Saturday, December 08, 2007

Ons avonture in New Zealand : Vanaf Wanaka langs die mere tot by Haast aan die weskus

Woensdag 28 November 2007

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.Dit was weer tyd om verder aan te beweeg. Hierdie keer na die weskus van NZ. Of dit baie gaan herinner aan die Weskus van Suid Afrika sou ons nie weet nie. Ons was eers van plan om by Franz Joseph Glacier te oornag, maar omdat ons gisteraand so bietjie koud gekry het, het ek besluit om eerder by Haast aan die weskus te oornag. Dit was ten minste by seevlak en bietjie verder van die yskoue bergpieke. Die pad wat ons gery het na die weskus vanaf Wanaka meer, draai so ent weg na die meer Hawea wat jy aan jou regterkant kry. Die pad kronkel dan tussen die berge deur sodat mens dan weer meer Wanaka aan jou linkerkant kry, want die mere is verbind aan mekaar.


'Lake Hawea' holiday park is teenaan die meer geleë en ons was nogal jammer dat ons nie eerder hier gaan afsaal het nie omdat dit so mooi gelyk het. Net as mens dink hierdie meer se water is blinker of blouer, dan kom jy weer om 'n nuwe draai een teë wat jou weer van plan laat verander. Op hierdie stadium dink ek 'Lake Wanaka' is die blouste en mooiste.

Hier is nog 'n panoramiese foto wat ek van Wanaka meer geneem het.

By Makarora, net nadat jy van die Wanaka meer af weg is, het ons gestop by 'n koffiewinkel met baie atmosfeer. Hulle het daar vlae en nommerplate van baie lande oraloor opgeplak. Ons het daar iets vir oggend 'tea' geëet. Die eienaar maak sommer self vir die mense koffie.


Die Makarora rivier wat al lanks die pad loop is 'n mooi ligblou kleur. Ons het op 'n stadium uitgeklim en met 'n paadjie na die 'blue-pools' oor 'n hangbrug geloop waar die kinders met die rivierklippe in die water gespeel het. Soos op meeste plekke waar water so volop is sien mens die kenmerkende 'baard' mos wat teen die bome groei. Ons het gereëld dieselfde lang 'baard' teen die bome hoog in die Drakensberge gesien toe ons altyd daar gaan stap het.


Suid Afrika het ook sulke mooi plekke soos hier in New Zealand. Met die verskil dat mens dit hier ten volle kan geniet omdat jy nie heeltyd vir jou veiligheid vrees nie. Hier is hope en hope toeriste. Baie ry met 'Campervans'. Ons het by Te Anau 'n paartjie ontmoet wat van Denemarke kom. Ons het ook baie mense gesien wat met fietse oor die berge ry en dan sommer net met 'n tentjie in die veld of by kampplekke slaap. Toerisme sou na my mening ook baie groot kon gewees het in SA indien toeriste as 'gaste' gesien was en nie as 'prooi' vir 'n groot hoeveelheid 'elemente' in die samelewing nie!

Toe ons by Haast aankom het ek bietjie met 'n smal paadjie gestap na die see om te sien hoe dit hier lyk...en ek het 'n plek tegemoetgegaan tataal onaangeraak deur die mens, ongerep. Dit herinner mens nogal aan 'n strand waarop Robinson Crusoe net sowel kon uitgespoel het.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings