Thursday, September 25, 2008

Sukses is nie iets wat ek behaal nie

Soos julle weet dink 'n mens mos maar so oor die ou lewe en alles wat geneig is om so rondom mens te verander dat jy nie altyd weet of dit jy is wat verander of die wêreld rondom jou nie.  Mens wonder oor die sinvolheid van ons daaglikse herhalende bestaan.  Ek dink deesdae so baie oor wat van alles gaan word, wat vir mens voorlê in die lewe en hoekom dit alles so moet gebeur.


Toe ek vanoggend by my gunsteling koffie hoekie sit en White Chocolate Cafe Mocha drink...toe kom ek tot die volgende besef...en ek deel dit maar met julle, want ek dink dis iets wat tydloos is en iets wat ons nie altyd besef of raaksien nie:

Wat is sukses?  Is dit iets wat mens self bereik? Kom 'n mens aan die einde van jou lewe en dan kyk jy terug op al die geld wat jy bymekaar gemaak het? Die naam wat jy vir jouself gemaak het?  Hoe invloedryk jy was?  Of jy dit reggekry het om voor jou dood al jou aardse besittings af te betaal?  Of jy vir jou kinders 'n baie groot erfporsie kon agterlaat?

Hierdie woorde het by my opgekom:

"sodat die beproefdheid van julle geloof, 
wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter (gesuiwer) word, 
bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid 
by die openbaring van Jesus Christus;" 1 Petrus 1:7

Hierdie woorde staan net na die woorde:
"Daarin verheug julle jul, al word julle nou -- as dit nodig is -- 'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge (toetse),"

Ek het besef....ek sal kan sê ek het 'n suksesvolle lewe gehad, wanneer daar eendag GOUD (getoetsde vetroue in God) in my karakter gevind kan word.  Wanneer al die lewe se swaarkry, harde werk, hartseer, liefde, geduld, omgee vir die rondom my, en vertroue te midde van moeilike dinge wat ek moes oorkom - my lewe sodanig gevorm het - dat Jesus se suksesvolle taak in my lewe raakgesien sal kan word en mense sal kan sê: "Kyk wat het God bereik in hierdie feilbare ou", net soos in die woorde: "wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind." (2 Thess 1:10)
"maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?" (Luk 18:8)
"Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders (seuns) van God." (Rom 8:19)

Kyk, vir myself lyk dit steeds soos 'n onbereikbare taak, veral omdat ek nie die een is wat die werk doen nie (ek is maar net die bewerkbare grond), en ek nie dink mense hierdie tipe geloof altyd in my eie lewe raaksien nie, maar ek weet:
"omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;" (Filippense 1:6)
want :
"By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik." (Mattheus 19:26)

Lekker dag vir julle.

1 comment:

  1. Baie dankie vir hierdie besondere boodskap, maar ook sommer vir al die ander. Altyd 'n plesier om jou goed te lees - doe so voort!

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings