Friday, September 18, 2009

Soos 'n goed geoliede masjien

Ek dink nou al 'n geruime tyd daaraan om julle bietjie te wys hoe dinge hier in Australië gedoen word. Dit is alledaagse dinge soos hoe die vullis byvoorbeeld verwyder word wat soms anders werk as wat ons aan gewoond is. Daar word ook nie 'n groot kabaal opgeskop tydens die proses nie. Een trokbestuurder en een vullistrok is al wat nodig is om die strate se vullishouers sommer gou gou kaf te draf. Daar is so 'n meganiese arm aan die trok wat dan die asblik oplig en netjies in die agterkant van die vragmotor leegmaak. Jou asblik moet ook net reg staan anders slaan hulle dit sommer oor. Daar word ook nie dae oorgeslaan nie, geen rooster skuif aan vir vakansiedae nie. Somer en winter, reen en sneeu, vakansiedae of werksdae, elke Woensdag oggend is hul op hul pos hier by ons.

Wel, ek het daarin geslaag om vir julle hierdie kort video van die gedoente te bekom.



Nog 'n verskynsel wat mens hier baie sien is mos die mense wat hul eie petrol so ingooi. Aanvanklik het dit baie vreemd gelyk, maar nou kan mens jou nie eens indink dat dit ooit anders kon werk nie. As mens jou bande wil pomp, dan kies jy net die regte banddruk op die LCD skermpie en koppel die pyp, die masjien pomp dan self jou wiel op (of blaas dit af) tot die regte druk en "biep" as dit die regte druk bereik.

Nog iets wat baie verskillend werk is: hoe betaling met jou kredietkaart hier werk. Hierso gee jy nie jou kaart vir die verkoopspersoon nie, maar hy/sy gee vir jou die kredietkaartmasjientjie. Dan trek jy self jou kaart deur en tik jou pin in. Iets wat ek nogal van hou is hierdie selfbetaalpunte in Woolies. Vanoggend het ek vir my byvoorbeeld vitamine gekoop, maar ek wou ook $10 geld trek uit my rekening. Jy stap eenvoudig in die winkel in, kry dit wat jy wil hê van die rakke af. Dan loop jy na een van hierdie selfbetaal punte. Jy druk die "Begin" knoppie, "scan" die items self in, druk die "Betaal nou" knoppie, kies hoeveel ekstra geld jy wil trek, sleep jou kaart deur die gleuf en tik jou PIN in. Die ding spoeg dan jou strokie en jou geld uit en dan stap jy doodluiters uit die winkel....niemand lig eers 'n wenkbrou nie. Dis 'n baie handige manier om twee $5 note te kry vir busgeld...jy "cash out" net by die betaalpunt.

Selfde met die biblioteek: jy kies jou boeke, skandeer hulle in, plaas jou kaart op die glas en stap uit.

1 comment:

  1. Dit bly vir my ongelooflik om te sien hoe dinge hier gedoen word. Oorkant ons in die straat is hulle besig om huis te bou. Ek het nog nooit meer as drie mense op een slag op die perseel gesien werk nie. Een ou kom man-alleen om vier "pallets" vol bakstene af te laai. Dit vat hom skaars 'n halfuur om dit te doen.

    Hier sien jy net eenvoudig nooit 20 werkers met overalls wat staan en gesels en hanna hanna vir drie maande lank op 'n site nie.

    As jy jou oge uitvee, dan staan die huis klaar gebou. 'n Dak word in een dag geslaan, en die volgende dag is die teels op.

    My bek hang na 'n jaar nog steeds oop as ek kyk hoe werk die mense.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings