Sunday, September 14, 2008

Sonneskyn

Een van die beste maniere om 'n nuwe land jou eie te maak is om dit met jou voete te doen. As 'n mens so langs die stille oseaan (letterlik die Still Oseaan - nie die Atlantiese of die Indiese een nie) in die veld loop, die vars seelug inasem en die soet geur van die lente in jou neus kry, dan besef jy weer wie jy is en waaroor die lewe gaan.

Een ding wat ek hierdie jaar meer wil waardeer, dan is dit die lente en die somer. Die koue het nou net lank genoeg aangehou en is besig om nou finaal voor die felle aanslag van die lente te swig... Die warm weer kruip nader en bring saam met dit lewenslus en 'n begeerte om die pad te vat en koers te kies na die naaste woud, voetslaanpad of "Creek". Net laas Vrydag nog het ek na werk Bunnings (hardeware winkel) toe gejaag om vuurmaakhout te koop om ons kaggel te stook teen die koue, en gisteraand het ons weet ons lugverkoeler aangesit in die huis net om af te koel. Die minimum en maksimum temperatuur was 22 en 25 grade. Baie lekker.

Net daarom besluit ek, so 'n mooi dag kan net nie gemors word nie - en toe kies ons koers na die Royal National Park suid van Cronulla en Botany Baai. Ons het die Grand Pacific Drive roete gevolg wat deur die Nasionale Park loop en langs die suidkus afbeweeg.. Dit is reeds in 1879 as 'n nasional park verklaar, wat dit die oudste nasionale park, naas Yellowstone in Amerika maak (Die Kruger Park in Suid Afrika is in 1903 gestig). Die park is oop vir die publiek en dit kos $11 per kar om daar in te kom. Daar is ook oornagplekke vir stappers in die park en die permitte kan daarvoor by die parkeraad verkry word. Ons het besluit om sommer 'n deel van die "Coast Track" te stap.

Hier is nou 'n voorstel vir 'n lekker opwindende naweek waarin julle ten volle kan ontlaai:
Neem die trein tot by Cronulla, vat dan die veerboot vanaf Cronulla tot by Bundeena en stap vanaf Bundeena die 26 km roete langs die kus oor 2 of meer dae tot by Otford, vanwaar mens weer die trein kan terugneem Sydney toe. Mens kan by Wattamolla of Era oornag.

Dis 'n pragtige roete en julle kan gerus na al my fotos gaan kyk wat ek die naweek daarvan geneem het.



Hier is 'n paar van die mooistes...



Langs die pad is die lekkerste watergat, amper soos die wat ons altyd in die Waterberge teegekom het - die water drup hoeka nogal so uit die rotse hier oral langs die voetpad.




Mens kom na 'n stap van so 4 km vanaf Wattamolla by ongerepte weggesteekte strande uit. Jy voel kompleet asof jy dit nuut ontdek het soos wat jy deur die heldergroen fynbos afdaal na die blou-blou water van die klein baai.





Langs die pad kom jy allerlei insekte teë...onder andere 'n kokkerot agtige insek wat 'n muis die skrik op die lyf sal jaag.



Die roete loop op plekke langs hoë kranse wat skerp afdaal na die blou branders doer onder. Die kinders geniet die avontuur - want dis nie eentonige paadjies nie, maar hulle kan klim en klouter - ons het 8.8 km afgelê - en toe ons terug was by die huis het hulle nogsteeds rondgehol.



Ons het die heerlikste weer gehad op Saterdag. Mens waardeer die son, want dit maak mens sommer lus vir die lewe en die natuur. Fynbos sien mens oral langs die pad, met die mooiste pers vygies.





Hierdie sonnige dag het my laat dink aan die' liedjie van een van my gunsteling sangeresse - Helene Bester.

Sonneskyn

Voel jy die son op die velde
Die lente is weer in my huis
En ek stap deur somerstrate
Ruik die vars van blommeplate
Jy is hier by my
Gelukkigheid

Sien jy die fynbos se glimlag?
Die groen van 'n blaar wat nie wag
Jy kyk weer in my oë
Alles voel weer soos vroeër
Jy is hier by my
Gelukkigheid

Refrein:
Ek nooi jou sonneskyn
Maak 'n draai
Kom woon in my
Ek nooi jou sonneskyn
Bly net hier,
moet nooit verdwyn
Ek nooi jou sonneskyn
Hou my vas, ja vou om my
O liewe sonneskyn
Die lewe is soos goeie wyn

Saam sal ons hande mekaar vat
So stap ons deur elke dag
En ek weet jy sal my mond soen
Op my voorkop en dit weer doen
Jy is hier by my
Gelukkigheid











Na die tyd het van die braafste kinders en een van die pa's (nie hierdie een nie!) in die ysige water van die watergat ingegaan-en-vinnig-weer-uitgegaan.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings