Thursday, May 22, 2008

CEBIT Australië

Siende dat ek nou mos in die IT sektor is wat rekenaar gebaseerde kaarte gebruik om die presiese posisie van alles van 'n kettingsaag tot 'n afleweringsvoertuig en 'n massiewe treintrok moet kan aandui op rekenaarsagteware, het ek gister vir die maatskappy waarvoor ek werk saam met NAVTEQ Australië 'n stalletjie (nogal ek wat 'n programmeerder en nie 'n verkoopsman is nie) beman vir 'n halwe dag by een van die grootste IT bedryfskoue ter wêreld, genaamd CEBIT. Dit is by Darling Hawe gehou. Julle kan gerus na die hoogtepunte van die skou op hul webtuiste gaan kyk. CEBIT is die Duitse afkorting vir : "Centre of Office and Information technology" Dit het onstaan in Hannover, Duitsland, en word nou ook op ander plekke in die wêreld aangebied. Om so 'n skou by te woon help mens nogal om jou vinger op die polsslag van 'n industrie te kan hou.

Ons maatskappy gebruik NAVTEQ kaarte in al ons sagteware omdat dit so akkuraat is. Hierdie ouens gaan RY werklikwaar elke liewe straat in die wêreld en stoor dan die presiese 3D GPS posisie in 'n rekenaar aanboord van hulle 4x4 voertuie. Gaan kyk na hulle video.
Daar was heelwat interessante aanbiedings en meeste van die sprekers se praatjies is aanlyn beskikbaar en daar is ook "podcasts" waarna julle kan luister.

Wat nogal interessant was van die skou, was dat Suid Afrika 'n stalletjie by die skou gehad het... Ek kon geen ander LANDE sien wat daar uitgestal het nie. Funny. Met die leuse: South Africa...land of opportunity.

Verder het ek lekker met 'n vrou van Peru gesels wat al 14 jaar hier in Sydney is asook 'n Fransman wat in Singapoer gestasioneer is en hier kom uitstal het. Ek het ook by die uitstalling van die Westelike Australiese SKA (Square Kilometre Array) Teleskoop 'n draai gaan maak. Dit word deur Oz se weergawe van die WNNR geloods - daar is ok 'n paar poste beskikbaar op hul webblad. Hulle tender om die grootste radioteleskoop in die wêreld te bou is in direkte opposisie met die KAT (Karoo Array Telescope) wat naby Carnarvon in die Karoo gebou word as konsepvoorstel vir die bod om die finale tender te kry. Die Australiese teleskoop gaan in Murchison so 680 km vanaf Perth gebou word. Blykbaar is die tenderdokumente so week gelede ingegee en nou wag hulle vir die uitslag...Australië of Suid Afrika...wie gaan dit wees?

Groete hier uit die verte

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings