Wednesday, January 27, 2010

Gaan lees asseblief hierdie artikel in Beeld

Hallo julle.  Ek het vandag 'n baie interessante artikel in Beeld gelees. Dit is geskryf deur Bertus de Villiers.

Hy werk by die "State Administrative Tribunal" (SAT) van Westelike Australie. 

Hier is 'n uittreksel wat die SAT oor Bertus skryf:

Bertus de Villiers
Bertus de Villiers (BA Law, LL.B, LL.D) is admitted as a legal practitioner in Australia and South Africa. He is a visiting fellow of the Law School of the University of Western Australia and has taught on a part time basis constitutional and administrative law at UWA. He is also an inaugural Fellow of the Western Australian Institute of Dispute Management under the auspices of the Murdoch University. His areas of specialisation are constitutional and administrative law, environmental law and human rights, and native title and commercial law. He has published widely on these topics. His professional background includes positions as Manager (Principal Legal Officer) of the Goldfields Land and Sea Council and Principal Legal Officer for South African National Parks. From 1990-1996 he was head of the Centre for Constitutional Analysis in Pretoria where he had close involvement in the debates leading to and the drafting of the South African Constitution.

As mens op Google gaan soek vir Bertus, is daar ook heelwat verwysings na boeke wat hy al geskryf het.


Gaan lees asseblief sy uitstekende brief in Beeld:

Julle het my droom gesteel

2010-01-21 20:31


 
Bertus de Villiers


Min onderwerpe krap mense so baie om as emigrasie. 

Die voordele, die nadele. Die verlange, die nuwe identiteit.
Die haat, die liefde.
Die verwyt, die droom.
Oor ’n tydperk van tien jaar sedert ek geëmigreer het, het ek met honderde emigrante gesels om agter te kom wat in hul kop aangaan.
Ek het verby die gewone stories van geweld probeer kom na die dieperliggende psigologiese motivering.
Die gaping tussen wat wit mense verwag het gaan gebeur in die nuwe Suid-Afrika en wat gebeur het, was en bly net eenvoudig te groot (lees die volle brief......)

Daar is ook heelwat kommentaar van mensop op die brief wat baie interessant is.

Monday, January 04, 2010

So 'n brokkie nuus uit hierdie geweste

So ja... die slag is gelewer en die feesseisoen is op 'n einde. Dit was 'n baie aangename afgelope twee langnaweke hier in Sydney. Ek het nie verlof gehad nie en was steeds volstoom aan die werk so tussen die vakansiedae deur. Tog het mense 'n gevoel gekry van die vakansie. Alles kom so pop 'n manier tot ruste en dis heerlik as die busse in die oggend nie in die verkeer vassit nie, dan kom mens sommer 'n halfuur gouer by die stasie. Daar het heerlike reën geval gedurende so 'n paar dae van die vakansie, wat die wêreld lekker afgekoel het. Hier in Sydney bêre jy nooit heeltemal jou komberse nie, want sommige aande is nog heerlik koel, maar in die dae sweet jy jou broekspype nat.

Vrydag het ons nuwejaar by die Lane Cove Natuurreservaat saam met vriende. Dit is heerlik daar. Ons het twee roeibote gehuur en so 'n uur met die rivier op geroei en toe sommer op die water gaan piekniek hou nadat ons die bote met die tou aanmekaar vasgebind het. Ons het lekker Hans worsbroodjies geëet en vleskoffie gedrink en ure lank gesit en kuier terwyl ons net so rondgedobber het. Dit het met tye so bietjie gereën, nou nie dat dit ons juis gepla het nie. Dit verg nogal koordinasie om met twee spane 'n skuit in die regte rigting te stuur en ons het meeste van die tyd sulke esdraaie op die rivier uitgevoer en kort kort amper in die takke langs die rivier beland.

Saterdag is ons laatmiddag Freshwater Beach toe. Ek het vir my klein "Body Glove" bodyboard fins gekry. Hulle is heelwat kleiner as scuba fins, en maak mens se enkels nie so moeg nie. Ek moes dit net gaan uitprobeer. Hier ry ons gereëld eers so na 15h00 see toe, want as jy eers daar is, kan jy maklik nog tot na 20h00 in die see swem. Dit vat mens net so 40 minute, dan is jou tone in die see. Die hele familie het nou al wetsuits en almal neem deel aan die snorkel en branderry. Ek was Saterdag besonder gelukkig om twee interessante visse onder die water te sien. Ek het weereens die Wobbegong gesien, maar hierdie keer het ek nie so groot geskrik soos laas nie...die goed eet mos nie mense nie.
Hier is 'n foto van 'n ander webblad:
Die ou lyk geweldig skrikwekkend as jy hom die eerste keer sien, maar is nie agressief nie. Mense is ook nie op sy spyskaart nie. Hy lê hoofsaaklik en wag vir kleiner visse en vang hulle dan soos 'n groot brulpadda vanuit sy gekamoefleurde posisie. Hier is nog 'n paar ander haai en rog ("ray") spesies wat mens hier rond kry.

Daar was heelwat klein wit jong sand "rays", hulle lê die hele seebodem vol. Dan het ons ook nog 'n rog gesien wat ek nog nie vorheen gesien het nie, naamlik die "Eastern shovelnose ray". Hy lyk baie soos die sand rog, maar het meer van 'n diamantvormige voorkoms. Ek moes nogal soek om 'n foto te kry wat presies lyk soos die een wat ek gesien het, maar hier is dit:
Ek het aanvanklik gedink dis een of ander soort haai, maar dit blyk dat die rog en haai familie baie ooreenkomste het. Hier is nog 'n foto:

Nog 'n baie handige blad wat mens kan help om die visse te identifiseer is hierdie een by OzAnimals is nogal ok.

Sondag het ons net ge-"chill" by die huis. Daar het heelwat druppels geval en ons het Sondag by die huis gespandeer. My Mario sleepwa is nou goed waterdig gemaak, want ons een van die dae weer kamp by Batemans Baai, suid Durras om presies te wees en ons sien baie uit daarna. Dis mos in 'n "Marine Sanctuary", so dit beloof om baie mooi seelewe fotos op te lewer.

Vandag was ek maar besig by die werk, maar ek het vanoggend 'n baie besonderse ervaring gehad... 'n Chinese Sydney busbestuurder het uit sy eie vir my vir 'n koppie koffie gekoop. Ek lieg nou nie. Daar was net so drie mense op die bus. Hierdie ou was baie vriendelik...hy het feitlik al die passasiers met die hand gegroet en voorspoedige nuwejaar toegewens. Hy was duidelik nuut, want hy het nie mooi geweet hoe om die masjientjie te bewerk nie en my toe sommer ook net 2 dollar ge-"charge" omdat hy nie die $3.20 knoppie kon kry nie... Ek sê toe maar dankie en gaan sit. Ek sit en boeklees in die oggende, op die oomblik is dit "Programming Microsoft Linq". Ek sit toe nog so met my een been oor die ander gekruis...toe vat hy die roundabout met so 'n vaart dat ek amper skoon van my bankie afval. Toe weet ek die ou is nuut, vandag kom ek gou by die stasie... By die stasie afgeklim koop ek vir my 'n weeklikse kaartjie. Die prys het nou opgegaan van $27 na $29 per week. Hier sien ek nou mos kom die busbestuurder aan...hy wil weet of hy my kan "stick" vir 'n koffie, want ek is sy eerste "customer" vir die dag. En daar koop hy toe sommer by Ester vir my 'n lekker koffie. Dis mos die naam van die Koreaanse meisie by die koffieshop. Sy vra my gereëld uit oor Suid Afrika. Die busbestuurder is van China. Hy wil toe weet waar is Suid Afrika. Ek sê toe maar dat dit aan die suidpunt van Afrika is. Ester vra of hulle ook nuwejaar vier, ja sê hy, maar eintlik vier hulle dit op 14 Februarie...Ester sê, O, op Valenteinsdag. Hy sê ja. Hy sê sy naam is "Ba", dit beteken glo die golwe van die see. Ek sê toe maar baai vir hulle, want hier kom my trein. Dit was nou 'n interessante bederf.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings