Thursday, February 28, 2008

Die kratte van die lewe kan so maklik breek

Wanneer mens een keer in jou lewe so baie dinge en mense wat vir jou kosbaar was in die lewe, moes agterlaat of ver verwyder word daarvan, dan besef mens weer die waarde van vriendskap. Vir die vriende wat ons nou al in Australië gemaak het (insluitende die' wat ons reeds van Suid Afrika af ken...julle weet wie julle almal is), wil ek net sê dankie. Ons waardeer julle vriendskap opreg asook al die lekker tye wat ons saam met julle deel. Vir al die kere wat ons op julle knoppie kan druk sê ons opreg dankie, vir die wat saam met ons kuier en die vreemdheid laat verdamp, dankie....

Hier is 'n baie mooi gedig van Ernst van Heerden, wat mens net weer laat besef hoe kosbaar die lewe is asook die mense wat die herinnering aan jou eendag met sorg gaan hanteer, en verby jou foute gaan kyk na die mens wat jy regtig was:

Aan die verhuisingsmanne

Dra saggies, vriende,
Want sierpotte en erdewerk,
Keurborde en fyn glas
Sluit ’n hele lewe
Met sy drome
En verlangens in;

Dra saggies, mededraers,
Want die drag,
Van veerbed,
Tafel,lessenaar,
Druk teen die bors
Se dun skelet;

Dra saggies, regters
Want die oordeel
Oor my klein bedryf
Lê vasgevang
In prente, boeke
En ’n eie ou gemakstoel;

Dra saggies, Gode,
Want die hart se porselein
Is broos en te veel seer
En kwesbaarheid geneig:
Die kratte van ’n lewe
Kan so maklik breek

Ernst van Heerden


Hier is 'n paar gesegdes van C J Langenhoven wat vir my nogal baie laat nadink...

Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir jou vriend, jou hart vir jou ewemens, jou oordeel vir jouself en jou gewete vir jou God.

Beleefdheid is die hoedanigheid van hart wat die stukkende hekkie nie raak sien nie en die aandag vestig op die blomme in die tuin daaragter.

Monday, February 25, 2008

Nog so 'n paar fotos van die Queen Victoria en Queen Elisabeth II

Hier is 'n paar pragtige fotos wat geneem is deur "The Daily Telegraph" koerant van die ontmoeting van die Queen Victoria en die Queen Elisabeth II gister in Port Jackson (Sydney Hawe).

Ek dink Sydney is die mooiste stad wat ek nog gesien het.


Die begin van 'n nuwe week

Dis weer 'n nuwe werksweek hier in Sydney. Ek sit vanoggend hier met seer arm- en beenspiere want ons het gistermiddag tussen 16h00 en 19h00 ons gate uit geniet met die "Boogey boards" by South Curl Curl strand naby Manly. Dit is seker een van die lekkerste tydverdrywe hier by die see: Boogey Boarding en (eendag Surfing). Curl Curl strand is net Noord van Manly en so 32 km van ons af via die M2, Delhi rd, via Chatswood en Frensh Forest. Ons gaan altyd daarnatoe omdat daar so 'n lekker groot (amper olimpiese) swembad (getypoel) is waarin mens selfs lengtes kan swem. Ons het dit baie geniet. Die seuns (want ons was saam met vriende daar) het hulle ook gate uit geniet op die branders met die "Boogey Boards", die gety poel en het vir hulle loopgrawe gegrou in die sand en sandgevegte gehou. Aan die einde het ons lekker koffie uit 'n fles gedrink en vir die see gesit en kyk. Die Queen Victoria het juis net voor ons gery het daar verbygevaar oppad na Brisbane. Dit was 'n heerlike sonskyn naweek. Hier is die WebCam van die aangrensende Manly strand gister.

Ek het vanoggend vir die eerste keer 'n ander Suid Afrikaner op die bus ontmoet. Hy het my erken aan my "Beeld" rugsak en gevra of ek Afrikaans kan praat...

Was nogal 'n lekker naweek. Het Saterdag oggend saam met 'n paar "mates" (2 Aussies en 'n Suid Afrikaner) in Hornsby gaan "manne ontbyt" hou.

Nog 'n mylpaal is natuurlik dat ons nou met skoonma en skoonsus hulle kan Video Oproepe maak via Skype omdat ons albei nou Webcam's het. Die kwaliteit is BAIE goed en gaan die verlange sommer 'n groot nekslag toedien. Dis "amper" soos om saam te kuier. Hulle het ons natuurlik daar gesit en lus maak met 'n hele PAK biltong wat hulle voor ons sit en verorber het...en al teenargument wat ons kon gee is dat ons nog seesand in ons ore gehad het van die Boogey Boarding by die see.

Saturday, February 23, 2008

Die Queen Victoria skip besoek Sydney hawe

Ons het vandag bietjie met die trein ingery stad toe. Sommer net vir die lekker. Ons het gehoor die Queen Victoria plesierboot het vanoggend vasgemeer in Sydney hawe en ons wou graag gaan kyk hoe die 2e grootste "Cruise ship", naas die Queen Mary II, van naderby lyk.

Hierdie skip is huidiglik besig met 'n 106 dae vaart reg om die aarde. Dit doen aan by 37 stede in 23 lande. Dit het op op 6 Januarie 2008 vanuit Southhampton in Engeland op sy heel eerste vaart om die aarde begin. Die eerste been van die reis het in tandem met die Queen Elisabeth II plaasgevind na New York in Amerika, waar hierdie 2 skepe ontmoet het met die heel grootste skip wat deur Cunard gemaak is. Daar is met 'n vuurwerkvertoning op 13 Januarie 2008 voor die 3 skepe by die "Statue of Liberty" in Amerika feesgevier (voor die aftrede van die QE II later vanjaar). Daarna is die gaste na Fort Lauderdale naby Miami (Florida), toe na Willemstad (in Nerderlandse Antilles - naby Venezuela), daarna deur die Karibiese see en die Panama kanaal na Puerto Quetzal, Guatemala en verder na Puerto Vallarta, Mexico asook Cabo San Lucas, Mexico. Hierna het dit gevaar via die Stille Oseaan na Los Angeles in Kalifornië Amerika. Daarna het dit gevaar van Los Angeles na Auckland en 'n paar ander stede in New Zealand soos Wellington. Daarna het die skip na Melbourne in Australië gevaar en het vanoggend so 6 uur in die oggend se kant hier in Sydney aangekom. Die meeste passasiers het hier afgeklim en vlieg nou terug na Engeland per vliegtuig. Nog stede wat besoek gaan word is: Bangkok, Singapoer, Kuala Lumpur, Mumbaai, Dubai, Athene en Barcelona. Die goedkoopste kaartjie kos 11000 pond (R 167 013) en die duurste kaartjie kos 116000 pond (R 1 761 228). Lees meer oor die Queen Victoria skip hier. As julle tussen nou en more aand 6 uur (9 uur die oggend daar in Suid Afrika) kan julle by die lewendige webcam gaan kyk wat mens kan sien van die Queen Victoria se brug af hier in Sydney....dit word elke 60 sekondes opgedateer en die skip vertrek 6 uur die aand (dus 9 uur Sondag oggend in SA hier uit Sydney na Brisbane)



Hier is die reisplanne van die Queen Victoria.

Hier is die webcam van die QE II:

En ook die webcam van die Queen Mary II:



Terwyl ons so rustig op 'n bankie daar naby "The Rocks" die gedoente gesit en gadeslaan het, het , begin die vrou wat langs my sit toe sommer met my gesels. Sy vertel toe vir my hoe dit nou vir hulle hartseer is om weer die skip te verlaat omdat dit oor die afgelope 6 weke bykans soos hulle huis begin voel het. Sy het ook in Engeland op die skip geklim en vlieg vannaand terug Engeland toe. Sy vertel toe aan my hoe hulle by ten minste 15 stede aangedoen het en hulle by elke stad kon afklim en die plek gaan verken. Sy merk toe sommer dadelik op dat ek 'n Suid Afrikaner is (uit ons onmiskenbare aksent) en vertel my hoe haar man eens op 'n tyd daar in Midrand gewerk het. Sy wou weet hoe lank is ons nou al op vakansie hier...en ek sê: Nee, ons bly nou al 9 maande permanent hier. Sy sê toe vir my sy moet nog gaan pak en groet ons.

Hier in Sydney ontmoet mens mense van oraloor die wêreld.

Hier volg die fotos van al ons wedervaringe van vandag...

Tuesday, February 19, 2008

Die lewe is 'n reis na 'n spieëlbeeld

Daar was eendag 'n man wat in 'n baie klein dorpie êrens in 'n provinsie in China gewoon het. Soos baie in sy dorpie het hy 'n eenvoudige lewe gelei en sy lewe gemaak deur met rys te boer op sy klein lappie grond. Jaar na jaar het hy daarin gewerk en vir homself en sy vrou gesorg met die geld wat hy by die mark gekry het vir die rys. Daar was egter een tydverdryf waarmee hy baie goed was, en dit was om klein Bonzai boompies te vorm wat presies net soos die ware Jakob gelyk het...net op 'n baie kleiner skaal. Hy het dit gedoen omdat hy lief was vir die natuur en die genot wat hy daaruit geput het om iets so mooi te kan vorm uit iets waaraan hy nie self die lewe gegee het nie, maar wat hy, met baie sorg en liefde kon vorm tot 'n replika van die oorspronklike.

Hy het beheer gehad oor die hele lewensiklus van die klein boompie. Hy het begin deur 'n klein saadjie van 'n groot boom te neem wat hy bewonder het en het daardie klein saadjie dan met groot sorg in 'n potjie geplant in 'n sonkamer agter sy huis wat van bamboes en klei gemaak was. Na 'n paar weke het die saadjie ontkiem en het 'n klein groen stingeltjie met groen blaartjies deur die grondoppervlak gebreek. Vir enigiemand anders het hierdie plantjie maar net na nog 'n doodgewone plantjie gelyk. Maar die geduldige rysboer het die ontsaglike potensiaal van die saadjie geken. Nie omdat hy in die toekoms van die plantjie kon sien nie, maar omdat hy die grasie, skoonheid en grootte van die majestieuse boom geken het waarvan hy hierdie saadjie sien afval het. Hierdie plantjie was afkomstig van saad met buitengewone potensiaal - dit het in dit die plan vir 'n boom gehad!

Dag na dag het hy die saadjie water gegee, kunsmis gestrooi, dit op geskikte plekke in sy sonkamer geplaas om genoeg lewegewende sonlig te kon kry om te kan groei. En die plantjie het gegroei en was gesond omdat die rysboer gesorg het dat daar nie plantluise of siektes op kon kom nie. Hy het groot drome gehad vir hierdie boompie.

Na 'n paar maande, het die rysboer besluit die plantjie is nou oud genoeg vir sy vormingstyd om te begin. Hy het sorgvuldig 'n pragtige pot van die beste Xi'an klei uitgesoek, want dit sou die leefwêreld van hierdie Bonzai weergawe van daardie pragtige boom in die woud uitmaak. Die rysboer het geweet dat net soos by mense, word 'n boom se lewe bepaal deur die grond waaruit jy jou voedingstowwe kry en jy jou wortels in anker. Daarom het hy goeie grond met goeie dreinering en genoeg voedingsstowwe in gebruik om die klein boomplantjie in oor te plant. Hy moes baie sorgvuldig die boompie uit die grond lig en seker maak dat hy nie enige van die klein haarworteltjies beskadig nie, want 'n boom se toekoms word bepaal deur sy wortels. Dit is daardeur wat 'n boom al die minerale en water uit die grond uit opsuig en skade aan die wortels kan maak dat die boompie verdroog.

In sy geestesoog het die rysboer nou alreeds sy boompie begin sien soos dit eendag gaan lyk. Nou het die vormingsproses van die Bonzai begin. Hy het geweet dit gaan baie tyd en geduld verg, maar die resultaat was vir hom genoeg beloning. Dit is 'n proses wat die boom se hele lewensduur sal neem. Deur klein draadjies wat gebruik word om die boompie se takkie in bepaalde rigtings gebuig te hou en met sorgvuldige snoeiwerk het die rysboer jaar in en jaar uit sy meesterstuk gevorm. Daar moes altyd genoeg vog en genoeg voedingstowwe in die pot se grond wees. Die rysboer het altyddeur die groot boom as sy voorbeeld gebruik. Elke dag, wanneer hy oppad mark toe by daai groot boom langs die pad verbygestap het met sy rys en voorrade op sy trekwaentjie, het hy die groot boom bewonder vir sy prag en ook al die honderde jare wat hy al daar staan en reisigers se harte verbly. "Eendag sal mense so lank leef soos die bome", het die rysboer by homself gedink.

Op 'n stadium moes die rysboer vlug uit sy geliefde geboorteland toe die magtige Mongoolse weermag onder leiding van Genghis Khan China binnegeval het. Al wat hy kon saamneem was die klere aan sy lyf en dit wat hy met hom kon saamdra. Hy het gekies om een van sy Bonzai boompies saam met neem - die een waarvoor hy die liefste was. Na baie jare, ver van sy geboorteplek, was die rysboer al baie oud en kon hy nie meer so goed sien soos in sy jong dae nie, maar hy het nog net soveel vreugde geput uit sy Bonzai boompie. Met sy hande kon hy nog die boom se vorm voel, die knoetse in die boom se stammetjie en die reuk van die boompie se blare geniet. Dan, in sy gedagtes, het hy teruggedink aan daardie pragtige Groot Boom langs die pad naby die dorpie waar hy gebore is en as jong man mark toe gestap het met sy ryswaentjie saam met sy vrou. Die boompie het nou al op 'n blaartjie na, net soos daardie Boom gelyk en gevoel.

Soms, tydens die boompie se lewe, moes die rysboer die boompie baie terugsnoei, om seker te maak dat die boompie se groei in die regte rigting oppad is en sy takke nie hand uit ruk nie. Soms moes die stammetjie maar so 'n bietjie harder gebuig word met die draad, maar dit was altyd met een doel voor oë...die boompie sou eendag soos die Boom lyk wat die saadjie gemaak het! 'n Spieëlbeeld van daai Groot Ou Boom langs die pad. En die rysboer het gerus, want sy werk was voltooi : en hy het gesien dat dit baie goed was....

"In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies." (Opb. 22:2)

Friday, February 15, 2008

Al die mense wat so op hul eie slimmigheid vertrou

Aan al die mede reisigers daar buite. Ons is almal oppad iewers heen. Aan almal wat se oë oop is, wat wakker is en besluit het om die toekoms vierkantig in die oë te kyk. Aan almal wat kan saampraat omdat hulle lewe nie net om hulself draai nie, maar wat ook kinders het, of iemand kosbaar waaroor hulle hulself elke dag loop en bekommer. Aan almal wat eerlik genoeg is met hulself om nie mense soos Jurie Els te veroordeel oor sy besluit om New Zealand toe te emigreer nie en ook aan almal wat nie dink hulle is baie slim of onbreekbaar nie. Julle is nie alleen nie.

Dis 'n baie moeilike tyd waardeer ons ou volkie gaan. Ek dink vir baie van ons voel dit of alles wat "eens vas was", maak nie saak of jy bly en of jy ry nie, stelselmatig soos mis voor die son verdwyn...geloof in die opgestane God Jesus Christus inkluis. Vir sommige het die las al bietjie makliker geword, maar baie swoeg en sukkel nog om 'n rusplek vir hul en hul kinders te verseker. Sommige het besluit om te bly en die storm die hoof te bied. Ander weer het aangepak, wat vir hulle voel Everest is. Sommige het hul geloof verloor, en het hulself so deurmekaar gemaak met slimmigheid, dat daar haas niks kinderlike vertoue meer oor is nie. Hulle het hulself skoon van hul vastigheid beroof soos 'n hijacker wat homself in die voet skiet.

Vir al die ander wat nog moed hou:
Hier is 'n wonderlike lied van Don Francisco, wat ek dink julle na moet luister. Nie met julle kop nie, maar met daai kind in julle wat nog in goedheid glo. Julle kan na die liedjie gaan luister deur hier te kliek, of na die "Come Unto Me" track te luister op hierdie bladsy, of selfs hier.

Come Unto Me
Words and music by Don Francisco Copyright 1999

You that have heard My voice
You know the sound
You have not lost the way
You have been found
The door's standing open wide
It's warm in the light
Life beyond dreams inside
Shining so bright

Come Unto Me
Come Unto Me
I'll be your shelter
Come Unto Me

Th' world still is grinding on
But faith has not failed
Hirelings have come and gone
But love has prevailed
I'm still your Father
You are my own
Your Shield and your Sheperd
You're never alone

Come Unto Me
Come Unto Me
I'll be your shelter
Come Unto Me

No one can steal the life
Placed in my care
Sometimes the hardest part's just
Rememb'ring I'm there, but through
Light and through darkness
There's a cloud and a flame
A still small and quiet voice
Calling your name

Come Unto Me
Come Unto Me
I'll be your shelter
Come Unto Me

Come Unto Me
Come Unto Me
I'll be your shelter
Come Unto Me
I'll be your shelter
Come Unto Me

Hou moed.

1 KORINTIËRS 1:21
Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.

Thursday, February 14, 2008

Kom stap saam met my om die blok

Toe ek vannaand die hond vir 'n stappie vat, toe neem ek sommer 'n paar fotos sodat julle kan sien hoe dit hier lyk.



Gaan kyk na die fotos hier.

Dis net een deel van Cherrybrook.

Wednesday, February 13, 2008

Die gesteelde kinders

Vandag was opgedra aan die Gesteelde Generasie...met verwysing na bykans een uit elke drie Aboriginal kinders (wat uit gemengde bloed families gebore is) wat deur die staat van hul ouers en families verwyder is om hulle nooit weer te sien nie, as gevolg van die ideologie dat hulle sodoende beter af sou wees.

Ek dink julle moet die volgende artikel in die Sydney Morning Herald lees..."Kevin Rudd says sorry..."

Hier is die opname van Kevin Rudd se woorde in die parlement vandag...
Sy volledige toespraak is hier.

Die leier van die Liberal Party, nou die opposisie steun ook die apologie en sy toespraak is hier.

En hier is 'n online lys van "handtekeninge" van ondersteuners...

Tuesday, February 12, 2008

Skoolvakansies

Vir almal wat belangstel om te weet. Hier is die datums van die publieke skoolvakansies in Australië:

Gedurende die volgende tye is daar NIE skool NIE.

New South Wales
12 April 2008 tot 27 April 2008
05 Julie 2008 tot 20 Julie 2008
27 September 2008 tot 12 Oktober 2008
20 Desember 2008 tot 28 Januarie 2009

Queensland
05 April 2008 tot 13 April 2008
28 Junie 2008 tot 13 Julie 2008
20 September 2008 tot 05 Oktober 2008
13 Desember 2008 tot 25 Januarie 2009

Victoria
21 Maart 2008 tot 06 April 2008
28 Junie 2008 tot 13 Julie 2008
20 September 2008 tot 05 Oktober 2008
20 Desember 2008 tot 27 Januarie 2009


Wes Australië
12 April 2008 tot 28 April 2008
05 Julie 2008 tot 21 Julie 2008
27 September 2008 tot 13 Oktober 2008
19 Desember 2008 tot 01 Februarie 2009

Suid Australië
12 April 2008 tot 27 April 2008
05 Julie 2008 tot 20 Julie 2008
27 September 2008 tot 12 Oktober 2008
13 Desember 2008 tot 26 Januarie 2009

Tasmanië
31 Mei 2008 tot 15 Junie 2008
06 September 2008 tot 21 September 2008
19 Desember 2008 tot 11 Februarie 2009


Noordelike Gebied
05 April 2008 tot 13 April 2008
21 Junie 2008 tot 20 Julie 2008
27 September 2008 tot 05 Oktober 2008
13 Desember 2008 tot 26 Januarie 2009




Wednesday, February 06, 2008

Ek is nou oor die eerste klippe na 'n Australiese bestuurders-lisensie

Soggens, wanneer ek nog diep in droomland is, word ek deur my selfoon wakker gemaak deur die deuntjie van Elvis se "Return to Sender" op my selfoon. Amper soos in die fliek "Groundhog Day", gaan dinge maar betreklik monotoon en eentonig hul slakke gang hier in die land van die groot springhase. Vir die wat die fliek nog nie gesien het nie, wel dit handel oor 'n ou wat as gevolg van sy egosentriese lewe gedoem is om vasgevang te wees op dieselfde dag totdat hy geleer het om sy selfgesentreerde lewe te laat staan en meer vir sy medemens om te gee. Nogal 'n snaakse fliek van Bill Murray moet ek sê. Wel, dis nou NIE die rede waarom ek die storie ophaal nie, maar eerder omdat die lewe van 'n werkende pa maar baie soortgelyk vasgevang kan raak in roetine...

Wel, totdat jy nou die dag besluit het jou eerste probeerslag in 'n land werk nie so mooi uit soos jy wou gehad het nie, en jy maak daardie finale, diep oordinkte, haas onomkeerbare, verreikende en moedige besluit om te emigreer, dan word jy feitlik weer teruggestuur in tyd om deur dieselfde toetse en beproewings te gaan wat jy, reeds bykans 17 jaar gelede, so naief gedink het jy nooit weer gaan teëkom nie...

...en dit is: om weer 'n keer jou Leerling Bestuurstoets af te lê !!!

Lag maar lekker...maar dit was deel van al die implikasies wat ek reeds in Suid Afrika moes oorweeg, saam met ander goeters soos om weer soos 'n skoolkind Engelse toets te skryf, om van voor af werk te soek, om van voor af blyplek te soek, om van voor af vriende te maak, om weer van voor af vir 'n bankrekening en 'n kredietkaart aansoek te doen, en dan natuurlik om weer jou bestuurstoets te slaag !!!

Dit laat my amper dink aan daai bekende woorde:"...as julle nie verander en soos kindertjies word nie..."
Dit is nogal 'n "humbling experience".

My leerlinglisensie toets het ek by die (NSW) New South Wales RTA (Roads and Traffic Authority) www.rta.nsw.gov.au se myTests webtuiste bespreek vir vanoggend 08h30 hier in Castle Hill. Die DKT ("Driver Knowledge Test) is daarop gemik om jou kennis van die Australiese padreëls te toets en het die formaat van 'n rekenaar gebaseerde "monkey puzzle" / (AAP-RAAISEL) waar jy telkens met behulp van jou vinger een van 3 keuses op die tassensitiewe skerm moet uitoefen. Julle kan die juiste, eenderse en wraggies presies dieselfde toets gaan oefen by hierdie bladsy van die RTA. En nou maak ek nie grappies nie, want hulle stel selfs AL die moontlike DKT toetsvrae beskikbaar om af te laai, sodat jy dubbel en dwars kan seker maak dat jy nie een van die vrae verkeerd het nie. En dit is ook nogal belangrik, want mens word slegs toegelaat om DRIE vrae verkeerd te hê in die algemene kennis afdeling en maar net EEN in die padveiligheid afdeling van die toets. Die toets is in geheel gebaseer op die Padgebruikershandleiding ("Road Users Handbook") van die RTA wat mens ook moet aflaai en leer. Hulle verduidelik daarin breedvoerig hoe die lisensiestelsel in NSW werk.

Kom ons sê jy was 'n jeukerige tiener van so 16 jaar in Sydney. Volgens die NSW padreëls is jy geregtig om jouself van 16 jarige ouderdom in te skryf in wat hulle hier noem: die "Graduated Licensing Scheme" (vanaf bladsy 9 in die handboek)) of GLS ...Aussies het ok mos afkortings vir als. Vir 'n nuweling aspirant bestuurder behels dit die verkryging van 3 verskillende lisensies oor 'n minimum tydperk van 4 jaar voordat hy/sy kan aanspraak maak op die voorreg van 'n VOLWAARDIGE lisensie.

Op 16 jarige ouderdom, na harde swot van al die boeke, gaan skryf jy die DKT Toets ("Driver Knowledge Test") nadat jy 'n oogtoets afgelê het en jy jouself volledig geidentifiseer het en die papiere het om te bewys dat jy in NSW bly. Jy word dan ge-"issue" met 'n log-boek en "L"-skyfie nommerplate wat jy opmerklik voor en agter op jou kar moet aanbring om vir almal om jou te laat weet: PASOP! PADGEVAAR! HIERDIE OU WEET NOG NIE WAT HY DOEN NIE! ...en natuurlik dat jy nie meer as 80 km/h mag ry nie! Verder moet jy ten minste 120 uur (vlieg-ure), ek bedoel ry-ure in jou logboek opteken, waarvan 20 uur in die nag MOET wees. Jy moet heeltyd 'n baby-sitter met 'n vol-lisensie hê, en daar word in swart en wit gestipuleer dat jy volstrek nie in Centennial Park in Sydney mag bestuur nie, en ook nie ander persone op jou kar se dak of in die kattebak rondry nie...(so staan dit daar, net so). As jy enige oortreding begaan..."gaan terug na begin soos in Monopoly".

Na 'n MINIMUM tydperk van 'n jaar (indien jy jonger as 25 is) en jy ouer as 17 is, mag jy 'n bestuurstoets bespreek en indien jy die paal haal, die pyp kan rook of indien dit soos nou, baie hier reën: die mas kan opkom, dan word jy bevorder tot 'n "Provisional Phase 1" P1 lisensie. Nou maak jy opgang in die geledere van die padgebruikers, want sien...nou het jy nie meer 'n baby-sitter nodig nie! Jy moet egter nog met so 'n ROOI P1 letter voor en agter op jou kar rondry vir ten minste NOG 'n jaar. As jy vier strafpunte in hierdie tyd teen jou lisensie kry...word jou P1 lisensie summier vir 3 maande opgeskort. Jy word steeds beperk tot 'n maksimum van 1 passasier onder die ouderdom van 21 jaar tussen 11 PM en 5 AM, en jy mag nie meer as 90 km/h ry nie, al het jy jou bestuurstoets geslaag. Jy mag ook geen voertuig bestuur met 8 or meer silinders of wat "warm gemaak" is nie.

Na nog 'n jaar, wanneer jy 18 is, mag jy die "Hazard Perception Test" (HPT) gaan skryf, voordat jy bevorder word tot 'n "Provisional Phase 2" P2 lisensie. Nou is jou P2 skuifie al groen, wat ook beteken dat jy nou wettiglik 100 km/h op die snelweë mag ry. Jou lisensie word eers na 7 straf-punte ("Demerit Points") vir 3 maande opgeskort. Soos met die Leerling, P1 en P2 lisensies word jy GEEN alkohol in jou boed toegelaat nie, en jy mag ook nog nie 'n ander leerling bestuurder wettiglik touwys maak nie, daarvoor moet jy eers 'n VOL lisensie kry. En daarvoor mag jy eers na 2 jaar aansoek doen, wanneer jy die "Driver Qualification Test" (DQT) moet skryf. (Nou moet jy al baie goed kar-speletjies op jou rekenaar kan speel, want die rekenaar toets se karretjie ry nou wraggies vinnig....)
Dan eers, kry jy jou VOLWAARDIGE AUSTRALIESE MOTOR BESTUURDERSLISENSIE. Met 'n VOL lisensie mag jy 110 km/h op die snelweg ry, jou lisensie word eers na 12 strafpunte in 3 jaar opgeskort en jy mag nou eers 0.05 bloed alkohol konsentrasie registreer...wat 2 biere beteken.

Gelukkig vir ons emigrante aanvaar die RTA darem ons Suid Afrikaanse bestuurderslisensies terwyl jy op 'n tydelike VISA is. Ons mag sommer van die staanspoor af 110 km/h ry, maar die oomblik wat jy 'n permanente VISA kry het jy 3 maande om vir jou 'n Australiese lisensiekaartjie te gaan kry. Dit doen jy deur die "Driver Knowledge Test" te gaan doen (en te slaag) en dan dadelik weer 'n bestuurstoets te bespreek. Indien jy beide toetse slaag word jy in 3 kategorieë lisensies ingedeel:
  • Jy kry 'n P1 (rooi/90 kph) lisensie as jy jou oorsese lisensie vir minder as 1 jaar gehad het
  • Jy kry 'n P2 (groen/100 kph) lisensie as jy jou oorsese lisensie vir tussen 1 en 3 jaar gehad het
  • Jy kry 'n VOL (110 kph) lisensie as jy vir 3 of meer jaar al 'n lisensie in Suid Afrika gehad het
Dit beteken natuurlik jy moet jou SA Lisensie kan vertoon en dit moet steeds geldig wees, want op jou SA Lisensie staan daar wat jou "Date of first Issue" is.
Verder moet jy ook jou Water & Ligte, Telefoon of Huurkontrak bring as bewys dat jy in NSW woonagtig is. Om te wys dat jy nie 'n vervalsing is nie, moet jy 'n ID dokument soos 'n paspoort wys met jou foto daarin asook 'n bankkaart met jou handtekening daarop. Daarby moet jy ook 'n voltooide Lisensie Aansoekvorm saambring.

Ek het 8h30 by die RTA in Castle Hill (18 Anella Ave, Castle Hill) aangekom. Daar was so 15 mense wat gestaan en wag het vir die deure om oop te maak. Anders as altyd hoef jy nie 'n kaartjie te vat en te wag nie, want ek het die hele toets klaar bespreek en betaal teen $35 aanlyn. Die DKT neem so 11-15 minute, waarna hulle die res van jou gegewens op die rekenaar invul. So teen 9h00 was ek klaar met die hele proses. Nou lê nog net die bestuurstoets in 2 weke se tyd oor...dan is ek oor die rivier se brug of oor die hond se stert....

Sunday, February 03, 2008

"South-Africans, please queue here!"

Ek is Swerwer se "Sheila" - Gaan toe mos vanmiddag om manlief en ons kindertjies se kosblik voorrade te gaan "oppot" by Woolies in Cherrybrook. Maar ai, toe ek my kruideniers so halfpad klaar uitgepak het, onthou ek ek het die melk vergeet. Sonder baie goed kan ons klaarkom, maar beslis nie melk nie! Ek hardloop soos 'n besetene na die melkrak en hol weer terug om nie my plek by die betaalpunt te verloor nie en wat hoor ek!? Die een meisie spot- vra die ander een of sy lekker indruk, die tannie agter haar bevestig vriendelik in Afrikaans dat sy haar permissie gegee het. Natuurlik tjip ek net daar in, en ons almal lag lekker saam omdat al 4 van ons in dieselfde tou gaan staan het, sonder dat ons besef het ons praat almal dieselfde taal, maar dis nie al nie!! Hier antwoord ons tilmannietjie terug in Afrikaans en spot dat hy maar by sy till 'n bordie gaan opsit met die woorde: "South-Africans please queue here!" My hart het sommer so lekker warm kombersie gekry, dit bly darem maar lekker om Afrikaans in Australië te praat! Hiep-hiep....hoera!

Hier is die meeste waterparke onder dak

Ons was gister by Stanhope Gardens se Leasure and Aquatic Centre in Blacktown. Die plek is hier.

Daar is heelwat sulke onderdak waterparke hier in die omgewing. Ons was ook al by Ryde onderdak waterpark. Dit is hier.

Heelwat van hierdie plekke, onder andere ook die een in die Sydney Olympic Park is gebou as fasiliteite vir die 2000 Olimpiese Spele in Sydney.
Julle kan dit hier kry.

Op 'n warm Saterdag middag, is daar niks lekkerder as om in een van hierdie plekke, wat die nalatenskap van die Olimpiese spele is, te gaan afkoel nie.

Daar is gewoonlik 'n nagemaakte golfpoel / "see", swembaddens met fonteine, op sommige plekke is daar super-tubes, maar daar is meestal 'n swembad met bane waar mens of kan gaan oefen, of vir die kinders swemklasse laat doen. Dit is baie lekker om heeldag in die water te kan gaan baljaar sonder om bekommerd te wees dat die kinders sonbrand kan opdoen. Die kinders was al 'n hele paar keer tydens die vakansie, wat laasweek geëindig het, daar. Hier is 'n foto van die klomp maats.


Toe ons gister daar was vir een se verjaarsdagpartytjie, kon mens gratis ingaan. Daar was springkastele, kompetisies vir die kinders asook 'n "Carribean/Jamaican band". Die dieretuin het 'n paar diere van naderby vir die kinders kom wys...onder andere 'n Kaola, 'n luislang en nog 'n paar diere. Die kinders het hul gate uit geniet...mens kom eenvoudig om te ontspan en vergeet meestal waar hulle is. Daar is ook heelwat lewensredders aan diens.

Ons het ook hier in Cherrybrook 'n kleinerige sentrum met 'n swembad waar ons kinders swemlesse geneem het tydens die vakansie.

As mens se kinders belangstel en wil uitblink in swem...dan is hier volop geleenthede.

Friday, February 01, 2008

Centrelink

Net om julle so bietjie terugvoer te gee oor die "Family Assistance" waarvoor ons by Centrelink aansoek gedoen het so 'n rukkie gelede.

Vir die van julle wat nie weet nie, Centrelink is die Australiese regering se agentskap wat geldelike bystand gee aan die land se mense. Dit sluit onder andere geldelike hulp in aan families met kinders asook families wat net een broodwinner het. Mens kan daarvoor aansoek doen sodra jy permanente verblyfreg (PR) kry. Dit verskaf hulp wat baie soortgelyk, maar tog heeltemal verskillend van die UIF in Suid Afrika is.

Daar is 'n hele swetterjoel maniere waarop die Australiese regering hulle mense help met geldelike bystand. Gaan kyk gerus hier, om te sien wat hulle alles verskaf. Daar is selfs 'n allowance wat jy kan kry as jy jou werk verloor het en werk moet soek.

Ons het aansoek gedoen vir 2 komponente van "Family Assistance Tax Benefits":

Family Tax Benefit Part A:


Family Tax Benefit Part B :

Daar is ook 'n Rent Assistance komponent, waarvoor jy kan aansoek doen as jou familie minder as $67014 per jaar verdien.

Om 'n lang storie kort te maak...ons kry nou elke 2 weke die volgende direk in ons bankrekening:
FAMILY PAYMENT FROM AUSGOV FTB A $93.80
FAMILY PAYMENT FROM AUSGOV FTB B $87.08

Dit wil sê: 93.80 + 87.08 = $180.88 tweeweekliks

Oftewel:

$4702.88 per jaar (belastingvry)

of

$392 per maand

Met ander woorde: dit is soos om nou asof ek 'n verhoging van $9000 (voor belasting) per jaar op my salaris gekry het sonder dat ons enigiets daarvoor hoef te doen.

Hulle het ons ook addisioneel terugwerkend al die betalings gegee wat ons sou gekry het vandat ons die permanente VISAs in ons paspoorte gekry het.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings