Saturday, June 14, 2008

ABBA in Australië

Siende dat die fliek "Mama Mia" op 10 Julie uitgeryk word waarin 17 van die groep ABBA se liedjies (soos in 'n musiekblyspel) gebruik word, het ek dit goedgedink om musiekvideos van so 35 van hul gewildste liedjies om my Engelse Blog lightfan.blogspot.com te plaas wat ek op YouTube opgespoor het.

ABBA het Australië in 1976 besoek, en die volgende musiekvideo opgeneem in die land "Down Under":

Thursday, June 12, 2008

Almal wil 'n huisie by die see hê

Soos belowe gaan ek julle nou so bietjie meer wys van Jervis Bay aan die NSW suidkus.

In die volgende kaart kan julle die verskil in grootte sien tussen Jervis Bay aan die linkerkant, en Valsbaai in die Kaap aan die regterkant. Jervis bay is omtrent so 15 km in deursnee. As gevolg van die feit dat die baai so beskut is deur 'n baie nou poort, bly die water in die baai se water tot laat in die wintermaande steeds betreklik warm. Tussen Junie en Julie kry Jervis Bay ook baie besoekers soos dolfyne en walvisse.

Ons het die pad vanaf Sydney na Jervis bay in sowat 5 ure afgelê. Soos julle uit die groot hoeveelheid fotos kon aflei - was ons nie verskriklik haastig nie.

Hier is my eerste ervaring van Jervis Bay... Die see is so stil dat dit soos 'n seepgladde meer lyk. Die golfies klots rustig op die spierwit strand terwyl daar selfs in die laatmiddag amper nie eens 'n briesie te bespeur is nie.


Plek-plek langs die strand lei sagte sanderige paadjies, tussen groen plantegroei op die duine, wat jou welkom heet en jou innooi om jou skoene uit te trek en die sand tussen jou tone te laat ingaan.


Hier en daar is daar 'n heuningby wat nektar versamel by die talle pienk blommetjies op die strand.

Die seesand is so wit en sag, jy kan jou maklik verbeel iemand het versiersuiker hier langs die see kom strooi. Die strande is lank en wyd en strek so ver as wat die oog kan sien. Verder voel dit asof jy die hele strand vir jouself het. Silwerskoon. Mens kan selfs met Google Maps sien dat die sand besonder wit is.



Oral langs die kus loop netjiese sementpaadjies, waar mens heerlik met jou fiets of Rollerblades kan kerjakker - 'n hele 4 kilometer lank! Ek het te heerlik met my rollerblades op die paadjies gery - en dit het my 'n hele 16 minute geneem om tot in Huskisson te ry. Ons het by 78 Elizabeth Drive, Vincentia gebly in 'n vakansiehuis wat ons saam gehuur het.



Hier is 'n hele reeks fotos:











Ek het soos belowe my Wetsuit uitgetoets in die Stille Oseaan, so bietjie gesnorkel en daarna bodyboard gery op die byna maanblanke meer (ek bedoel see).


Omdat ons so ver van die helder ligte van die stad af was, was die sterre in die aande besonder helder. Alhoewel dit in die dag meestal bewolk was, was dit in die aande heeltemal oopgetrek. Jy kon maklik die melkweg sien, die ou bekende suiderkruis en 'n besonder helder planeet loodreg in die lug...ek vermoed dit was Jupiter. Dit was besonder stil langs die strand - mens kon die golwe duidelik hoor as jy in die nag in jou bed gelê het. In die agtergrond het die ritmiese metronoom van die golwe eindeloos herhaal. Hier is so 'n smakie van wat ek in die aande ervaar het....die einste klank wat ek vir julle in 'n video vasgevang het van ons woonstel af....

Maak jou oë toe, verbeel jou jy stap in die aand langs 'n windstil strand. Die sterrehemel is oopgevlek bo jou, in die verte sien jy die vuurtoring by die ingang van die baai. Rus en vrede.




Nou ja...so kom alle goeie dinge ook op 'n einde. Dinsdag het ons rustig opgestaan, lekker ontbyt geëet en so 12 uur die middag in die pad geval terug Sydney toe.



Oppad terug het ons by 'n winkeltjie gestop waar ons lekker tuisgebakte pasteie geëet het. Die winkeltjie het 'n magdom ingelegde vrugte, konfyte asook tuisgemaakte Fudge. Hulle het 'n bord op buite:"The World's best pies".




So kom my storie ook nou op 'n einde. Hoop julle het die fotos geniet. Miskien sal julle deur al my posts agterkom dat Australië glad nie so vreemd is nie - net beter opgepas.

Wednesday, June 11, 2008

Die gras is groener in die hooglande

Nou ja, soos belowe is ek terug van ons lekker langnaweek af met 'n verskeidenheid van fotos - net reg om te geniet.

Ons het besluit om die Hume Snelweg oppad Canberra toe te neem en dan deur die Suidelike Hooglande van New South Wales te ry (in stede daarvan om langs die kus te ry) om sodoende ons 'n kykie te kon kry van die groen binneland van NSW.

Nadat ons so 'n derde van die afstand Canberra toe gery het, het ons by Aylmerton afgedraai. Die eerste dorpie wat ons teëgekom het was Mittagong.



Dis 'n pragtige dorpie, met lieflike boomryke erwe en 'n rustige landelike atmosfeer. Daar is 'n ook 'n kuns roete. Daar is meer inligting oor die gebied by http://www.highlandsnsw.com.au/ Een voorbeeld is die Tradisionele Ystersmid in Mittagong.

Van daar af het ons verder gery en deur Bowral gery. Bowral is in die Wollondilly gebied van die hooglande. Daar is ook ander komiese name soos: Burradoo, Bong Bong, Illawarra, die Wingecarribee Dam, Yarrunga, Bellawongarah, Cambewarra, Nowra en Bundanoon Creek.



Ons het die volgende roete gevolg deur die hooglande na Jervis Bay aan die kus:


View Larger Map

Oral waar mens ry is dit groen, wel baie groen. Die plantegroei wissel van lowergroen velde tot tropiese woude soos wat mens van 700m bo seevlak begin afdaal na die kus.

Ons het hierna met die "Sheepwash road" verder gery, verby die Wingecarribee en Fitzroy damme en toe by die Fitzroy waterval 'n draai gemaak.





Die waterval is sowat 82 meter hoog en val in Kangaroo Vallei af wat deel uitmaak van die Morton National Park.

Julle kan ook na my foto vertoning gaan kyk vir hierdie deel van die roete.



Hierna het ons in Kangaroo Vallei afgedaal met 'n taamlik kronkelende pad. Naby Barrengarry gaan mens oor die Kangaroo rivier:



Hier is 'n foto geneem in die dorpie: "Kangaroo Vallei".



Nog 'n foto geneem op die Moss Vale pad oppad na Nowra.



Julle kan ook die 26 megapixel foto gaan aflaai as julle wil (dis so 4 Meg groot).




Dis nogal moeilik om die prag en skoonheid van hierdie wêreld regtig op fotos te kan weergee, maar ek probeer om dit vir julle so lewendig moontlik te maak en daarom het ek sommer vir julle 'n video wat ek by die Fitzroy waterval geneem het ingesluit...




Volgende post...meer oor ons tydjie by Jervis Bay....

Friday, June 06, 2008

Bietjie rus vir die moeë siel

Na 'n jaar se swoeg het ons besluit dis tyd om weer 'n kort breuk te vat en vir die naweek koers te kies na die Suidkus. Ons het ok mos 'n Suidkus hier...en daar is nog so baie om te verken. Ons gaan heerlik saam met vriende hierdie langnaweek kuier in 'n vakansiehuis wat ons saam gehuur het. Dis mos Maandag die Koningin se verjaarsdag (die tannie verjaar mos 2 keer per jaar), en dis vir die Aussies genoeg rede om 'n dag af te kry.

Ons gaan na die plek met die wêreld se witste strande: Jervis Bay.

Dis so twee en 'n half ure se ry suid van Sydney. Gaan kyk gerus wat my gunsteling tydskrif "Australian Traveller" oor die plek te sê het. Ons hou duim vas ons het aangename weer, want dit het die afgelope week nogal gereën. Ek beoog om my wetsuit saam te piekel om die branders met 'n bodyboard aan te durf.

Ons gaan met die pad Canberra toe ry en by die Old South road afdraai deur Nowra oppad na Jervis Bay - beloof om 'n baie opwindende rit te wees.

Hier is een van mygunsteling liedjies van Koos Doep (wat ek by die plekke in 'bold' net so bietjie gewysig het)

As my wrak nog kan loop
en die pad is oop
en die wêreld lê alkant te koop
en ek't 'n dollar of tien
en wie weet miskien
nog 'n paar hier of daar
wie weet waar
dan vat ek die pad
uit die bose ou stad
want hy's grys en wys
en hy's gou....

En die naald bly dwaal
net so regs van nul
want ek maak net soos ek wil

Ek't 'n jaar lank gewerk
as 'n derde klerk
dis weer tyd om 'n iets te geniet
want selfs 'n week se swoeg
is al klaar genoeg
en my tjek sê ook
als is verniet

Toe breek ek maar weg
en die wêreld is reg
want ek's eindelik klaar met die spul

En die naald bly dwaal
net so regs van nul
want ek maak net soos ek wil

Daar's 'n ietsie te sê vir
min rykdom hê
want 'n dollar is soms soos 'n fortuin
dit hou die tenk half vol laat die wiele rol
en jy sien hoe jou sorge verdwyn
een trap van die voet en die lewe is soet
want die enjin word dromerig stil

En die naald bly dwaal
net so regs van nul
want jy maak net soos jy wil (x 2)

Koos du Plessis

Monday, June 02, 2008

Gooi dit in die Zibi blik

Julle sal seker wonder waarom ek die volgende blog inskrywing maak. Wel, dit is omdat ek dikwels vergeet of ek op 'n Maandagaand nou weer die Geel ("Recycle") drom moet uitneem, en of ek die Groen (Tuinafval) drom moet uitneem - nou sit ek dit maar op my blog, want dan weet ek presies waar om dit te kry. Elke week word ons Rooi drom (wat gewone gemors bevat) saam met of die Groen of die Geel drom uitgesit. Maar omdat ek maar 'n verstrooide professor is vergeet ek wat nou weer laas week se kleur was.

Hier is die rooster vir April 2008 to September 2008:

en ook die rooster vir Oktober 2008 tot Maart 2009.

Nou sal ek altyd weet waar om te kyk...en nie onnodig die 80 meter in stikdonkerte hoef te stap om te gaan kyk watter drom dit nou weer is nie, of om verniet die verkeerde drom uit te piekel en dan in die koue en reën op dromdiens te wees nie.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings