Thursday, February 12, 2009

Die skuldige is dus....

Dit wil vir my nou voorkom asof die skuld vir die grootskaalse lewensverlies in die vure in Victoria deels voor die voete van die stadsrade van Victoria gelê kan word, wat die ondeurdagte wetgewing ingevoer het dat inwoners nie toegelaat word om bome verder as 6 meter van huise vir brandvoorkoming af te kap nie. Lees bietjie hierdie storie van hierdie dapper man wat bereid was om 'n boete van $100 000 te betaal aan die stadsraad (en as 'n vyand van die "Green" beweging en natuurbewaring gebrandmerk te word), ter wille van sy familie se veiligheid. Nou na 7 jaar blyk dit dat hy al die tyd reg was om 'n 100 meter ontboste zone rondom sy eiendom af te kap. Sy huis is een van die min huise wat nog staan. Die mense se hande was afgekap om hul eie huise te beveilig teen hierdie veldbrande.

Tuesday, February 10, 2009

Hoe vlug 'n mens voor 'n muur van vuur wat teen die spoed van 'n goederetrein oppad is na jou huis?

Hoe vlug 'n mens voor 'n skrikwekkende muur van vuur wat teen die spoed van 'n goederetrein oppad is na jou huis? Dieselfde vuur wat net minute gelede nog op die horison was....

Die onstellende spoed waarteen die muur van vlamme hele dorpe in Victoria verswelg het, is waarskynlik die rede waarom meer as 181 mense tot op hierdie stadium oorlede is in die ergste bosbrande in Australië se geskiedenis. Groot getalle mense is binne in hul huise en selfs in hul motors doodgebrand omdat hulle eenvoudig nie vinnig genoeg kon vlug voor hierdie vlammehel nie. Families van tot 6 is op een slag dood in hul motors. Heeltemal onkant betrap.




Daar is steeds vure wat woed. 'n Gebied van meer as 3500 vierkante kilometer is tot kole verbrand, meer as 770 woonhuise is vernietig : 770 families het alles verloor en na ramings kan tot meer as 250 mense uiteindelik gesterf het.

Hier is 'n kaart van die gebied wat geraak is.

Gaan lees bietjie hierdie persoon se storie van oorlewing.

Daar is vele sulke stories - wat nogal 'n aanduiding is van die omvang van hierdie mense-slagting. In sommige dorpe soos Kinglake is feitlik die hele dorp en omgewing uitgewis (550 huise). Hierdie mense het niks oor nie. Hulle kan nie eens wys wie hulle is nie - alle vorms van dokumentasie of selfs geld moes agtergelaat word - hulle het NET met hule lewens daarvan afgekom...maar vele het nie. In die geskarrel om te vlug is baie deur takke en bome wat omgeval het vasgekeer en motors het in die rook en vlamme van die pad af gery en ongelukke gemaak.

Lees ook hierdie berig in Melbourne se koerant The Age.

In al die koerante is dit die hoofberig.
Dit is veroorsaak deur 'n sameloop van baie warm klimaat en moontlik brandstigting.
Hierdie tragedie kom op dieselfde tyd wat daar ook vloede in Queensland is.

Kyk bietjie na die volgende foto video, let veral op die ysingswekkende muur van vlamme:


Hier is nog 'n video:


Indien dit wel veroorsaak was deur brandstigting...hoe leef daardie persoon met hom saam, met iets wat die eerste minister Kevin Rudd as Massamoord bestempel?



Mense in Australië kan aanlyn kredietkaart donasies maak aan onder andere die Salvos (Salvation Army) se 'Appeal' vir die Victoria Bosbrande. Die geld gaan die mense in die krisis help om hul lewens vanuit die as te herbou. Inligting oor hoe om by te dra kan ook by die Rooikruis se webtuiste verkry word. Daar word reeds berig dat daar hulp instroom van regoor Australië - die land se mense se reaksie op die hulpoproepe was sover oorweldigend!

Monday, February 02, 2009

So gesond soos 'n vis in die water


Soos 'n vis op droë grond. Dis mos hoe mens voel as jy nie in jou natuurlike omstandighede is nie. Soos 'n Suid Afrikaner in Australië, moet hulle eerder sê. Wel, ek het myself weer die afgelope ruk "man of Atlantis" gehou. Ons probeer om elke druppel uit hierdie somer te put. As jy ons kry, dan was ons weer by die see. Ek swem skoon dat die krampe sommer sulke knoppe op my bene uitslaan...hehe. My arme vrou het nou al werklikwaar begin moeg word vir die baie drywery by die strand.

Maar ek het hierdie keer vir julle 'n verrassing...van nou af kan ek vir julle onderwater fotos wys wat ek met my eie kamera afgeneem het. Die plante en visse wat mens sien is soms so mooi, jy wens tog net jy kon dit met iemand deel, sodat ander ook kan ervaar wat jy ervaar. Een ding wat ek egter nou agtergekom het: 'n vis is vrek kamerasku. As jy gedink het dis 'n kuns om voëls af te neem - wel, dan is dit 'n gelukskoot om 'n vis afgeneem te kry. Jy sien 'n vis...dan probeer jy dit soek op die klein skermpie op die kamera en terwyl jy nog so besig is om met die knoppietjies te vroetel, dan is die vis skoonveld! Benewens die feit dat jou foto onderwerp hom uit die voete maak, beweeg jy self soos 'n half dronk ou wat deur die golwe heen en weer deur die seegras gesleep word.

Julle onthou seker nog ek het julle vertel van die Wobbegong wat ek by Freshwater Beach gesien het, wel hierdie keer het ek sommer vir julle 'n video van 'n pylstert sandvis (Sand Ray), wat ek net so 50 meter van die strand af geneem het by die einste Freshwater Beach.

Ek het nog so rustig na die vissies onder my gelê en kyk, toe ek meteens 'n allamintige pylstertvis na my aangeswem sien kom. En net om te bewys dat ek nie besig is om soos ou Oom Kaspaas met julle die draad te steek nie, hier is die MOEWIE...


En so 'n paar bewerige fotos:

Verskoon maar as die kwaliteit nie na wense is nie, maar dit was my HEEL EERSTE ONDERWATER fotos, en daarby nog geneem met 'n miniatuur digitale kameratjie. Praat van 'n gelukskoot! Hierdie einste pylstert visse beweeg soos "Ballroom" dansers deur die water deur met hul lywe soos met Spaanse Bal-dans-rokke, so 'n grasieuse golf te maak en dan net so voor jou oë onder die sand te verdwyn.

Nog 'n vis wat nogal bra skugter is, is die Clovelly Bluey of Eastern Blue Groper. Dit laat my nogal aan die Potato Bass by Sodwana dink. Dit is omtrent so meter in lengte en so 30 cm hoog en dit het 'n helder blou kleur. Sodra jy naderkom soek die vis vir hom wegkruipplek êrens in 'n rotsskuiling, maar as jy lank genoeg lê en wag, dan kan die vis nie sy nuuskierigheid hou nie en kom uit om te sien wie dit is wat soos 'n pelsrob bo hom ronddobber.

Die volgende paar fotos het ek van so 'n Blue Groper geneem, dit was omtrent so 4 meter onder my.
Ek dink die volgende foto met die heldergroen seegras en geelkoper kelp het nogal goed uitgekom.



Hier is 'n video van die meneer:


Ek is elke keer wat ek snorkel verstom oor die besondere helder kleure van die plante onder die water. Net soos in die veld of in die bos, kan mens ook duidelik sien dat die visse defnitief met kamofleuring aangepas is vir hulle habitat. Probeer bietjie die vis in die volgende foto onderskei...kliek dan op die foto om te sien waar hy wegkruip.

Hier is nog so 'n ontsnapkunstenaar...


Die rotse onderwater is egter nie soos by 'n koraalrif met 'n leeragtige koraal bedek nie, eerder 'n soort groen alge.


Op ander plekke lyk die seeplante weer amper soos 'n baie slordige "doilie" wat so half uitgerafel het...
Onthou julle ek het vir julle vertel van die "puffer" vis met die luiperd kolle, wel hier is die kalant:

Maar vir my is die mooiste onderwater plante die goudgeel kelp en die heldergroen seegras:



Die onderwater seegras en kelp wat so deur die golfbeweging heen en weer meegesleur word, herinner mens sterk aan die golwende streling van wind wat oor 'n koringland speel. Hier is vir julle 'n video van hoe die plantegroei onder die water hier by Freshwater Beach in Sydney lyk:


En daarby kan julle ook na al die volgrootte fotos in die volgende foto vertoning gaan kyk.
Maar ek het dit ook vir julle hieronder geplaas:


Ek hoop julle het die fotos geniet.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings