Thursday, October 09, 2008

Snorkel en paddle-ski by Pêrelstrand en bodyboard by Curl Curl

Een van die weggesteekte skatte hier in Sydney moet sekerlik die klein strandjie genaamd Pêrel-strand (Pearl Beach) wees. Ons was gister daar gewees met ons kinders en vriende wat hier vir ons kuier uit Suid Afrika. Sommer ons bure se paddleski geleen en die pad gevat daarnatoe ;-)

Ek neem nou omtrent elke keer as ons see toe gaan my wetsuit saam. Die seewater is al warm genoeg dat mens met 'n baaikostuum kan swem, maar as jy lekker lank in die water wil bly is 'n wetsuit net die ding. So 'n 3 mm dik een is voldoende, maar sommige dae is ek bly ek het 'n 5mm een, want dan kan mens amper heeljaar in die see swem hier. Ek het my duikbril en snorkel aangetrek om so aan die kant van die baai by die rotse rondgedobber. 'n Mens dryf mos heerlik lekker met 'n wetsuit, dis asof jy net nie kan sink nie. So vanaf die oppervlak betrag jy dan al die seeplante wat so heen en weer wieg onder jou in die water. Dit het nogal 'n hipnotiese uitwerking op jou. So het ek 'n hele ruk net gelê en die verskillende kleure seeplante onder die water gelê en gadeslaan. Die bande kelp onder die water het so 'n blink brons kleur in die namiddag son en plek plek is daar sulke helder groen seegras. Hier en daar swem klein vissies onder jou in 'n rigting en sulke 40 cm lang "sandvisse" kamoefleur hulself kort kort so met die seesand dat jy hulle omtrent nie kan sien nie. Dan ewe skielik pyl hulle weer voor jou oë tot in die verte in die water.

Jy ervaar 'n gevoel van kinderlike lekkerte om net so vanaf die oppervlak na die onbekende see lewe onder jou te staar. Dit kom natuurlik nie naby die onderwater wêreld wat mens by 'n koraalrif sien nie, maar dis sommer net hier onder die oppervlak by 'n doodgewone baai. Mens swem sommer so al met die strand langs en sien hoe die seeplante in die strome beweeg. Naderhand maak dit plek vir sand en skulpe tot jy later net sand sien met sulke donker patrone in dit. Hier van onder die water vergeet jy later van enige gevare wat die see mag inhou, al dryf jy soos 'n seeleeu op die oppervlak.

Ek en my kinders het ook so 'n entjie op die stille baai (daar is bykans nie branders nie) op die paddleski gaan vaar.


Hier hoor jy nie 'n langdurige gesuis van die branders nie, eerder 'n stadig en kalmerende waterval wat met tussenposes van so 10 sekondes op die strand uitspoel. Dit gee jou siel tyd om die effek daarvan ten volle in te neem en jy voel verkwik nadat jy so 'n tydjie op hierdie strand gespandeer het. Dis amper soos om op 'n eiland te wees.

Soos julle seker kan agterkom is ek hierdie week op verlof, dus is dit son, saffier en see. Eergister was ons egter na ons gunsteling strand met een doel voor oë: Om branders te ry.
Ek en my vrou het met my 108 cm Bodyboard / Boogeyboard bietjie die golwe gaan ry. Om 'n "True Blue" Aussie te wees moet mens mos of kan surf, of jy moet ten minste kan bodyboard ry. Net soos baie jare gelede by Oos Londen se Gonubie strand het geniet ek deesdae weer die vreugde van branderry hier by North Curl Curl strand. Dis 'n heerlike strand met baie lekker golwe. Solank mens net so op die voorpunt van die branders kan bly, dan neem die krag van die water jou van diep in die water tot op die sand. Dis amper asof jy bly afdraande ry op die brander se kruin. Hou net die board so effe na onder en jy laat die krag in die brander vir jou werk in stede daarvan dat dit jou platslaan as jy teen dit probeer gaan. Solank die sout net uit mens se oë bly, dan is alles honkie dorie. Hierdie week het ek iets baie eienaardig gesien. Sommige van die "Surfers" hier staan bo op hul branderplanke met 'n paddle, en dan roei hulle so staan-staan die see in en ry die branders uit, dan roei hul weer in (al staande) en ry weer uit. 'n Mens moet baie goeie balans daarvoor hê dink ek, maar intussen hou ek my maar eerder by die bodyboarding. Hier is heelwat strande rondom Sydney waar mens dit wel kan doen, want hier is voor die wind branders. Ek is "hooked".

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings