Friday, March 28, 2008

Smul saam met my aan die heerlikste biefstuk met karamel uie

Kyk, as daar nou een ding is waarmee jy gaan sukkel as jy hier in Australië is, dan is dit om nie in 'n smulpaap te verander nie. As gevolg van die groot verskeidenheid nasies wat oor die jare hierdie land hulle nuwe tuiste kom maak het en hulle eie kos en kultuur saamgebring het, kan mens die wonderlikste verskeidenheid eksotiese kosse by die supermarkte te koop kry. Ek het gerugte "gehoor" dat mans sowat 5 kg en vrouens sowat 10 kg gewig optel wanneer jy hier in die land van Kokanje kom woon. Of dit waar is sou ek myself nou nie oor wou uitspreek nie....maar ek het nogal agtergekom dat die "vogtigheid" in die lug hier in Sydney jou broeke laat krimp ;-)
Dis die eienaardigste verskynsel.

Van al die baie kosse wat ek nou al uitgeprobeer het is daar beslis so 'n paar gunstelinge op my lys van smul-plesiere.

Vandag wil ek julle bietjie vertel hoe om lekker Aussie biefstuk en karamel uie voor te berei. Maar voor ek dit doen, hier volg so 'n paar van my gunsteling gunstelinge hier in Oz...

  • Die lekkerste Australiese lekker : Die smaaklikste vluweelsagte Danish Feta kaas wat mens oor die supermark toonbanke hier kan koop. Jy het nog nooit so iets in jou lewe beleef nie. Ek was altyd net gewoond aan daardie harde Feta kaas, maar hierdie is iets uit 'n ander wêreld.
  • Australiese Raisin Toast of "Fruit Loaf" brood...amper soos hot cross buns, maar so groot soos 'n brood. As jy die dik snye so bietjie opwarm in 'n broodrooster word daardie rosyntjies darem lekker hoor. Dit herinner my sommer aan my dae by Tukkies waar ek elke dag vir my 'n Chelsea bun by die bakkery gekoop het en op die gras rondgelê het.
  • Die DONER Kebab by die Turkse winkels. Dit bestaan uit 'n Libanese pita brood gevul met heerlike skaapvleis direk van 'n skaapboud afgesny.
  • SUBWAY se "Italian BMT" Footlong Sub op 'n Italiaanse kaasbroodjie met ekstra Gerkins en Olywe en 'n soet-uie sous.
  • Om 'n soet Kiwivrug in die helfte te sny en sommer met 'n teelepel uit te eet.
  • Om saam met my kinders 'n helderrooi waatlemoen te eet.
  • Jy kry die lekkerste geurigste Chai tee met kaneel, gemmer en naeltjies hier. Lipton maak dit en ek kan dit nie weerstaan nie.




Ek drink nogsteeds Rooibos tee. Ons Suid Afrikaanse Rooibostee kry jy in meeste supermarkte hier, en dis nogsteeds die lekkerste tee wat jy kry.


Dan is daar natuurlik lekker Flat White koffie. En dan natuurlik ook die koffie wat ons vriendin vir ons met haar koffie masjien maak as ons by hulle kuier.

Dan is daar natuulik die lekker Ryde Burger met pynappel en 'n egte maalvleis "patty" wat ek so dan en wan by "The Anatolian" Kafee in West Ryde vir middagete eet. Hier is 'n foto van die kafee waar ek nou al 'n "regular" is.


Soos belowe: "Aussie" biefstuk en karamel uie (As jy dit in Suid Afrika maak is dit BOERE BIESTUK EN KARAMEL UIE)

Jy begin deur vir jou so 'n lekker 3 cm DIK stuk "RUMP steak" by die slaghuis of Woolies te koop.
Daarna meng jy Balsamiese Asyn saam met rooiwyn (of Sjerrie as dit al is wat jy drink) in 'n bak en laat die biefstuk daarin week terwyl jy die uie voorberei.

Die asyn en die wyn maak die "steak" sommer lekker sag. As jy dit lank daarin laat lê word die vleis so sag dat jy die "steak" selfs op 'n hamburger kan eet...mens noem dit 'n Aussie Steakburger.

Hierna kerf jy so 6 middelslag uie op. 'n Maklike manier is om die punte af te sny en dan die buitenste laag deur te sny - al die buitenste blare dop dan sommer maklik af. Gebruik die scuba-uie-kerf-tegniek, wat ek voorheen gedemonstreer het, sodat jou oë nie traan nie.

Ek het sommer ons Pineware braaipan gebruik om die uie en die vleis te braai. Gooi bietjie olie in die pan en strooi omtrent 2 knippies sout oor die uie. Dit sal die uie se sappe laat uitkom en help dat dit nie so maklik brand nie. Sit die Pineware so op 4.

Roer die uie aanhoudend met 'n spaan. Gooi so 2 opgehoopte teelepels lekker klam bruinsuiker by die uie.


Dit sal karameliseer en die uie sal later so half deurskynend word.

Skep die uie uit die pan voordat dit ENIGSINS begin brand. Ek verstaan nooit waarom mense die uie so moet "offer" dat dit aanbrand in die pan nie!

Teen hierdie tyd is die "steak" al lekker getrek.

Gooi nou suurlemoenpeper oor die vleis. Ek is mal oor hierdie spesery. Ek eet dit soms sommer so uit my hand - baie lekker.


Die volgende stap is om vars knoffel oor die biefstuk te smeer. Hier by ons kry mens sulke buisies vars knoffel wat mens in die yskas kan hou en soos wat jy nodig het kan uitdruk soos 'n tandepastebuisie.

Smeer dit oor die "steaks". Net die regte medisyne vir verkoues. ;-)

Braai nou die biefstuk so 4 minute aan elke kant op 'n warm plaat en skep dan van die gekarameliseerde uie op die vleis sodat dit die uie smaak kan kry.

Teen hierdie tyd het die uie so 'n heerlike karamel smaak.

Ons verkies ons "rump" biefstuk so bietjie nader aan lewendig as aan dood.

Kry vir jou nou so 'n ou knoffel of kruie broodjie wat jy sommer in die oond warm maak totdat die botte begin smelt.

Maak nou vir jou 'n lekker slaai deur tamaties, tuinslaai en Danish feta in die slaai te sny. Breek so 'n tros lekker kraakvars sultana druiwe in die slaai en sny ook so 5 Gerkins fyn in die slaai in. Gooi so 'n teelepel suiker oor en 'n "dash" suurlemoensap. Meng so 3 keer. Moenie die tamaties te fyn sny nie, anders het jy net 'n klomp sap aan die onderkant van die bak.


Nuttig die steak saam met die karamel uie, die knoffelbrood, die Griekse slaai wat jy nou net geprakseer het en 'n lekker glasie sjerrie.

Lekker eet.

1 comment:

  1. Jou blog is great!! Ek kan wag vir elke dag wat jy 'n nuwe ervaring opsit nie. Groete.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings