Tuesday, January 30, 2007

Ons VISA aansoek het aangekom in Adelaide


Hierdie foto het ons geneem by Hanover oppad na Beaufort Wes (ZA). Het nie geweet hulle hou 'Rock Shows' daar nie.

Wel, ons wag nogsteeds dat die kredietkaarttransaksie vir die VISA geld moet afgaan, maar ons het uitgevind en die aansoek het darem al 11 Januarie 2007 daar by Adelaide se "Skills Processing Centre" aangekom.

Posted by Picasa

Wednesday, January 24, 2007

Ons hunkering na rigting en leierskap in ons lewe

So 'n rukkie terug kom ek naas Koos du Plessis op nog 'n "Koos" af wat skielik na baie jare weer bekendheid kry...en dit is Kommandant Generaal Koos de la Rey. In Louis Pepler (Bok van Blerk) se trefferliedjie : De la Rey word hy as't ware weer uit die verlede teruggeroep om 'n jong Afrikaanse nasie te kom lei waar hulle verdwaas en verskrik die huidige vraagstukke en vrese van 'n Nuwe Suid Afrika in die oog moet staar. Die liedjie bring heimwee in almal wat baie jare gelede trots "Ons vir jou Suid-Afrika" op aandag gesing het. Dit laat jou voel jy is deel van iets groter as jou daaglikse stryd om oorlewing in die nuwe betonoorlog van papierwerk, emails en agendas by die werk.

Die liedjie is deur Sean Else, Johan Vorster (beide van Eden) en Louis Pepler (Bok van Blerk) geskryf en getoonset.

De La Rey

Op 'n berg in die nag
lê ons in die donker en wag
in die modder en bloed lê ek koud,
streepsak en reën kleef teen my

en my huis en my plaas tot kole verbrand sodat hulle ons kan vang,
maar daai vlamme en vuur brand nou diep, diep binne my.

De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.

Oor die Kakies wat lag,
'n handjie van ons teen 'n hele groot mag
en die kranse lê hier teen ons rug,
hulle dink dis verby.

Maar die hart van 'n Boer lê dieper en wyer, hulle gaan dit nog sien.
Op 'n perd kom hy aan, die Leeu van die Wes Transvaal.

De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.

Want my vrou en my kind lê in 'n kamp en vergaan,
en die Kakies se murg loop oor 'n nasie wat weer op sal staan.

De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.



Ek sien iemand het die musiekvideo op YouTube gesit en dit kan hier gesien word.

Julle kan gerus ook gaan lees watter lof het Koos Kombuis in hierdie artikel vir die liedjie, Generaal Koos de la Rey en vir Bok van Blerk.

Gaan lees bietjie oor Genl. Koos de la Rey by wikipedia.
Oor die anglo boereoorlog hier
Gaan kyk gerus na fotos van die boereoorlog.
Hier is ook 'n paar fotos van Generaal Koos de la Rey:

Offisiere Generaal JH (Koos) De la Rey


Offisiere, Generaal de la Rey is een van die laaste leiers wat oorgee



Kommandant Koos De la Rey was 'n trotse lang man

Vir almal wat terugverlang na Suid Afrika

Ons is nou wel nog hier in Suid Afrika, hoop om spoedig die hasepad te kies...

Ek sit nou hier en luister na Koos du Plessis se liedjie: "Najaarsdroom" en dink toe sommer aan almal wat terugverlang na hul land asook die wat terugverlang na hoe ons land eers was...

Najaarsdroom : Koos du Plessis
nog 'n najaar in die vreemde
met my drome sonder tal
en ek weet die winter kom weer
met sy sneeu wat ewig val

ek ken die Rynland-nagte
die Alpe met sy sneeu
die Swartwoud se geheime
en die liedjie van 'n meeu

maar hier buite sterf die somer
en ek sien die blare val...
en iewers skyn die somerson
op die velde van Transvaal
en erens dreun die branders
aan die strande van Natal

ek sit soms en ek luister
of ek dalk in die wind
die Vrystaat en die Boland
se stemme terug kan vind

ek ken die Spaanse nagte
die Alpe met sy sneeu
ou Amsterdam se gragte
en die liedjie van 'n meeu

...erens dreun die branders aan die strande van Natal.

Gaan lees bietjie hierdie artikel oor Koos du Plessis op Litnet

Moontlike werkgeleentheid in Sydney

Nou ja, hier is ek nou weer op dieselfde bootjie as voorheen. In my soektog na werke in Australië kom ek toe nou mos af op 'n maatskappy wat baie belowend lyk en ek stuur my CV vir hulle. Dit was 28 November 2006. Hulle laat my toe die 29 ste weet dat hulle baie in my "skills" belang stel en dat ek hulle op hoogte moet hou van die vordering...

Begin Desember toe ek my ACS goedkeuring kry, toe laat weet ek hulle die 3e Januarie dat ons die 136 VISA ingestuur het en dat dit waarskynlik 5 maande of meer gaan neem. Op 8 Januarie kom hulle terug en sê dat daar 'n posisie is wat hulle vir my het en of daar miskien 'n manier is om die VISA proses aan te help. Ek stuur toe maar vir hulle al die inligting oor die sponsor VISA opsies wat daar is en 10 Januarie bel hulle my op my selfoon en ons hou toe 'n onderhoud van meer as 'n uur lank. Dinge klink baie positief en hulle sê dat hulle bietjie na die VISA opsies sal kyk. Op 15 Januarie kry ek weer 'n epos dat hulle dit nog ondersoek en vanoggend dat die MD na die VISA opsies kyk. So nou wag ons.... :-)

Monday, January 22, 2007

Ons huis word verkoop

Saterdag besluit ons toe om ons huis te verkoop. Dit is nou nie meer 'n vraag of ons Australie toe wil gaan of nie, dit is 'n uitgemaakte saak. Ons het besluit om maar die huis verkoop af te handel sodat die koop kan deur wees voordat ons moet oorsee gaan. Ek besef dit is 'n bietjie van 'n waagkans omdat ons nog nie eers 'n VISA het nie, maar dis 'n kans wat ons bereid is om te vat. Ons buurman se seun koop die huis by ons, wat beteken dat ons agente kommissie uitskakel. Ons gaan nou 'n huis in 'n sekuriteits Estate huur wat ons minder per maand gaan kos as wat ons nou vir al die sekuriteit en belastings betaal.

Dit voel nogal erg, wat ons wonder of ons al ons goed in die nuwe huis gaan inkry. Dis nou wel 'n ekstra trek, maar dit gaan ons gewoond maak aan die gevoel om weer te huur en ons die kans gee om solank van onnodige dinge ontslae te raak.

Sunday, January 14, 2007

Die IELTS (Engelse) Toets is nou agter die rug

Ja nee, gister het ek toe mos die vereiste IELTS (International English Language Testing System) toets afgelê. Ek moet sê: ek was nogal bietjie bang voor die tyd. Dit, ten spyte van die feit dat ek nou al reeds seker al omtrent 23 jaar van Engels leer, Engelse TV kyk, Engelse flieks kyk, Engels as vak op skool gehad het, in Engels gestudeer het, in Engels klas gegee het en nou al reeds 9 jaar in Engels werk. Dis maar een van daai bergies wat ons trekgeselskap in ons trek oor die Drakensberge (die VISA aansoek) moet oorkom.

Laas laweek het ek spesiaal die werkboek deurgewerk om weer te sien of ek nog met 'n pen kan skryf...mens verleer dit nogal na soveel jare se rekenaar werk. Die werkboek het my defnitief gehelp, al was dit net om my voor te berei op wat ek te wagte kon wees.

Sake het so verloop:

Vroeg gisteroggend 7 uur is ek hier weg oppad na die Wits College of Education in Johannesburg....dis waar die "gevreesde" toets afgelê sou word. Mens ry maar met die N1, volg dan die M1 na Johannesburg se middestad en draai by die St. Andrew's afrit links, volg die pad links en so by die 3e kruising of so draai jy links in die Wits kampus se "relatief verlate" gronde in. Ons het in die Boice blok toets geskryf, wat basies die blok aan jou regterkant is net voor jy by die sirkel kom. Hier is die koordinate van die plek: -26.1796390, 28.0425113 (lat,lon)

Soos verskrikte skoolkinders op hul eerste dag op hoerskool het die mense daar in die voorportaal saamgedrom totdat ons in rye gemaak staan is volgens alfabetiese vanne. Ons moes on paspoorte wys (en mense, moet nie net 'n afdruk bring nie asseblief!!) en saam met die paspoort fotos en registrasie vorm ingee. Al die "sakke en boeksakke" is met nommers gemerk en moes buite die lokaal ingegee word. In die "klaskamer" lokale is ons naampies en registrasie nommer netjies op skoolbankies saam met 'n kit-kat, 'n botteltjie gebottelde water, 'n pen en podlood en uitveer neergesit. Ons moes ons selfone afsit en in die gemerkte koevertjies voor ons verseel...dit het hulle later ingeneem...sodat ons nie dalkies vir ons maatjies sal SMS om ons krip notes te stuur nie... Die strak gesigte van die hoofsaaklik wit mense van in hul laat twintigs tot seker so vyftig, was in strak kontras met die British Council se personeel wat geheel en al uit baie vriendelike swart mense bestaan het. Die personeel was duidelik goed georganiseerd...vir elke persoon wat die toets sou aflê was daar plek voorberei op sy lessenaartjie. Niemand het geweet wat presies vir hom wag nie.

Die personeel het die verigtinge bykans 100% volgens die "boek" gedoen...wat hulle bykans woordeliks afgelees het. Vir die luister toets het ons na 'n CD van die British Council geluister op die hi-fi voor in die lokaal. Stroopsoet het almal geluister en kon vir elke 5 van die 40 vrae eers die vrae lees en dan is 'n stuk gespeel waarin die antwoorde in die presiese volgorde van die vrae in die stuk voorgekom het.

Daarna het ons die leestoets gedoen wat ook 40 vrae gehad het. Al raad wat ek kan gee is: moenie die eerste antwoord gee wat jy raaksien in die begrips leestoets nie, want daar 'n paar plekke in die toets waar die sinne lyk of dit die presiese antwoord op 'n vraag is, maar net effens anders, terwyl die korrekte antwoord in effense ander woorde verskuil lê. Moenie net antwoorde soek nie...lees die hele stuk en verstaan dit. Daar is oorgenoeg tyd.

Daarna het ons almal soos in Engelse klas op skool 'n brief en 'n opstel geskryf. Ons moes deurentyd soos in Graad 2 alles in podlood antwoord, maar die "essay" kon in pen gedoen word.
Hierna was die toets klaar. Die koeverte met die selfone in is uitgedeel en die mense het soos druppels uit 'n kraan uit die lokale gestap met hulle botteltjies water in die hand. Die eerste slag van ons stryd was verby, nou het nog net die mondelinge toets voorgelê. Dit was nog vroeg (net na 12) en ek het sommer na 'n winkelsentrum toe gery en by 'n coffee shop 'n club sandwitch gaan eet. Vir my is Johannesburg maar vreemd, want baie van ons Pretorianers kam mos nie baie daar nie. Deur die strate van Johannesburg het 'n paar mense hul gewonde gang gegaan en ek kon 'n paar mense op kanoes sien ry toe ek by die Emmarentia dam verbyry.

Dit was gister baie warm en ek is daarna toe sommer reguit na die British Council se kantore waar ek 16h20 'n mondeling sou doen...om in hierdie hittige weer in die kar te wees was g'n speletjie nie, die aircon ten spyt. Die British Council se parkeerterrein is hier :
-26.1892403, 28.0392012

Ek besluit toe maar om "aan te meld" en daar in die wonderlike lugversorgde kantore se ontvangs te sit en wag. Dis vriendelike mense hierdie, hulle neem my toe sommer deur na war ek die "speech" moet gee. Dit was nog so twee ure se wag vir my, maar om die tyd om te kry besluit ek om met elke kandidaat emmigrant 'n geselsie aan te knoop.

Die onderhoud self behels iemand wat 'n lysie vrae vir jou vra oor jou werk, waarin jy belangstel en watter gebeurtenis jou lewe verander het. Ek kan verstaan hoekom die ou wat die "onderhoud" voer al teen hierdie tyd van die dag die vrae soos 'n resitasie opsê, want daar was seker so 4 lokale van omtrent 100 mense elk wat al deur die arme drommels beoordeel is en teen hierdie tyd vind hulle dit seker al moeilik om werklik belangstellend te lyk in die antwoorde op vrae wat hulle seker al honderde kere gevra het...Hy vra my om hom te vertel oor iets baie interessant in my lewe, en ek besluit om hom te vertel van al ons wedervaringe op ons Scuba ekspedisies by Sodwana...Ek kon sien hoe hy sy lip byt van belangstelling om my nie verder uit te vra nie, maar die ou moet volgens sy lysie werk en ek kan sien dit is baie moeilik.

Wel, dit was my dag by die Engelse toets. Ek sal die uitslae seker een van die dae in die pos kry.

Friday, January 12, 2007

Eendag sal ons rus kry...

Wie Weet (Jopie Adam) - Koos du Plessis

Diep-diep in die bosse is 'n poort na 'n vergete land
Waar ons stil dae slyt
Leef en droom, en swyend luister
Na die voetval van die tyd
Teen skemeraand as hoop weer fluister

Wie weet, iewers is daar dalk 'n land van rus en
Wie weet, waar die vlugteling veilig is
Waar die swerwer eindelik rus
En as daar is
Neem my saam, neem my saam

Diep-diep in die bosse is 'n poort na 'n vergete land
'n Eden half-voltooi
Half-gevul deur halwe vrede
Waar die son nog skaam-skaam loer
Kom kniel en wyk voor half-gebede

Sê my, is daar iewers dalk 'n land van rus en
Sê my, is daar vêr 'n vreemde kus
Waar die swerwer eindelik rus?
En as daar is
Neem my saam, neem my saam
Wie weet, iewers is daar dalk 'n land van rus en

Wie weet



Hierdie lirieke is vir die TV Reeks Jopie Adam deur Koos geskryf, maar die kenwysie kom oorspronklik van die Amerikaanse reeks Grizzly Adams wat handel oor die lewe van James Adams wat onskuldig van moord beskuldig is en in die woud moes gaan wegkruip vir sy lewe.

Die voorafgaande musiek kan hier afgelaai word in PDF formaat.
en die lirieke klink soos volg:

Grizzly Adams Theme Songs Lyrics
("Maybe" written & sung by Thom Pace)

Deep inside the forest
Is a door into another land
Here is our life and home
We are staying, here forever
In the beauty of this place all alone
We keep on hop-in'

Maybe
There's a world where we don't have to run
And maybe
There's a time we'll call our own
Livin' free in harmony and majesty
Take me home
Take me home

Walkin' through the land
Where every living thing is beautiful
Why does it have to end
We are calling, oh so sadly
On the whispers of the wind
As we send a dying message

Maybe
There's a world where we don't have to run
Maybe
There's a time we'll call our own
Livin' free in harmony and majesty
Take me home
Take me home


Gaan lees gerus ook my post op SAAustralia

Monday, January 08, 2007

Om tye uit te werk en afsprake te maak

Ek het op 'n baie handige site afgekom waar mens maklik kan bepaal hoe laat dit is op die verskillende plekke in Australie. Kyk bietjie hier vir 'n Java programmetjie asook hier vir die gewone een.

Om maklik te kan sien wanneer die mees geskikte tye is om Skype gesprekke te reel, kyk bietjie hier.

Dis alles by www.timeanddate.com.

Tuesday, January 02, 2007

Een boek wat ek handig vind oor immigrasie na Australie


Ek lees elke boek waarop ek my hande kan kry oor Australie. Die meeste daarvan is gerig op die toeriste mark, maar ek het op die volgende boek afgekom wat meer gerig is op immigrante:
"Living and Working in Australia", 3rd Edition (2005)
deur David Hampshire

ISBN : 1 901130 80 0
(Klik op die link om dit in Suid Afrika te koop...of gaan soek dit by Exclusive Books)

Dit bevat alles wat 'n mens seker wil weet omtrent die lewe en werk in Australie.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings