Monday, August 18, 2008

Die koue houvas van die winter

Die donker kom van buite en syfer deur die ruite
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur...Koos du Plessis

Dit wat julle hier bo sien is ons nuwe huis se kaggeltjie. Ons het nie meer 'n gaspunt in die huis nie, en nou stook ek die vuur elke aand sodat ons om 'n lieflike vuurtjie in die sitkamer kan sit en warm word. Dit is 'n besonder koue winter hier in Sydney. Dit was volgens die nuus op TV vandag die koudste dag in Augustus hier in 3 jaar. Dis nou ons tweede winter hier in Australië, en hierdie een is by verre die koudste. As iemand wat van die Hoëveld kom is ons gewoond aan ryp op die gras, en ek het vir die laaste paar dae wraggieswaar ryp op die gras gesien hier in Sydney. Dis is sommige oggende maar swaar om jouself uit die bed te sleep en vroeg genoeg by die busstop te gaan wag. As 'n mens hier in die Hills bly en jy vang 'n bietjie later bus, kan dit tot 45 minute langer neem om by die werk te kom soos wat al die mense van die Hills tegerlykertyd in hulle karre spring om by die werk te kom - nou probeer ek die stormloop mis.

Na meer as 'n jaar van harde werk kom mens ook teen die tyd agter dat die pas hier in Sydney nie verslap nie. Jaar in en jaar uit, oggend vir oggend soos flukse miere is dieselfde medereisigers elke oggend getrou op hul pos. Mens kry kry later sulke "Deja-vu" terugflitse as jy in die oggende by die stasie staan. Dae, weke, maande en jare word soos die voue in 'n deegmengsel teruggevou op mekaar sodat dit sommige oggende voel of jy sommer nog netnou nog daar gestaan en wag het vir die trein en nou staan jy alweer daar. My werkgewer het vandag vir my gewys dat my take nou al tot April volgende jaar beplan is...

Mens gaan in 'n soort van 'n winterslaap, dit voel sommige dae of jy eers na so 20 minute by die werk regtig ontdooi is en as jy in die middae by die huis kom is dit alreeds donker. Hier in Sydney maak die winter 'n groot verskil aan die aantal daglig ure aan die einde van die dag. Met die daglig besparing ingereken het jy in die somer meer as drie meer daglig ure aan die einde van die dag. Maar stadig maar seker begin die vrolike seisoen naderkruip. Mens sien deesdae al die sonsondergang terwyl mens terugry huistoe. Hier en daar is daar 'n boom wat oorgretig is vir die lente om aan te breek en vol van die lentebloeisels sit. Elke oggend en aand as ek by hierdie bome verbyloop ruik ek die heerlike soet geur van hierdie bloeisels.

Hier kan julle dit van naderby sien...(kliek op die fotos vir vergrotings)
'n belofte dat die somer wel weer aan die kom is....

Ons het nie die afgelope ruk juis rondgerits nie, dus het ek maar weinig fotos om te wys, maar ons sal wel weer baie lekker dinge doen en mooi plekke gaan besoek as dit eers bietjie warmer word. Gaan loop sommer so bietjie deur ons straat met Google Street View, wat mens nou toelaat om so te sê in elke straat in Australië "rond te gaan stap".

Hier kan julle sien hoe dit by die busstop naby my huis lyk. Gebruik die muis met die linkerkantste knoppie op die foto om dit te draai en kliek op die wit pyltjies om die pad te volg...


Gaan stap gerus rond op Google Maps en kyk hoe lyk Oz van naderby. Al die strate wat blou is as jy Street View kies is beskikbaar in 3D.

Waar ons nou bly is daar vir 'n verandering 'n grasperk. Soos dit 'n man betaam loop ek dus nou weer so af en toe agter 'n grassnyer aan - en ek moet sê, dit laat mens sommer weer tuis voel - soos wat ek altyd gevoel het toe ek my eie huis se gras gesny het. Nooit gedink ek sou eendag sulke aangename gedagtes aan die grassnyery koppel nie - my grassnyer was nog 'n geskenk van my skoonma toe ons in 2000 in ons huis in Wierdapark ingetrek het!

Nog 'n verandering in my lewe is dat ek af en toe nou by die Gym uitkom...maar op die oomblik is dit meer AF as TOE, want die aande is maar baie koud hier. Ek het by Fitness First aangesluit en was nou al 'n hele paar keer daar en ondervind dit maar betreklik dieselfde as gyms in Suid Afrika. Daar is oorgenoeg oefenmasjiene en daar is in die aande nogal baie mense wat oefen - selfs al is dit winter. Aan die voorkant van die saal vol stapmasjiene, trapmeule en fietse is daar 'n ry enorme LCD TV skerms waarna jy kan kyk terwyl jy oefen. Jy hoef eenvoudig jou iPod se oorfone by die proppie langs die masjiene in te druk en dan kan jy die klank vir al die TVs ook kry. Van die programme wat elke middag hier op is, en waarvan die Aussies net nie genoeg kan kry nie, is die hoeveelste heruitsending van M.A.S.H. asook die immergewilde FRIENDS.

Die afgelope 2 weke hou ons die Olympiese Spele fyn dop, en die Aussies het besonder goed gedoen as 'n klein landjie van 21 miljoen mense. In besonder die swemmers. Ek is glad nie verbaas hieroor nie, siende dat daar so baie swemfasiliteite hier is en die kinders van kleins af aangemoedig word om aan swem deel te neem. Julle kan die medalje toekennings hier gaan beskou.

Meer nuus het ek nie nou vir julle nie...

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings