hulle ook baie meer geredelik 'n geselsie aan.

Soos die vour van Indië wat by Pennant Hills se Australia Post werk.  Sy klim altyd aan Beecroft se kant af.  Sy is al baie jare hier in Sydney, maar haar Engels is maar nog gebroke.  Sy is altyd baie vriendelik en vra hoe dit nog gaan.  Ek het al vir haar fotos van my familie gewys en sy stel baie belang.  Sy het ook kinders.  Soms sien ek haar oorkant die straat by die Biblioteek.  Moenie vra hoe om haar naam uit te spreek nie, maar ek ken haar nou al amper 2 jaar.


Die mense wat smiddae so 17h20 die 638 bus ry is in die woorde van een van die "regulars" al amper 'n familie.  As ons op die bus sit en gesels, dan is daar so 'n oor en weer geselsery. Almal lê 'n eiertjie in die geselskap.  Daar is byvoorbeeld Francesca, haar oupa hulle het van Sicily (naby Italië) jare terug hierheen ge-emigreer.  Toe ek haar gevra het waar dit is sê sy dit is die sokkerbal wat deur die "skoen" van Italië geskop word...Italië lyk mos soos 'n skoen op die kaart.  Sy was die afgelope tyd maar skaars op die bus...so ek en die ander "familie" wonder nogal of sy OK is.  
Woody is 'n konstruksiewerker by 'n boumaatskappy, hy het sulke rooi krulhare.  As hy in die middae op die bus klim kan mens sien hierdie ou het vandag hard gewerk.  Maar hy is 'n stil ou.  Ek en hy klim by dieselfde busstop af.  Hy bly so 'n paar honderd meter van my in die straat af.
Daar is nog 'n ou, maar ek ken nog nie sy naam nie.  Hy groet my altyd beleefd. Hy is ook in konstruksie - ek dink hy is 'n padwerker aan die klere wat hy dra.  Vrydae sê hy altyd: "Have a nice weekend buddy."
Ek het egter die afgelope jaar baie meer bevriend geword met 'n groepie baie gereëlde bus vriende: Sean, Bianca, Tina, Narina en dan is daar John, 'n skralerige, ouer ou met 'n redelike goeie wêreld kennis.  Ek en hy en Francesca het een middag lank gesit en praat en ek het hulle van Suid Afrika vertel. 
Sean is 'n goeie doodgewone ou.  Sout van die aarde.  Nadat ek hom vir baie lank saam met my op die bus gesien het, het ek het een middag net met hom begin gesels en nou is dit al etlike maande wat ek hom byna elke middag op die bus sien en dan gesels ons oor allerhande dinge van flieks tot rugby.  Hy werk by TNT, dis 'n koeriermaatskappy wat pakkies verskeep.  Hy sit amper elke dag 'n blokkiesraaisel of woordspeletjie en voltooi op die bus.  As hy na woorde soek dan help die ander mense op die bus met voorstelle.  Hy kan nou al vir 'n paar jaar nie meer motor bestuur nie want hy het 'n nie-kwaadaardige breingewas wat hom "seizures" gee en nou kan hy nie meer bestuur nie.  Nou ry hy elke dag fiets werk toe nadat hy van die trein afgeklim het.  Sy fiets stoor hy naby die werk.  Hy werk in Concord naby Sydney Olympic Park en hy haal alreeds baie vroeg in die oggend die trein.  Hy is al omtrent op die trein oppad werk toe 5h30, dan staan ek eers op.  Hy is slim en het 'n baie wakker brein.  Ek en hy is omtrent ewe oud - wat ek afgelei het aan die feit dat ons omtrent dieselfde TV programme van ons kinderdae onthou.  Sy gunsteling tydverdryf op Vrydae is om sy skoene uit te skop en NRL (Rugby)  op TV te kyk nadat hy sy wasgoed van die week in Dural Karavaanpark se "Coin"-wasmasjiene gewas het.  Hy bly alleen. Maar hy besit sy eie huis-eenheid in die karavaanpark.  Sy pa bly ook daar, en Sean is nie getroud nie.  Hy kom van die Gold Coast in Queensland af, maar bly seker al 10 jaar in Sydney. Hy kan tog te lekker lag en vlymskerp grappies maak, en dan lag hy soos 'n kar wat net net nie wil "start" nie. Hy gesels ook in die middae met Bianca.  Hulle gesels albei NRL (rugby). Sy ry ook in die middae op die bus.  Sean bring sy NRL liga boek te voorskyn en dan noem hy die verskillende spanne se name op wat teen mekaar speel hierdie week. Rabbitohs, Bulldogs, West Tigers, Titans, Cronulla Sharks... en dan kies Bianca watter span sy dink gaan wen in elke kragmeting. Hy stem saam gee redes hoekom elke span gaan wen of nie wen nie.  Dan maak hy merkies in die boek.  Elkeen van ons het 'n merkie wat ons keuse onderskei.  Hulle noem dit "Tip".  Die een wat die meeste punte het aan die einde van die week koop dan vir die een wat die meeste reggeraai het 'n Pepsie. Soms, as ek van die trein af klim, dan staan hulle twee vir my by die busstop en wag met 'n pak slap tjips in die hand.  Dan eet ons al drie sommer so saam uit die boks.  Sean hou baie van Pepsi, en het elke middag 'n bottel in sy rugsak.  Bianca is 'n langerige vrou met styl hare,  sy weet omtrent net soveel van die rugby as Sean - en hy ken hulle omtrent op die punte van sy vingers...hy weet selfs wat elke speler se nommer is.  Bianca werk as 'n IT "support" persoon by 'n hoërskool in Hornsby.  Sy bly nog by haar ouers in Kenthurst. Sy was ook daar op laerskool en later in Normanhurst op hoërskool.  Sy is in Sydney gebore.  Donderdae loop sy 'n kursus by die TAFE college.  Sy praat vinnig en haar gunsteling TV program is NCIS.  Ons praat soms oor dit wat in die vorige episode gebeur het.  Hier wys NCIS mos op Dinsdae aande en Vrydag aande.  Ek vertel soms vir hulle wat ek doen by die werk (ek is mos in Satelliet Vehicle Tracking)...so nou is my bynaam Mr. McGee (as gevolg van die ou in NCIS wat altyd die posisie van die skelms op die kaart vanaf hulle selfoon opspoor).  Hulle weet ook nou al dat ek Dinsdae en Donderdae na Fitness First Gym toe gaan...nou kan ek ook nie sommer net 'n gym-sessie "skip" nie, want dan herinner Bianca en Sean my:"Aren't you supposed to be at the gym today?"  Dan gee ek maar my rede...en hulle lag net.   Ek onthou nog baiemaal hoe ek hulle op die bus en by die stasie gesien het...net soos al die ander mense.  Elke oggend en elke middag, vreemdes.  By dieselfde plek op die trappe en by die busstop...totdat ek een dag net besluit het om myself voor te stel en hallo te sê.  En van daar af was hulle nie meer vreemdes nie.  Nou kom ek agter dat hulle werklikwaar soms besorgd is oor my as hulle my vir 'n paar dae nie gesien het nie.  Dan wil hulle weet of ek op verlof was, of siek was of gym toe was.  Net so was Sean nou die dag vir 'n hele ruk net weg.  Ek en Bianca het gewonder waar hy was.  Met sy terugkoms vind ons toe uit dat hy by die Physioterapeut was...het 'n fietsongeluk gehad en hy was op siekverlof.  Ons was verlig.  Net so is hulle ook besorgd dat ek my afklim busstop gaan mis, want ek het vir hulle vertel dat ek eenkeer vergeet het om die knoppie te druk toe ry die busbestuurder verby...toe eindig ek amper 5 kilometer verder op in Round Corner.  Het toe maar daar gesit en wag vir my vroulief om my te kom oplaai.  Nou het Bianca hulle al die gewoonte om sommer vir my die bus se knoppie te druk, net vir ingeval ek vergeet.  As ek dan deur die dippie is en die bus sy weg teen die bult op begin maak, dan staan ek solank op en groet vir Sean, Bianca en Tina en die ander vriendelike padwerker ou op die bus.  Die busbestuurder stop soms sommer vir my op die hoek, want dan het ek korter om te stap sê hy.  Man, is dit nou vir my te snaaks, want as ek afgeklim het en verder aanstap sien ek net hoe die "family" op die bus vir my koebaai waai asof dit uit die mode gaan.  Dit is amper snaaks...so in teenstelling met die ander stroewe bus-passasiers.  As die bus al amper oor die bult trek waai hulle nog.


Tina is 'n ouerige vrou met grys hare, sy sit baiemaal in die middae so 'n uiltjie en knip en word dan kort-kort wakker as die bus vinnig stop of om 'n draai gaan.  Daar was laas week 'n besorgdheid en 'n geredekawel oor watter bus en treinkaartjie ons sal moet koop met al die veranderings in die kaartjies van die busse en treine.  Hulle was besorgd of my bestaande maandkaartjie nog gaan geldig wees na al die veranderings, Bianca het selfs vir ons uitgevind dat ons die nuwe MyMulti2 sal moet koop en ook vir ons uitgewerk hoeveel ons gaan spaar per week.  Tina het so 'n sagte rustige stem.

Narina is nog 'n vrou wat ek gereeld op die bus sien. Sy is 'n "loud manicurist" (wat mense se naels doen).  Ek dink sy moet Grieks of iets wees, ook so 5 of so jaar gelede hiernatoe ge-emigreer.  By die busstop gesels sy kliphard met sigaret in een hand oor wat hulle die naweek gedoen het.  Laas naweek was sy by 'n vriendin se kitchen-tea in die stad en sy het vir my met smaak vertel hoe hulle omtrent die hele Sydney se treine platgery het op soek na 'n trourok vir die een wat trou en wat alles by die ete was...en hoe moeg haar lyf nou is van die hele dag se gestappery en van al die ferry ritte.  Sy lag sommer kliphard op die bus.  Toe sy die eerste keer hoor ek is van Suid Afrika vertel sy my dat sy heelwat Suid Afrikaanse vriende het en wil dadelik weet of ek die' en die' ken...asof ek mos almal behoort te ken omdat ek ook van daar af kom.  Ek wys vir haar fotos van my familie.  Sy en haar man het nie kinders nie.  Ons gesels lekker.


Dan is daar ook nog Darren, hy werk by 'n Volkswagen handelaar.  Ek het hom nou onlangs op die einste bus hallo gesê.  Ek het ook mos eers 'n Volkswagen Beetle gehad.  Toe ek dit vir hom daarvan vertel was hy eers vuur en vlam.  Kyk, hy weet baie van karre.  Top Gear is net soos vir my een van sy gunsteling TV programme.  Nou die dag gee hy sommer vir my 'n motortydskrif om te lees.  Hy koop sommer so twee op 'n slag.  Ek gesels met hom oor karre en oor al my kar-inkonk probleme met Volkswagen Beetles en 'n 1979 Volkswagen Golf op Universiteit.

My huidige busbestuurder ken ek ook al lank al.  Ek het hom ontmoet toe ons net in Sydney aangekom het 3 jaar gelede.  Hy het toe 'n ander busroete gery.  Ek sien hom nog elke dag.  Ek vra hom nou die dag hoe lank sy skof is...van 7 uur die oggend tot 7 uur die aand.  En dit doen hy ook elke dag.   

Al hierdie mense is nou al deel van my lewe...ek sien hulle elke liewe dag.  Almal het 'n storie.  So deel ons mekaar se lewens en kruis ons paaie.  Ek begin al hoe meer WEET wat dit is om 'n gewone Aussie te wees.  Hier is ons almal mos in dieselfde bootjie.


Daar is nog heelwat mense waarvan ek julle kan vertel...









    Kontak my gerus...

    Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

    Die mees populêre inskrywings