Thursday, November 27, 2008

'n Unieke kans om die vaandel te dra

Ek het hierdie week 'n baie unieke geleentheid gehad. Julle weet mos dat ek in die vorige bloginskrywing berig het dat daar laasjaar 'n totaal van 205940 permanente Australiese werkspermitte (visas) aan mense uitgereik is. Van hierdie getal was daar 65404 mense aan wie die Skilled Independent Visa as die primêre applikant toegeken is as gevolg van hul vaardighede.

Die Australiese Departement van Immigrasie en Burgerskap (DIAC) het op 7 November 2008 aan 'n diverse groep van nagenoeg 2500 vanuit hierdie mense aan wie in die laaste 18 maande 'n Skilled Independent visa toegeken is 'n meningsopname vraelys gestuur. Die vrae het gehandel oor die "Parent Migration Visa".

Omdat daar vir al hierdie 205940 mense net 2000 (ja NET tweeduisend) plekke per jaar beskikbaar is op die gewone "non-contributory parent" visa, is daar huidiglik 'n wagtyd van meer as 10 jaar!
Dit is hoe lank hulle kan verwag om te wag voordat jou ouers se aansoek eers in ag geneem sal word!
Daar is egter 'n ander opsie genaamd die "contributory parent" visa wat oop is vir diegene met baie geld - om hul pad in Australië in te koop. In hierdie klas visa is daar darem 6500 plekke beskikbaar en aansoekers kan verwag om na tussen 18 maande en 2 jaar in aanmerking te kom vir 'n visa. Dt kom egter teen 'n prys: $ 35560 per persoon.
Dit werk huidiglik nog uit op sowat: R 231 140 per persoon! Dus, indien beide jou ouers hiernatoe wil kom met hierdie visa is dit dus: R 462 280

Dit is dus te verstane dat hierdie toedrag van sake die gevoelens jeens die Immigrasie Departement laat hoog loop. Jy kom hiernatoe en gee die beste van jou jare en die sweet van jou aangesig, maar jy kan nie eens die mense wat naby aan jou hart lê hiernatoe laat kom nie.
Indien jy egter die gewone visa roete volg, beteken dit dat jou ouers vêr gevorderd van jare kan wees voordat hul aansoek eers na gekyk gaan word!

Die immigrasie departement is dus besig met 'n meningsopname onder die permanente visa houers om te hoor wat hul gevoelens is jeens hierdie buitensporige hoë koste van die "contributory parent visa" asook die baie lang wagtydperk om jou ouers hier na Australië toe te kan laat kom op die gewone "non-contributory parent" visa.
Baie van julle het dalk ook hierdie vraelyste gekry. Aangesien die aantal Suid Afrikaners wat onder die totaal is sowat 7762 is, is die persentasie wat moontlik so 'n vraelys gekry het (indien dit gelykop toegedeel is aan al die lande), sowat 7762/205940 => 3.78%, wat op 'n totaal van sowat 94 Suid Afrikaners dui. Indien mens sou kon aanneem dat Suid Afrikaners dus sowat 3.78% van die totaal uitmaak (siende dat hulle 3.78% van die primêre applikante is), beteken dit dat die aantal Suid Afrikaners wat hul ouers sal kan oorbring sowat (3.78/100) (2000+6500) = 321 is. Aangesien die primêre applikante (65404/205940)= 31.7 % uitmaak van die totaal, beteken dit daar is 0.317(7762)=2465 primêre "skilled" applikante uit Suid Afrika. Dus is die persentasie wat hul ouers sal kan saambring gelyk aan (321/2465) = 13 %, waaruit 75 reeds 10 jaar gelede aansoek gedoen het en die oorblywende 245 vrek baie geld sou moes betaal.

Julle kan gerus julle kommentaar byvoeg by hierdie blog indien julle dalk ook hierdie vraelys gekry het. Die navorsing is deur 'n groot marknavorsingsmaatskappy behartig.



Nou ja, omdat ons baie sterk voel oor hierdie toedrag van sake het ek toe besluit om my antwoorde aan hulle terug te stuur. Van die inligting wat hulle wou weet was:

  • Waar ek vandaan kom
  • Hoe lank gelede ons Australië binnegekom het
  • Wat my huwelikstatus is
  • Wat ons totale bruto inkomste is
  • Of ons 'n ouer het aan wie die permanente ouer visa toegeken is
  • Of ons daaraan dink om 'n ouer of ouers in die toekoms hiernatoe sal wil laat kom
  • Wat die ouderdomme, beroepe en lande van oorsprong is van ons ouers
  • Wat die redes is waarom ons ons ouers hiernatoe sal wil laat kom:
    Soos ondersteuning van die gesin
    Om ons kinders se kultuur en taal te bewaar
    Om ons familie te herenig
    Vir veiligheidsredes
    Behoefte aan sorg en ondersteuning
    Familie verpligtinge
  • Hoeveel geld ons per jaar sal spaar indien hulle hier by ons sou kon bly
  • Of ons bereid sou wees om die "contributory parent" visa kostes te betaal indien ons die 10 jaar wagtyd sou wou vermy?
  • Die beraamde kapitaal wat ons ouers saam met hulle sou bring na Australië indien hulle hiernatoe sou emigreer: van minder as $50000 tot meer as $1 000 000 (get real!)
  • Watter persentasie van ons inkomste ons oorsee stuur om ons ouers te onderhou waar hule bly
  • Watter persentasie van ons inkomste ons bereid sou wees om te spandeer om ons ouers hiernatoe te bring
  • Hoe belangrik dit was om ons ouer/s te hiernatoe te kon bring toe ons die besluit geneem het om na Australië te emigreer.
  • Hoe lank ons in Australië sal bly indien ons ouer/s ons nie hiernatoe kan volg nie
  • Hoeveel ons huidiglik per jaar spandeer op kommunikasie kostes met ons oorsese ouers.
Nou ja, van die 2500 persone wat die vraelys ontvang het, en teruggestuur het, het die navorsingsmaatskappy toe minder as 32 mense geselekteer om deel te neem aan 4 fokus groep sessies van 8 persone elk. Twee aande in Sydney en twee aande in Melbourne, waartydens hulle tydens interaktiewe besprekingsessies terugvoer sou kry van immigrante self. Julle kan dus sien hoe 'n UNIEKE geleentheid dit dus vir my was: 32 mense gekies uit 65404 primêre visa applikante! 1 kans in 2044 - dis 'n baie klein kans! (Maar aangesien nie almal hierdie vraelys teruggestuur het nie, is die kans waarskynlik bietjie groter. Die kans om in die 2500 te wees is:1/26, en indien 'n kwart die vraelys teruggestuur het, is die kans sowat (1/19)(1/26) amper 1/500. Nogsteeds 'n klein kans.

Dit was Dinsdag aand. Saam met my was daar persone van ten minste 3 verskillende gelowe en uit verskillende lande. Ek het grappenderwys gesê ons is amper die "United nations". Ons moes elkeen onsself voorstel, die redes gee waarom ons juis Australië gekies het en wat die redes wat waarom ons ons geboorteland verlaat het. Die redes onder die mense het gewissel van korrupsie en armoede tot misdaad in die lande van herkoms. Gou het ek besef daar is baie mense uit ander lande wat dieselfde storie het as ek. Vir almal van hulle was dit baie moeilik om hul familie en vriende agter te laat en almal verlang maar baie. Hulle besoek hulle familie tussen 2 keer per jaar tot 1 keer in 2 jaar en baie worstel met die hoë koste of wagtyd van die "parent" visas. Ons is vertel dat die mense tydens beide sessies dieselfde bekommernisse gehad het. Elkeen van ons is geleentheid gegee om in diepte ons teleurstelling, griewe en voorstelle te gee. Die onderhoudvoerders het fluks notas geneem - notas wat nou hopelik onder die regte oë sal kom en waarvan die immigrasie departement kennis sal moet neem.

1 comment:

  1. Dankie dat jy ons verteenwoordig, jou moeite word waardeer!!!

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings