Thursday, December 25, 2008

Uitspan op Batemans Baai

So op die einde van nog 'n jaar besluit ons toe nou mos om bietjie te gaan uitspan by die suidkus. Ons is mos nou weer gerat om sulke ekspedisies te kan uitvoer...soos om in 'n karavaan- of kampterrein te kan gaan bly as ons met vakansie gaan. Op hierdie manier kan mens altyd baie nader aan die see of die natuur kom, omdat meeste karavaanparke hier mos sommer binne in natuurreservate geleë is.

Ons wou al lankal gaan kamp het, want dis hoe ons dit daar doer in die Bosveld of in die Drakensberge gedoen het, maar ons kon tot nog toe nie die tentpenne en kanpvrieskas ingepas kry nie. Ons het besluit om eerder die Suidkus as die noorkus aan te durf: omdat ek dink dat die noordus oppad Brisbane toe meer onvoorspelbare weer en reën het hierdie tyd van die jaar...ek wil ok nou nie met die eerste keer se kamp in Aus sommer in 'n haelstorm of 'n vloed beland nie! En daarby wou ons my skoonma bietjie die plekke soos Jervis Baai gaan wys het waar ons voorheen was. Batemans Baai is net 'n ent verder suid. Oppad soontoe het ons by so 'n paar padstalletjies naby Kangaroe vallei gestop en van die tuisnywerheid se handewerk gekoop.

Om in 'n karavaanpark te kan bly is ook heelwat goedkoper per nag as om in 'n "sjalet" te bly. So het vroulief toe vir ons vir 7 dae bespreek by die Suid Durras Big4 Karavaanpark naby Batemans Baai. Mens word 'n lid van Big4 se klub, en dan kry mens ook nog 10% spaar op die kampfooie.

Ons het letterlik tussen die kangaroos gekamp. Hulle wei dwarsdeur die nag in die kamp. Dan is daar ook Possums wat soos die bobbejane in die bosveld jou kos wil kom steel in die nag, so mens hou maar alles binne in die tent. Voëls is daar volop: kookaburras, swart kaketoes, rosellas, reënboog lorikeets, magpies (hulle kan vir jou nou bedel en "moun" hoor) en poue wat oral rondstap in die kamp en hulle eienaardige geluide maak.

Hier is 'n foto van die "locals": Die kennisgewingbord laat die situasie nogal komies lyk.

In die oggende vroeg word mens deur die kookaburras se aapgeluide begroet en dwarsdeur die dag kan mens die geluid van Magpies hoor. Die gedruis van die see is klokhelder omdat die kamp net agter 'n duin lê met die heerlikste boogey-board strand!

Hier is 'n video van 'n klein kangaroetjie wat uit sy ma se buidel lê en gras vreet...


Ons het daarby ook nog by Depot Beach en North Head Beach gaan snorkel. Veral by North Head was daar uitstekende rotspoele vir snorkel. Nadat ek die effense skrikkerigheid vir haaie afgeskud het, het ek heerlik op die oppervlak van die see die mooi wêreld so tussen 2 meter en 8 meter onder my gelê en betrag. Daar was skole van so 20 visse wat sommer hier digby jou verbyswem. Ook "puffer" vissies en dan weer heelwat groterige visse van so 40cm groot. Hierdie keer het ek nie weer 'n PJ (Port Jackson Haai) gesien nie. Die omgewing is in die Murramarang natuurreservaat en 'n mariene park en dus is daar heelwat vis en seediertjies. Ek het minder "sea urchins" gesien en meer diertjies wat soos koraaldiertjies lyk. Hier is die presiese posisie by North Head waar ek gesnorkel het en ook by Depot Beach. Daar is heelwat kelp en 'n magdom skulpe onder die water by North Head strand.

Een aspek van kampeer by 'n karavaanpark wat die kinders baie geniet is al die maats wat hulle ontmoet. Elke aand wys die park vir die kinders fliek op 'n grootskerm TV naby die klimrame. Dan vergader al die kinders bymekaar en mens weet omtrent nie van hulle nie - kom eers tent toe as hulle begin honger word. So ontmoet mens dan ook weer nuwe mense, want die ander kinders kom vra of ons spruite saam met hulle kan "beach" toe gaan. Daar was mense van Wollongong, Sydney en selfs ander oud-Durbaniete wat nou in Albury bly. Oral waar ons kom ontmoet mens Suid Afrikaners, want ons het baiemaal dieselfde belangstellings en dan kuier ons te lekker...soos ou vriende. Daar is omtrent 'n klomp nasies...regs van ons was 'n hele familie Duitsers (seker op vakansie van oorsee af, want self die kinders praat net Duits met mekaar), 'n familie rou Franse links van ons, ander Suid Afrikaners en Aussies van Sydney.

Ons het die week by die see werklikwaar baie geniet. Ek en my seun het saam die branders gery, want ek het vir hom ook 'n klein wetsuit gekoop. Hy kry nou al die boogey-boarding goed reg.

Ek het vir julle die fotos opgelaai wat ek geneem het van die week. Julle kan ook met die link na die fotoalbum gaan. Geniet.



Nou ja, dis nou eers genoeg. Ek kry nou al die reuke van ons kersfees ete in my neus. Lekker kersfees vir julle.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings