Thursday, August 28, 2008

...jou diepste, verste spore loop ook dood.


Die titel kom uit die liedjie "Vermiste Mense".

Iets wat ek dink mense nie aldag besef nie, is dat daar dinge is wat mens net eenvoudig nie vir ander kan beskryf as hulle dit nie vir hulself deurmaak nie. Een van hierdie dinge is die feit dat al die jare se spore wat mens getrap het in jou land van herkoms, al die verbintenisse wat mens gehad het, alles wat mens beteken het vir wie ook al agtergebly het - en dis die hartverskeurendste gevoel wat ek julle kan van vertel - is dat al daai spore soos deur die branders op die strand...uiteindelik weggespoel word....totdat daar niks meer oorbly nie...

Dis die keuse - en sy implikasie.

As daar een vraag is waarmee mens op 'n gereelde basis met jouself oor worstel, dan is dit die vraagstuk : Is ek besig om vooruit te gaan in die lewe of agteruit? Waaraan meet mens dit? Watter maatstaf gebruik mens om te bepaal of mens beter of slegter daaraan toe is? Ek is seker daar is baie ander wat ook wonder oor besluite in hul lewe. 'n Mens mag droom oor 'n beter lewe. Maar, wat is 'n beter lewe? Is 'n ewig toenemende bankbalans (wat byhou by inflasie) die antwoord? Is dit daardie spoghuis waaraan mense so hard afbetaal? Sê nou maar net jy het BAIE geld, wel dan sal jy weldra iemand kry wat nog meer het as jy...en spoedig agterkom maar skielik is daar dinge wat jy nou kan bekostig en voor jy jou kan kry het jy ALWEER nie genoeg nie. Daar sal net nooit genoeg wees nie. Daai gat is net te diep om toegestop te kry. Sal mens ooit genoeg beleggings hê? Ons almal werk hard elke dag. Ons makeer die pas. Ons kan bly in 'n huis, lekker eet, samesyn van vriende geniet en af en toe iewers heen weggaan. Ons reken ons is bevoorreg. Ons kan ons kinders, die volgende generasie, geleenthede gee. Nie te veel dat hulle houtgerus kan word nie, maar genoeg om te maak dat hulle die toekoms met hoop en drome kan aanpak. Die verlede is verby - sal nooit weer aan ons teruggegee word nie. Ons pas nou aan by 'n nuwe wentelbaan.

'n Mens is mos geneig om te meet of jy vooruit gaan aan dit wat jy nou kan bekostig, teenoor wat jy eers kon bekostig. Maar tog kan mens finansieel vooruitgaan en in jou hart doodsongelukkig wees. Dan kan mens ook jou vooruitgang meet aan die groei in jou familielewe. Is ons as familie nou nader aan mekaar of verder van mekaar af? Is ons gelukkiger mense? Is ons nou mense wat meer verantwoordelikheid neem vir ons eie lewe, ons eie huis en die skoonhou daarvan. En of ons bestaan volhoubaar is of nie. Mens kan dit seker ook meet aan hoe gelukkig jou kinders is. Dat hulle nou onbevange en sorgvry kan kinders wees is beslis. My seun stap nou al self alleen winkel toe, my kinders stap alleen skooltoe en terug. Hulle is versot op hierdie vryheid - ons ook. Dit kos egter 'n prys.

Dat ek nou harder werk is ook natuulik 'n feit. Hier verdien mens jou brood en botter. Ek werk nie langer ure nie, maar hier word meer water uit 'n klip getap in die ure wat mens werk. 'n Mens verstaan nou dat 'n samelewing met gelyke kanse ook impliseer dat jy op 'n gelyke vlak met baie ander meeding. Ek het teen hierdie tyd tog begin insien dat ek tog in 'n groot mate in 'n "bevoorregte posisie" in Afrika was as gevolg van beter kennis en goeie opleiding as baie ander. In die land van die blindes, is die eenoog koning sê hulle mos. Die skeidsmuur tussen arm en ryk is dus groter as hier. Dit kom mens nou agter. Net soos 'n baie lae persentasie vakante huurhuise impliseer dat daar 'n groot aanvraag na huur eiendomme hier in Sydney is, impliseer 'n baie lae werloosheidsyfer natuurlik ook dat daar 'n groot aanvraag na werke is tussen werkers. Dit maak natuurlik dat mense wat baie hoog betaal was in Suid Afrika hier as 'n heel normale ou gereken word.

Nog iets wat ek sien is dat die hoogmoedige streek van baie Suid Afrikaners hierso so 'n bietjie van 'n knou toegedien word, alhoewel hulle steeds hard werk om dit te handhaaf. Ons klomp is mos baie gesteld op watse werk ons doen, watse kar ons ry of watse huis ons in bly - o, hoe het die helde geval! In daardie opsig word mens 'n beter mens. Meer nederig - sien nie meer neer op mense wat trein of bus ry nie en van "publieke vervoer moet/wil gebruik maak nie".

Waaraan meet jy jouself? Wat bepaal of jy jou doel bereik? Wat is die regte doel om te hê?
Wel, ek weet verseker een van my doeleindes is om 'n meer liefdevolle en geduldige man en pa te wees...maar om dit te wees is nie altyd so maklik nie. Nog iets waaraan ek my altyd troos is Jesus se woorde: "Pasop vir die liefde vir geld, want 'n mens se lewe bestaan nie uit die oorvloed van jou besittings nie." "'n Mens se lewe is meer as kos en jou liggaam meer as die klere wat jy dra." Maar 'n mens besef ook dat armoede niks help nie - geen kind of vrou wil 'n pa of man hê wat net nooit by die huis is omdat hy al sy wakker ure hom afsloof om genoeg te maak om net liggaam en gees aanmekaar te kan hou nie. Hoe verskil mens dan van 'n slaaf? Of selfs 'n gevangene wat net genoeg kry om van te lewe en darem in die aande vrygelaat word om huis toe te kan kom nie. Nou is my doelwit om goed te wees in wat ek doen, want "iemand wat vaardig is in sy werk sal voor konings staan - hy hoef nie voor geringes te staan nie". En: "Die arbeider se slaap is soet, of hy min of baie eet, maar die oorversadiging van die ryke laat hom wakker lê in die nag."

Maar te midde van al hierdie geswoeg smag mens tog na meer... Mens wil ook nie aan die einde van jou lewe kom en net terugkyk op 'n opeenvolging van kantoorwerk nie. Nou loop 'n mens die pad, op soek na die antwoorde op jou eie soektogte. En jy "dink en jy dink aan die soeter wyn teen die groter dors".

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings