Monday, January 26, 2009

Braai langnaweek

Dit was hierdie naweek braai naweek hier in Australië. Dis mos tradisioneel die gebruik om oor die Australia Day langnaweek die' dinge te doen wat vir die Aussies naby aan die hart lê:
braaivleis en krieket. Hulle doen dit nou wel so bietjie op die 'kul' manier deur net die gas-skakelaar te draai en nie soos ons 'experts' wat dit op 'n kole vuur doen nie. Dan is daar ook natuurlik die see, branderplank-ry en in die son lê om hulself en hul velle gaar te kry. Daar word regoor die land feeste gehou om die voorreg te vier om hier te kan bly. Meer as 13000 mense lê die eed af om hul burgerskap sertifikate te kry (waaronder die bekende sanger en liedjieskrywer Leo Sayer - wat 'When I need you' geskryf het) en in Sydney hawe hou hulle 'n veerboot resies waaraan honderde bote deelneem.

Ons het die naweek maar 'n tjoppie op die braaier gegooi en die naweek hoofsaaklik by die see deurgebring. Vandag op die publieke vakansiedag is ons reeds vroeg by 'n strand gewees wat ons nog nie voorheen besoek het nie: Apex Park, by Mona Vale strand. Dit is deel van die Aquatic Reserve in daardie omgewing. Ons het besluit om vroeg al bietjie ontbyt daar te gaan maak en die dag net rustig te verkeer...weg van die skares.

Hier is die 'manne' besig om die eiers en spek te braai.



Die dag was aanvanklik 'heerlik bewolk', en ons het vroeg al ons parkeerkaartjies gekoop en in die motors opgesit. Daar is hier mos sulke omies wat al die strande patrolleer en heftige boetes uitskryf as jy nie betaal nie. Dit kos gemiddeld $4 per uur vir parkering...en 'n dag se parkering is MAKLIK $16 (dis nou soos om meer as R100 te betaal). Hier is 'n foto van so 'n omie wat ek van agter bekruip het.


Ek het later vir hom gesê: G'day. Happy Australia Day. En dit was vir hom genoeg om dadelik te weet ek is van Suid Afrika... Hoe uniek is ons nie!

Soos ek gesê het...branderry is vir die Aussies baie belangrik en hulle begin hulle kinders al leer balanseer op 'n branderplank terwyl hulle nog in die doeke is....

Hierdie dogtertjie het op die strand langs ons gesit en toe die branderplank kom 'uittoets'.

Natuurlik is daar DUISENDE lewensredders met hulle rooi en geel swempette oral by die strande aan diens en hulle ry gedurig met hulle quad-bikes heen en weer om te kyk of daar nie miskien iemand is wat hulle uit die water kan red nie. Vandag was die grootste gevalle egter sonbrand.

Ek moes my net vandag inhou om nie my Australië vlag T-hemp aan te trek nie, want gewoonlik weet almal dan ek is van oorsee. Maar vandag sou ek maar net een van vele gewees het, want die Australiese vlag was oor alles en nog wat gedrapeer: motor antennas, motor kattebakke, huis vensters, vlag hoede, vlag swembroeke, as mantels en selfs op supermark stootwaentjies. Hulle het selfs Aussie vlae op hul getatoëer!











Nog 'n paar interessant gebeure rondom sport hierdie naweek was:
Op hierdie oomblik reën dit saggies buite hier waar ons bly. Ons is tog te dankbaar van hierdie afgelope week was die temperature 40 grade en hoër. Dit het kompleet soos in Beaufort Wes in die somer buite gevoel.

Lekker week vir julle verder.

Saturday, January 24, 2009

Die morestond het goud in die MOND

Dis nou "Sydney Festival" tyd, wanneer die hele Sydney in een groot kunstefees verander. Daar is selfs 30 klaviere oral in Sydney stad neergesit sodat wie ook al wil kan sit en speel vir wie ook al wil luister.



Soms doen ons mos sulke lawwe dinge, jy weet, soos om 03h25 (ja, jy het reg gelees, vyf en twintig oor drie) in die oggend op te staan om saam met duisende ander mense na die sonsopkoms op die strand te gaan kyk. Dis nou wat ons vanoggend gedoen het. Ons het al twintig oor vier gery om plek te kon kry op die strand by Clifton Gardens naby Manly. Toe ons so 04h50 daar kom was daar alreeds meer as honderd puntsmanne op hul pos om die toevloei van verkeer te reguleer met helder stokkies wat gloei in die donker. Omtrent die hele grasperk by Clifton Pleasure Grounds was toe omtrent al vol motors geparkeer. Van ons vriende wat saam met ons gekom het, moes 700 meter voor die ingang parkeer om parkeerplek te kry. Daar was BAIE mense, duisende, maar ek het nie juis kon tel nie. Weet net hulle het tot oral op die "jetty" gestaan om 'n kyk en luister plek te kon kry. Sommige mense het op kanoe's aangeroei gekom om soos Jesus van ouds op die skuite te sit en luister na die koormusiek. Die Dawn Chorus het bestaan uit die Sydney Philharmonia koor wat opgetree het en musiek gesing het wat blykbaar spesiaal (amper soos in die fliek August Rush) vir die okkasie gekomponeer is. Dit was 'n gratis vertoning en oral was daar families met of hondjies of kinders.

Ons was, soos meeste mense, al voor sonopkoms daar en het vir ons en ons vriende plek op die sand uitgesoek. Ons kon die strelende, stadige ritmiese herhaling van die golwe op die strand hoor terwyl daar 'n gesellige gekuier van almal om ons op die strand was.



Terwyl die musiekstemme die opkomende son verwelkom het, het duisende mense stil gesit en luister en na elke lied luide applous gelewer. Die uitvoering het aangehou tot so half sewe,



Die sonsopkoms was, met die baie wolke in die lug, natuurlik asemrowend. Ek weet nie wanneer laas ek so baie families gesien het wat so vroeg in die oggend gelyktydig na koormusiek gesit en luister het, en na die opkomende son gekyk het nie - nog nooit.



Hier is 'n slideshow van die fotos.

Monday, January 12, 2009

"Somewhere below the surface. That's where you'll find me"

Die nuwe jaar lê op die voorstoep, amper soos 'n ongewenste baba wat net daar vir ons gelaat is vir ons om te versorg. Wat ons met die baba gaan maak hang van ons af.

Ek het laas winter besluit dat ons geen enkele somersdag mag vermors nie. Wanneer die winterkoue hier is kan ons dan terugkyk en weet dit was 'n goeie somer gewees. Ons is uiters bevoorreg om so naby aan 'n stad te bly met uitstekende swem, surf en snorkel strande. Naweke as mense ons dus sou soek is die kans baie goed dat ons by die see sal wees.

Ons het nooit voorheen in ons lewe by die see gebly nie. Ons het gewoonlik net een keer per jaar by die see gekom op 'n jaarlikse vakansie...en dit na 700 km se ry. Dan het ons soms, selfs al het dit gereën, soos bittereinders in ons skuilinkie op die strand die slegte weer trotseer omdat ons baie vêr moes ry om daar te kom en ons niks in ons pad sou laat staan om op die strand te kon wees nie. Nou is dit egter anders: ons bly net 'n hantreetjie van die strand af en die weer is heerlik sonskyn, dis nog helder lig tot na half nege in die aand en die branders is perfek. Ons het so baie om van te kus en te keur:

  • ons kan gaan boogey board ry by Curly beach (Curl Curl) of baie ander strande
  • ons kan gaan snorkel by Freshwater Beach, Clovelly of nog baie ander
  • daar is baie getypoele by die strande om in te swem
  • ons kan gaan fietsry of rollerblade in Dee Why Beach
  • ons kan gaan stap in die woud of langs die see
  • ons kan gaan kajak op die see of by die "Creek"
  • ons kan gaan piekniek hou by een van baie parke soos Lane Cove Natuurreservaat of by die Botaniese tuine
  • ons kan gaan swem by een van baie onderdak waterparke
  • die weer is sonnig, sonnig, sonnig - ek is so bly ons is in Sydney!
Hier is 'n foto van Clovelly Bay waar ons twee weke gelede gaan snorkel het:


Clovelly is by uistek geskik vir mense wat wil begin snorkel. Dit is in 'n baai wat geheel en al beskut is met 'n muur van rotse teen die inkomende branders.

Die afgelope twee naweke was ons weer by Freshwater Beach (Queenscliff Bay) net suid van South Curl Curl. Dit is minder beskut, maar die vis en plant diversiteit is baie meer. Aan die linkerkant van die strand, net regs van die getypoel kan mens 'n magdom van visse, koraaldiertjies en seeplante sien. Hier is so 'n paar fotos.


Toe ons twee weke gelde daar was was daar duisende, en ek jok nou nie, etlike duisende klein vissies van elke soort. Selfs daai neon vissies wat mens altyd in die "pet-shops" kry. Ek is nog nie 'n kenner van visse nie, maar ek is doodseker Freshwater Beach se rotspoele is waar 'n groot hoeveelheid visse kom om eiers te lê en te broei. Oral waar jy kyk was skole van vissies meer as wat jy kan tel. Toe ons gister weer daar gekom het, kon mens sien dat baie van hierdie vissies nou groter is. Bykans verdubbel het in grootte.

Ek was gister besonder gelukkig, want ek het sommer 'n hele paar verskillende visse gesien wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Toe ek net in die water kom het ek nader geswem waar ek gesien het 'n paar mense "spear-fishing" gedoen het. Die water was daar so om en by 7-10 meter diep. Tussen die kelp aan die onderkant het ek 'n Wobbegong haaitjie van so 1.5 meter lank gesien swem. Hy het redelik vinnig weggeskarrel. Ek het mos vir julle vertel van die PJ wat daar by Murray's Beach se rotse was. Dit was vir my 'n baie opwindende oomblik. Gaan lees oor hulle by Wikipedia. Wobbegongs swem soos sandhaaie naby aan die bodem, en het 'n gesig wat mens baie aan 'n brulpadda laat dink.


Hulle is ook op 'n lys van bedreigde spesies. Ek het hierdie keer baie manhaftiger geword, want ek het heelwat dieper die see in geswem (maar nie veel verder as so 50 meter nie). 'n Entjie verder het ek ook 'n ander haaitjie gesien van so 40 cm lank. Hy het meteens uit een van die baie diep valleie onder die water te voorskyn gekom en vinnig oor die rotse na bo geskarrel (ek noem dit sommer 'n catfish haai, want hy het vir my so gelyk, maar ek weet nie watse haai dit was nie, ek onthou net die kenmerkende rugvin). Mens is aanvanklik nogal geskok om 'n haai te sien. Jy kan dadelik ervaar hoe jou hele liggaam vol adrenalien gepomp word, maar dan kom verwondering aan hoe wonderlik dit is en jy kry respek vir hoe perfek die Here dit alles gemaak het. Daar is 'n soort van 'n kalmte in mens as jy so in verwondering op die water ronddryf. Jy staar en verkyk jouself aan dinge wat vir jou amper te goed is om waar te wees. Jy probeer elke sekonde ten volle bewus word van alles wat om jou aangaan...dit alles inneem en in jou geheue stoor. Ek swem ook sommer kaalvoet met met wetsuit aan, want die groter vinne skop te moeilik as jy op die oppervlak dryf. Die wetsuit laat jou heerlik dryf en mens voel soms soos 'n "skydiver" want jy dryf heeltemal sonder inspanning terwyl jy sien hoe diep die see onder jou is. Soms voel dit asof jou tone wil omkrul van lekkerkry oor alles wat mens sien. Maar vandag is my armspiere moeg hoor!

Baiemaal is die heel beste manier om baie visse te sien om eenvoudig net stil op die oppervlak te lê en wag. Op hierdie manier sien mens baie meer raak as wat mens normallweg sou. Jy raak bewus van die pragtige omgewing onder jou en leer om die seebodem te waardeer net soos wanneer mens in 'n woud jou instel om al die voëlklanke te waardeer. Ek het gister ook gesien dat daar honderde klein (tot sowat 5 cm) jellievissies rondom mens dryf. Hulle is feitlik heeltemal deurskynend, en daarom sien mens dit nie sommer as jy nie mooi oplet nie. As jy met jou vinger aan hulle raak, begin hulle vinnig wegswem deur geringe pompbewegings.

Nog iets wat ek nie voorheen gesien het nie, maar ek baie verbaas was om te sien, was 'n tipe pylstertvis of "Ray". Ek is redelik seker dit was nie 'n "Manta Ray" nie, en ook nie 'n "Sting Ray" nie. Ek het al gelees van 'n "Eagle Ray", maar hierdie een was vir my te klein. Hy het op die bodem gelê en dan so 'n Mexican wave met sy lyf gemaak totdat hy heeltemal in die sand verdwyn. Dit was so 40 cm in deursnee. Kom ons noem dit maar 'n "Sand Ray", want ek ken nog nie al hierdie visse nie. Hy het wel 'n stert gehad.

Ek het ook gister 3 inkvisse / "Squids" gesien van so 30cm lank. Hulle beweeg ongelooflik vinnig deur die water. Sodra mens nader swem maak hulle hulself uit die voete. As jy nie mooi kyk nie lyk hulle amper soos gewone visse. Binne 'n paar minute hiervan het ek ook 'n kleinerige seekat op die bodem sien beweeg. Dit lyk amper maar soos 'n klomp seegras wat opmakaar gebondel is, maar dan sien jy dit beweeg voetjie vir voetjie vorentoe.

Een van my gunsteling vissies is die puffer fish. Sy hele lyf lyk of dit met 'n luiperdvel bedek is - die ene kolle. Daar het veral baie van hulle naby die strand voorgekom waar hulle die los stukkies seeplante eet. Hulle lyk amper soos in die onderstaande foto.


Julle weet mos daai een deel in "Finding Nemo" waar daai groot skole visse so in gelid swem en dan soos 'n massiewe groot vis lyk, wel ek het ook gister dit in die kleine beleef. Hulle was nou wel nie so massief nie, maar daar was genoeg om soos 'n vis van so 4 meter groot te lyk. Ek het my skoon moeg geswem agter hulle aan. Almal omtrent so 2 cm uitmekaar gespasieer, het in perfekte gelid geswem, eers hierdie kant toe en dan daardie kant toe....en heeltyd lyk dit soos een groot entiteit wat onder die water rondswem.

Daar is ook "Neons" wat omtrent so 12 cm groot is, wat lyk of dit onder 'n "fluorecent" lig swem. Ek het nooit voorheen besef jy kry sulke grotes van hulle nie!

Daar was ook die pragtigste seegras, grasgroen, met so 'n jellierige tekstuur, tussen die geelkoperkleurige kelp. Dan is daar weer geel en groen gekleurde visse wat perfek gekamoefleur is tussen hierdie geel en groen onderwater landskap. Ek wens ek kon dit vir julle wys...

Net soos in die fliek Australia se kenwysie, is ek in verwondering. Eens op 'n tyd het ek hiervan gedroom.

Somewhere, Over the Rainbow


Somewhere over the rainbow - Luiza Possi


Somewhere over the rainbow
Way up high
There's a land that I heard of
Once in a lullaby

Somewhere over the rainbow
Skies are blue
And the dreams that you dare to dream
Really do come true

Some day I'll wish upon a star
And wake up where the clouds are far behind me
Where troubles melt like lemondrops
Away above the chimney tops
That's where you'll find me

Somewhere over the rainbow
Bluebirds fly
Birds fly over the rainbow
Why then, oh why can't I?
Some day I'll wish upon a star
And wake up where the clouds are far behind me
Where troubles melt like lemondrops
Away above the chimney tops
That's where you'll find me

Somewhere over the rainbow
Bluebirds fly
Birds fly over the rainbow
Why then, oh why can't I?

If happy little bluebirds fly
Beyond the rainbow
Why, oh why can't I?

Thursday, January 01, 2009

2009 breek aan in Sydney

Die aanbreek van 'n nuwe jaar is weer soos gewoonlik op 'n skouspelagtige manier ingelei deur 'n vuurwerk vertoning uit 'n ander wêreld. Daar is 'n enorme 5000 kg vuurwerke afgevuur in Sydney hierdie keer:
22 000 vuurwerke en 100 000 spesiale vuurwerk effekte, teen 'n koste van $5 miljoen.
Dit was ook gesinkroniseerd met musiek.

Hier is so 'n paar videos van die skouspel:


Julle kan ook hier kliek vir die Hoë Definisie weergawe as julle wil.


Hier is dit ook in Hoë Definisie.

Voorspoedige 2009 vir julle almal!

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings