Saturday, March 29, 2008

Ons "hoinkie" Loukie is nou reg soos 'n roer

Hier in Oz word honde soos kinders behandel. Jy kan nie sommer 'n hond by iemand koop en klaar nie. ALLE troeteldiere ("Companion animals") wat gebore is sedert 1 Julie 1999 moet volgens die "Companion Animals Act 1998" geregistreer word by die NSW Companion Animal Register. ALLE honde en katte wat as troeteldiere gehou word MOET ge-"microchip" en geregistreer wees. Die mikroskyfie wat ingeplant word bevat 'n 15 syfer nommer wat jou hond uniek identifiseer op die diere register. Wanneer jy 'n hond (of 'n kat) koop by 'n "Pet-shop" is die hond reeds ge-microchip, maar nog nie lewenslank geregistreer op jou naam nie - dit moet jy binne 6 maande laat doen. Voordat jy die hond uit die winkel kan neem, moet jy egter eers jou naam en woonadres (selfs e-pos) gee sodat hulle die hond se naam, honderas, geboortedatum, geslag, kleur en woonadres aanlyn oor die internet kan instuur na die "NSW Companion Animal Register". Enige gesteelde of rondloper honde wat dan gevind word, kan direk met die eienaar gekoppel word en terugbesorg word - hulle weet dus wie is verantwoordelik. 'n Troeteldier is 'n lewenslange verbintenis.

Daar is 'n $550 boete vir eienaars wat nie hulle diere laat "microchip" en registreer nie. ($2200 vir verbode of gevaarlike honderasse)
Voordat 'n hond wat by die stadsraad se hondeskuiling ingeneem is, mag slegs aan die eienaar oorhandig word nadat dit geregistreer en ge-"chip" is.

Dit kos $100 vir die lewenslange registrasie van 'n hond wat nog nie reggemaak is nie, en $35 vir 'n hond wat wel ge-steriliseer is.

Alle eienaars moet binne 14 dae nadat hulle verhuis het, die hond se besonderhede by die diereregister laat opdateer. Dit moet ook gedoen word indien die hond tot sterwe kom. Jy moet hulle binne 3 dae laat weet indien die hond weggeraak het. Die diereregister weet dus presies hoeveel honde (en hoeveel ongesteriliseerde honde) in elke woonbuurt in Australië woon.

Loukie is toe Dinsdag by die Veearts se spreekkamers ge-steriliseer. Dit kos $185. Tesame met dit het ons ook betaal vir die "Rapid recovery plan", wat help dat die hond vinniger bykom na narkose, dit kos $80. Daarbenewens het die veearts sommer 3 van die hond se babatande getrek ($15 per tand). Totaal $290. Na die operasie reik hulle aan jou 'n Sterilisasie sertifikaat uit wat jy aan die Diereregister vertoon sodat jy net $35 in plaas van $100 betaal vir registrasie.

Elke hond het ook 'n volledige immunisasie kaart wat opgedateer word net soos jou kinders s'n. Ons hond het nou al 9 "stickers" op sy inentingskaart vir siektes soos: Distemper, Hepatitis, Parvovirus, Parainfluenza, Bordetella Bronchiseptica, Leptospirosis, Coronavirus en Heartworm.

Nogal heel toevallig het my vrou ook uitgevind dat ons veearts oorspronklik van Kwazulu Natal in Suid Afrika af kom. Sy naam is Dr. Markus Mander (46 Windsor Road, Kellyville, NSW, Tel 02 9629 5288).

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings