Friday, September 25, 2009

Hierdie volgende video van Matt het my laat dink dat ons almal op aarde so baie dieselfde is.
Wat dink julle aan nadat julle dit gesien het?



Hier is 'n kaart van waar hy oral besoek het...

Die nuwe dag breek met nuwe hoop in sy hand

Dit is net na 5, vroeg op 'n Vrydagoggend. Die son is nou net besig om op te kom oor 'n splinternuwe dag. Alles begin nuut, al die foute en gesukkel van die vorige dag is verby. 'n Mens kan elke dag nuut begin, met 'n skoon bladjie. God se ontferming en liefde is elke dag vir ons nuut, die verlede is verby.

Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut. U trou is groot.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
Klaagliedere 3:21-24

Ek het vanoggend hierdie voëlklanke vanaf ons agterstoep afgeneem.  Soms voel dit of ons in 'n botaniese tuin bly, met al die magdom lewende klanke om ons.

Wednesday, September 23, 2009

'n Eg Bloemfonteinse stofstorm in Sydney

Toe ons vanoggend wakker word het dit gelyk of ons op die oppervlak van die planeet Mars was. Die lug was bloedrooi.  Ons was binne in 'n reusagtige stofstorm vasgevang. Die laaste keer wat daar so 'n groot stofstorm hier was, was 70 jaar gelede in 1939.  Die buitengewoon warm temperature het 'n laagdrukstelsel oor die kus veroorsaak wat buitengewoon sterk winde van oor die 100 km/h vanaf die binneland laat waai het. Die resultaat was dat meer as 70000 ton rooi woestynstof van die binneland af na die kus gewaai het.

Die bron van die baie stof is die groot binnelandse panne in die "Lake Eyre" omgewing.  Hierdie gebied is die laagste punt in Australië en sowat 15 meter onder seevlak.  Die meer se gemiddelde diepte is 1.5 meter met 'n totale oppervlakte van 9500 vierkante kilometer (Meer as die helfte die oppervlakte van die hele Gauteng (17000 km2).

  As gevolg van die groot hoeveelhede reën die afgelope jaar het daardie omgewing 'n baie groot invloei van rivierwater gekry wat baie meer sediment die binneland ingeneem het as normaalweg.  (Baie riviere hier in Australië vloei mos na die binneland om hierdie groot mere/panne te voed.) Kyk bietjie na die fotos van Lake Eyre op hierdie webblad.  Soos wat die panne dan weer opdroog bly al daardie rivierbedding sediment dan agter....totdat winde soos vandag dit na die kus bring.  (Sydney's red storm: where it came from)


Normaalweg

Vanoggend


 


 


Omtrent die hele New South Wales was bedek met die stof sodat baie internasionale vlugte op 'n ander plek moes gaan land. Hulle noem dit nie die Red Centre vir niks nie.

Nou is alles darem weer oopgetrek....

Dit laat my mos nou terugding aan daardie Vrydag (14 Januarie 2005) wat ons oppad terug was op die N1 vanaf Beaufort Wes in die Kaap.  Ons het deur Bloemfontein gery en 'n soortgelyke stofstorm teëgekom.  Die lug was net so onheilspellend donker van die stof in die lug.  Hier is so 'n paar fotos wat my vrou geneem het terwyl ons in die kar oppad was terug Pretoria toe.


















Monday, September 21, 2009

Lank vergane skepe in die kelders van die see...vaag onthoude grepies uit 'n baie ou verhaal

Vir almal wat in die geskiedenis van Suid Afrika belang stel...

Hier is vir julle MP3's afkomstig van langspeelplate uit die vroeë jare tagtig. Dit beeld die geskiedenis van Suid Afrika
op 'n gedramatiseerde wyse uit vanaf Jan van Riebeeck to republiekwording. Daar is heelwat bekende Suid Afrikaanse akteurs se stemme gebruik om dit moontlik te maak. Ek kan nie sien dat dit iewers op die Internet beskikbaar is nie en om te verhoed dat dit verlore gaan of in die niet verdwyn kan op die volgende skakels kliek om daarna te gaan luister...dit is sowat 8 ure lank. Luister veral na die oorsake en voorbereiding vir die Groot Trek...daar is nogal baie ooreenstemmings met vandag.

Ons Lewende Geskiedenis
01 Die stigting van 'n Nedelandse volksplanting aan die Kaap
02 Die Franse Hugenote en Simon van der Stel
03 Die stryd teen Willem Adriaan van der Stel
04 Die eerste Britse besetting van die Kaap 1795
05 Die koms van die Britse setlaars en die betekenis daarvan
06 Die oorsake van die Groot Trek
07 Die voorbereiding vir die Groot Trek
08 Die moord op Retief
09 Die slag van Bloedrivier
10 Die wedervaringe van die trekgeselskap van Andries Hendrik Potgieter
11 Die slag van die wit Umfolozi en die anneksasie van Natal deur Engeland
12 Die ontdekking van diamante
13 Die uitbreek van die eerste vryheidsoorlog en die slag van Majuba
14 Die ontdekking van goud
15 Die ontstaan van politieke partye in Suid-Afrika (1902-1939)
16 Die daarstelling van die Republiek van Suid-Afrika


Friday, September 18, 2009

Soos 'n goed geoliede masjien

Ek dink nou al 'n geruime tyd daaraan om julle bietjie te wys hoe dinge hier in Australië gedoen word. Dit is alledaagse dinge soos hoe die vullis byvoorbeeld verwyder word wat soms anders werk as wat ons aan gewoond is. Daar word ook nie 'n groot kabaal opgeskop tydens die proses nie. Een trokbestuurder en een vullistrok is al wat nodig is om die strate se vullishouers sommer gou gou kaf te draf. Daar is so 'n meganiese arm aan die trok wat dan die asblik oplig en netjies in die agterkant van die vragmotor leegmaak. Jou asblik moet ook net reg staan anders slaan hulle dit sommer oor. Daar word ook nie dae oorgeslaan nie, geen rooster skuif aan vir vakansiedae nie. Somer en winter, reen en sneeu, vakansiedae of werksdae, elke Woensdag oggend is hul op hul pos hier by ons.

Wel, ek het daarin geslaag om vir julle hierdie kort video van die gedoente te bekom.



Nog 'n verskynsel wat mens hier baie sien is mos die mense wat hul eie petrol so ingooi. Aanvanklik het dit baie vreemd gelyk, maar nou kan mens jou nie eens indink dat dit ooit anders kon werk nie. As mens jou bande wil pomp, dan kies jy net die regte banddruk op die LCD skermpie en koppel die pyp, die masjien pomp dan self jou wiel op (of blaas dit af) tot die regte druk en "biep" as dit die regte druk bereik.

Nog iets wat baie verskillend werk is: hoe betaling met jou kredietkaart hier werk. Hierso gee jy nie jou kaart vir die verkoopspersoon nie, maar hy/sy gee vir jou die kredietkaartmasjientjie. Dan trek jy self jou kaart deur en tik jou pin in. Iets wat ek nogal van hou is hierdie selfbetaalpunte in Woolies. Vanoggend het ek vir my byvoorbeeld vitamine gekoop, maar ek wou ook $10 geld trek uit my rekening. Jy stap eenvoudig in die winkel in, kry dit wat jy wil hê van die rakke af. Dan loop jy na een van hierdie selfbetaal punte. Jy druk die "Begin" knoppie, "scan" die items self in, druk die "Betaal nou" knoppie, kies hoeveel ekstra geld jy wil trek, sleep jou kaart deur die gleuf en tik jou PIN in. Die ding spoeg dan jou strokie en jou geld uit en dan stap jy doodluiters uit die winkel....niemand lig eers 'n wenkbrou nie. Dis 'n baie handige manier om twee $5 note te kry vir busgeld...jy "cash out" net by die betaalpunt.

Selfde met die biblioteek: jy kies jou boeke, skandeer hulle in, plaas jou kaart op die glas en stap uit.

Monday, September 14, 2009

Ons naweek

Vanmiddag net voor ses toe ek van die bus afklim en hier in ons straat afstap huis toe, ruik die aandlug vars van die lentegeure. By een huis is 'n enorme struik wit blomme wat so vol blomme is dit lyk amper soos een groot troukoek. By 'n ander huis is daar plate Jasmyn blomme en hier en daar hang geurige seringboom bloeisels. Nog 'n week begin. Laasweek het ek nuwe Aussie vriende op die bus gemaak nadat ons mekaar nou al so lankal op die bus sien ons is al bykans familie.. Ek het ook 'n geselsie met 'n Koreaanse barista ("koffie sjef") begin aanknoop in die oggende terwyl ek vir die trein staan en wag. Haar naam is Esther, probeer gerus haar koffie.

Saterdagoggend het ek my sen weer basketbal oefening toe geneem by die Hills Sport Stadion naby Castle Towers. Hier is so 'n paar selfoon fotos.



Omdat die weer nou al baie lekker warm is (die seisoen het nogal vinnig gedraai), het ons besluit om 'n paar hot-dogs in 'n piekniekmandjie te pak en by Freshwater Strand bietjie gaan sit op die strand. Ek het so honderd meter of wat in die see gaan snorkel en toe maar weer uitgeklim, siende dat daar nou nie juis visse is om oor huistoe te skryf nie. Nogtans was daar heelwat mense op die strand soos julle in die volgende foto kan sien.



Saterdagaand het ons weer bietjie ekstra dik "Rump" steak op die ou gas vuurtjie gegooi en Sondag het ons by die Muogamarra natuurreservaat gaan stap.

Wat dink julle van die fotos wat ek van die Waratah blom geneem het. Dit is mos New South Wales se "nasionale" blom en ook die kenteken van die gelyknamige rugbyspan.




Daar is ook soeen plek waar mens ietwat van 'n uitsig oor die Hawkesbury rivier het.


Hier is 'n foto van 'n miernes in 'n boom. 'n Mier boomhuis, of is dit nou 'n boom miershoop?



Dan wil ek julle ook bekendstel aan ons vriende vanaf Spanje. Hulle het hulle ook nou permanent hier in Aus kom vestig. Gaan lees bietjie Carina se blog by sonrisa.blogspot.com.

Sunday, September 13, 2009

Ysskaats

Ek en die kinders is Vrydagaand bietjie na die Sydney Ice Arena hier naby ons in Baulkham Hills. (Dit is feitlik by Hillsong.) Ek belowe my seun nou al 'n geruime tyd dat ons sal gaan.

Dit was die eerste keer wat ek my ysskaatse in Australië gebruik het. Die sessie het so 19h30 begin en het geloop tot 22h30. Daar was heelwat minder mense op die baan as wat ek gewoond is vir 'n Vrydagaand. Ek het op skool sommige jare meer as 100 keer per jaar by Sterland gaan skaats...was so bietjie verslaaf daaraan. Later jare het ek veral baie by die Kolonnade winkelsentrum gaan skaats.

My seun het goed reggekom, dit was ook sy eerste keer hier in Oz. My pops moes ek so bietjie help, want sy het aanvanklik op die ys rondgetrippel, maar na so 'n paar rondtes kon sy die skaatse beter stilhou en het toe makliker beweeg sonder om te wil val terwyl ek haar hand vasgehou het. Mens moet jou ook nie te gereëld probeer vorentoe maak nie, want dan verloor jy makliker jou balans. Die "trick" is om afwisselend jou gewig valledig tussen jou twee bene te verplaas en dan met die ander voet wat nie die gewig dra nie jouself vorentoe te stoot. Mens moet eerstens konsentreer om jou skaatse so regop moontlik te hou, want die skaatse vang 'n baie dun lagie gesmelte ys onder die skaats se lem vas en laat jou makliker vorentoe beweeg. Jy moet ook so bietjie vorentoe buk, want dan val jy moeiliker agteroor en jy kan ook makliker jou balans hou. Mens kan selfs skaats deur glad nie jou voete eens op te lig nie, maar eenvoudig die skaatslemme effens na buite te druk of jou bene met so 'n golfbeweging heen en weer te beweeg.

Daar was so 'n paar kolligte en laser ligte. Die musiek was nie buitensporig hard nie en daar was ook nie spesifieke spoedskaats sessies nie.

Die prys is so om en by dieselfde as vir 'n fliek hier in Oz en dit sluit skaatse in.

Hier is so 'n paar ge-"blurde" fotos wat ek met my selfoon kameras langs en op die ys geneem het.





Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings