Thursday, January 03, 2008

Die winkel stormloop is oor en die nuwe jaar is hier

Hier by my werk is daar hierdie week net so 'n paar dapper krygers wat na die geveg teruggekeer het nou nadat die Desember vankansiedae ten einde geloop het.

Hulle noem die kerstyd hier die "Silly Season", en ek kan nou goed sien waarom... Mense is amper soos voetsoldate van die begin van Desember deur die magdom reklame op TV en in die koerante "opgeroep" om tog net nie te vergeet om "betyds" hulle kersinkopies te doen nie. Dit sou tog 'n verskriklike "ramp" wees as klein Jannie en Sannie (of is dit nou Joey en Jessica) sou uitmis op die nuutste XBox of iPod uit Amerika. In hierdie opsig verskil ons niks van die Aussie mense nie, want die kooppartytjie is hier net so groot as in Suid-Afrika...met die verskil dat die partytjie hier nie "gespoil" word deur skelms wat jou gaan "hijack" of doodskiet om hulle hande op al jou nuwe kersfees speelgoed te kry nie. Net as mens dink dat jy bietjie verligting gaan kry van die magdom reklame wat jou tot en met Kersfees gebombardeer het, dan spring hulle hier NOG meer geesdriftig weg met hernieude ywer net die volgende dag...skielik is alles tussen 30 en 50 % goedkoper! Dan is dit die winkels se "twice yearly stock clearance"! En dan adverteer hulle eers...want sien, nou moet hulle die KOOP-golf ry om van al daai oortollige voorraad ontslae te raak. Klere, parfuum, meubels, grootskerm plasma TVs en natuurlik al die ou 2007 model karre MOET verkoop word! Hulle moet die "Ysters smee terwyl dit nog warm is". Of is dit nou die "boompies buig terwyl dit nog jonk is"? Want sien....selfs die kinders is hul gewillige teikens. Net soos in Suid Afrika kom kinders se etes byna ALTYD saam met speelgoed - so asof die kinders hier net eenvoudig nie instaat is om te eet as hulle nie kan speel nie. Vasgenael sit hulle voor die rekenaars, want die Apples en "Notebooks" wat hulle vir kersfees gekry het, verwys nie na vrugte en skryfbehoeftes nie.

Ek bly steeds verstom oor hoe duur kos en klere hier in Australië is. Selfs al skakel mens dit nie om na Rande nie, maak basiese goedere steeds 'n baie groter deel uit van jou salaris as wat mens gewoond was. Dit is glad nie ongewoon om meer as $60 te betaal vir 'n handjievol kruideniersware soos melk, brood en 'n paar noodsaaklikhede nie. Die lewenskoste hier in Sydney is nogal duur, maar tog kom mens goed uit met jou geld. Iets wat ek nou redelik seker is van, is die feit dat vars groente en vrugte se kwaliteit baie goed is hier. Dis soos om by al die winkels "Woolies" kwaliteit te kan koop - maar ek moet sê: mens betaal vir daardie kwaliteit. 'n Mens se waardestelsel van "wat is duur" en "wat is goedkoop" is heeltemal ge-konfoes as jy hier is, en jy gee later op om te probeer bepaal of iets duur is of nie...en jy koop net wat jy sover leer ken het. Dit raak net TE VEEL vir jou brein om elke bedrag in die regte vakkie te kan sorteer!

Ek het wel al 'n paar keer onder die versoeking gekom (as gevolg van die konstante indoktrinasie van advertensies) om nog 'n ou karretjie aan te skaf, maar het myself gelukkig nog bedwing en ry nog getrou bus en trein elke dag. Stresloos, padwoede-vry en sonder worries. Dis nogal verbasend hoeveel verskil die afwesigheid van skoolkinders wat moet skooltoe aan die verkeer op die paaie maak. Ek kan nou maklik iets voor 8 in die oggende die bus kry by my huis en gemaklik betyds by die werk kom, waar dit in skooltyd 40 minute vroeër moet wees.

Die sterftes op die land se paaie hier in Oz is glad nie vergelykbaar met die padsterftes in Suid Afrika nie. "Holiday road death toll hits 27" was die skokkende artikel op 28 Desember hier! Elke mens wat teen 'n paal of in 'n restaurant se venster vasry maak hier nuus, elke "mugging" wat op video vasgelê is word op hoofnuus vertoon en elke moord word landswyd gebeeldsend!
As daar agtergekom word dat kos by 'n restaurant 'n klomp mense voedselvergiftiging gegee het, word die plek openbaar gemaak. As hulle agterkom "prawns" uit China bevat te veel hormone, dan word die hele bedryf se invoere van Chinese seekos sommer summier gestop. Ek dink wat mens hier veilig laat voel is nie dat hier nie misdaad is nie, maar die feit dat die skelms hier "actually" gevang word. In een berig lees dit : "The local community should feel a lot safer knowing the police are working tirelessly out on the street and behind the scenes to lock up crooks".

Ek dink nie mens sal sommer weer aanpas in 'n land waar jy nie elke aand in vrede kan slaap nie. Ek slaap vandat ons hier aangeland het soos 'n baba. Ons sekerheidsprosedures het tot so 'n mate uitgerafel dat ons ten minste een keer per week nou by die huis kom om met 'n skok agter te kom dat ons jou wragtie waar vergeet het om ons garage deur toe te maak terwyl die deur in ons huis in nie eens gesluit is nie. Ek glo nie ek weet eens of al die vensters kan sluit nie.

Dit verbaas my soms as ek sien hoe baie die Aussies soos ons is. Alhoewel dit aanpassing pynlik is, gebeur dit wel, dog stadig. Waar ons eers soos vreemdelinge gevoel het toe ons in die Castle Towers winkelsentrum rondegeloop het, voel dit vir my nou presies soos ek altyd gevoel het toe ek by die Centurion Sentrum of die Mall @Reds ingeloer het vir 'n wegneem-ete of 'n fliek op 'n Dinsdag aand. Daardie vreemdeling-angs is weg en mens voel nou soos een van die "natives". Om die waarheid te sê: dit voel vir my soms asof ek veel meer in gemeen het met die oorwegend Europese mense hier as wat ek ooit in gemeen gehad het met die kinders van Afrika. Daar was ek 'n "indringer" en het soos 'n seer oog uitgestaan...hier "blend" ons sommer maklik in....totdat ek my mond oopmaak om iets te sê natuurlik.

Die afgelope week is die opstande in Kenia weer in die nuus, of andersins gestel: dit haal ten minste die nuus hier. Want sien, al nuus wat ons hier in die media oor Afrika of Suid Afrika hoor is as daar iets grootliks skokkend gebeur wat Aussie burgers in Afrika se veiligheid bedreig, of as een of ander land in Afrika van regeerder wissel, of as die sekerheid situasie in Pakistan die Aussie kriekettoer bedreig. Van die misdaad toestand in Suid Afrika weet hierdie mense niks. Niks. Niks. Hulle is salig onbewus daarvan - dalk is hulle tog bietjie stomgeslaan oor die tename in immigrante van daar af, maar dit is hoofsaaklik die storie. Een ding wat ek net agtergekom het....en dit is die feit dat daar waarskynlik net so min beriggewing hier sou wees oor Suid Afrika indien daar 'n "Rwanda" situasie sou uitbreek as wat daar oor die res van Afrika berig word. Dit haal net 'n "terloopse" beriggie êrens op die bladsy...die mense is dan vir so 'n paar oomblikke geskok en dit is maar dit. Daar sal nie hulp van hierdie kant af kom nie...hulle sal salig onbewus wees van wat regtig aangaan. Wat hulle betref is dit maar net nog 'n manewale van die stout kind Afrika.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings