Monday, December 03, 2007

Ons avonture in New Zealand : Op die Suid Eiland vanaf ChristChurch na Omarama

Donderdag 22 November 2007
Vandag vlieg ons ChristChurch toe met 'n binnelandse vlug. Dus, het ons gelukkig nie nodig gehad om deur die doane te gaan nie...

...ok maar goed, want toe ons vanoggend opstaan was my seun weer aan die beurt om siek te wees. Hy het gekla dat hy nie lekker voel nie en naar is. Wat kon dit tog veroorsaak...sommer so uit die bloute uit! Ons het vandat ons hier aangeland het seker gemaak dat ons net gebottelde water drink...as mens in 'n vreemde land is is jou maag mos nog nie gewoond aan al die nuwe bakterieë nie. Nou ja, wat mens nie dood maak nie maak jou sterk, want vanoggend loop nou nie juis volgens plan nie! Ons moet 11h30 inboek vir die vlug en hier is dit nou al 10h00 en hy gooi op en kan nie op sy voete staan so naar is hy nie. Wat gaan ons maak met 'n siek en naar kind op die vlug? Ons MOET vandag vlieg, want ons akkommodasie was net tot gisteraand, ons vlug kan nie gekanselleer word sonder om die geld te verloor nie en ons moet die 'Campervan' later vandag in ChristChurch kry! Wat nou gemaak? Ons was nogal paniekerig. Ons moet ook nog die huurmotor vol maak met brandstof, dit gaan aflaai en dan moet ons nog by die binnelandse vertreksaal ons kaartjies gaan afhaal en ons bagasie inboek.

Terwyl my vrou die bagasie solank reggekry het is ek toe weer met my siek seun dokter toe. Hy kon nie eens die rit dokter toe doen sonder om op te gooi nie...wat nog van 'n vlug na 'n ander eiland toe. Ons moes toe maar soos al die ander in die wagkamer gaan sit en wag. Nadat ek vir hulle vertel het dat ons nog 'n vlug moet haal het hulle ons toe in die 'therapy room' laat sit en wag vir die dokter. Na 'n hele ruk op hete kole het 'n vrouedokter ons gesien. Hulle gee hier nie 'suppositories' nie. Dit veroorsaak blykbaar 'neurological problems' by kinders. Maar hoe gaan ek hom nou kry om die naar-medisyne in te hou? Teen 11h15 staan ek toe nog in die ry van die apteek om die medisyne te kry. Die dokter het gesê hy moet maar net elektroliete inneem en dat dit waarsynlik 'n maaginveksie is. Hulle gee toe vir my die elektroliete in so 'n liter bottel... Sug... Nou hoe gaan ek die' bottel op die vliegtuig kry as mens net 100ml in 'n deurskynende sakkie kan saamneem? Uiteindelik gee hulle ons toe aanmaak elektroliet poeier.

Nou ja, so teen 11h45 jaag ek daar weg terug motel toe om die res van die familie op te laai, want ons het 'n vliegtuig om te haal in 'n vreemde land, en wragtig, vandag was die dag wat ons dit gaan verpas as ons nie opskud nie! En ons moes nog gaan petrol ingooi. Alles gebeur mos in stadige aksie as mens haastig is! Gelukkig was die Apex huurmotor mense so vriendelik gewees om sommer in dieselfde kar ons te gaan aflaai by die regte plek en dan self die motor verder te neem. Dankie tog. Teen 12h30 kom ons eers by die lughawe aan (vir 'n vlug wat 13h00 vertrek!), hardloop met tasse en kinders na die Qantas inboek toonbanke, wat aan die heel einde van die lughawe gebou is! Ons kom soos 'n klomp deur-die-weer resiesperde daar aan wat hul bagasie al agterna sleep. Net betyds boek ons die bagasie in. My seun hol maar so met 'n tupper bakkie saam om die ergste op te vang as hy nie meer kan hou nie. Nadat ons bagasie ingeboek is kondig hulle al af dat die passasiers vir ChristChurch na die regte poort of hek moet beweeg... Voor ons ons kon kry sit ons in die vliegtuig. Wat 'n gejaag. Kort voor lank is ons in die lug en sien ons die lappies en lappies groen skakerings onder ons al hoe kleiner word. Die vlugpersoneel het nog skaars die 'cream-crackers' en kaas uitgedeel (want dit is mos 'n laekoste vlug), toe kondig die kaptein al aan dat ons begin afdaal na ChristChurch.

Daar aangeland kies ons koers na die naaste uitgang. My vrou bel die mense van 'Pacific Horizon' en binne 'n ommesientjie is daar iemand wat ons met 'n bussie kom oplaai en na hulle perseel neem. Ons het reeds 'n rukkie gelede 'n 6 bed 'motor-home' of Campervan by hulle bespreek. Ons gaan die Suideiland plat ry in hierdie 'lorrie'! Dit het 'n dieselmotor, weeg amper 4 ton, het 'n yskas, mikrogolf oond, stoof plate, 'n TV, gas verhitting, 'n stort, toilet, wasbak, opwas-'sink' asook hope laaie en kaste. Ons het nog nooit voorheen so iets aangepak nie. Ons het besluit om nêrens plek te bespreek nie en eenvoudig die pad te vat deur die Suideiland en te ry soos wat ons lus het. Dit was net 'n kort rukkie se papierwerk en toe is ons gereed om te gaan. Die meisie wat ons gehelp het, het, het my vlugtig touwys gemaak met al die tierlantyntjies aan die wa, soos onder andere om die rioolwerke se magasyn by die 'dumping stations' van die karavaanparke leeg te maak. As iemand ooit Robin Williams se fliek 'RV' gesien het, dan sal julle onthou dat dit nogal 'n ...spul kan afgee as mens daai deel van die lesing sou mis.
Ons het nie 'n GPS vir die Suideiland gehuur nie, dus was ons terug in die middeleeue met papierkaarte. Gelukkig ken ons van kaartlees. Vroulief tree as navigator op...'short left...caution caution...pasop vir die geel streep....jy gaan al weer oor die geel street!' bestuur my 'backseat driver'. Die eerste bestemming was die winkelsentrum...om voorrade te kry vir die mobiele huis, soos witgoud byvoorbeeld. Het iemand al probeer om 'n 6 meter lang, meer as 2 meter breë, 4 ton, 'pre-fab' huis by 'n besige winkelsentrum te parkeer? Die 'n geringe takie nie! Maar gelukkig is die bestuurdersitplek amper 1.5 meter hoog, wat die petalje darem makliker maak om te dryf. Vroulief het gou voorrade gaan koop by 'The Hub' winkelsentrum, waar ons gestop het en ek het by die kinders in die huis gesit en wag. So 17h00 se kant is ons toe daar weg oppad Ashburton toe. Dit is gelukkig net so 'n uur se ry uit ChristChurch na die kenisse waar ons gaan kuier. Ons het net voor ons uit Sydney gevlieg het agtergekom my kleinniggie bly nou reeds 5 jaar hier in NZ en ons het gereël om vannaand daar by hulle te oornag. Hulle kom van Wonderboom Suid en ek het haar nog voor ons troue laas gesien. Ons was oppad om te oornag op hulle 'lifestyle block' (wat die Kiwis 'n 2 hektaar stuk groen land hier noem waarop hulle 'n paar skape en beeste kan aanhou). Ons het ons 'Campervan' sommer in hulle tuin gestop. Hulle het ons onthaal met lekker braaivleis, pap en sous en ons het tot laat die aand gekuier.

Vrydag 23 November 2007
Die volgende oggend het hulle vir ons hul skape, beeste, hoenders, ganse en nog wat gewys. Dis toe dat ons sien dat een van sy skape siek is en opgeswel is. Ek het gou saam met hom na die bure gery om hulp te vra, waarna ons veearts toe is, wat die skaap ingespuit het...klink my dit was toe longonsteking! Ok g'n wonder nie, want blykbaar het die somer nou eers hier by hulle aangebreek, en dit kan baie koud word hier.

Teen 10 uur het ons totsiens gesê, in die pad geval en koers gekies oppad na die groot mere in die binneland van die Suid-eiland. Ons het deur heelwat kleinerige plekkies gery oppad na die eerste karavaanpark by Omarama...daar was Geraldine, Fairlie en Twizel. Oral sien mens net skaap! Baie skaap. Spilpunte wat lowergroen gras natspuit, hoë boom-heinings, hier en daar 'n rivier vol geel struike en plek plek borde wat aandui dat die 'Fire Danger' baie laag is...'n feit wat ons nogal agtergekom het as mens so na die baie groen gras kyk. Oral langs die pad sien mens plaasimplemente. Hier en daar is wit padwerkers aan die paaie werksaam. Miskien het hulle nog nie van regstellende aksie gehoor nie. Ons het ook heelwat wit vrouens gesien wat die Stop/Go bord vashou by hierdie padwerke. Interessant. In die verte sien mens die sneeubedekte pieke al nader kom. By sommige plase is daar sulke groen heuwels wat hoeka soos die Microsoft Windows 'Desktop Wallpaper' lyk, met die verskil dat dit vol skape is! Oral langs die pad is daar geel en piek en pers veldblomme...die soort wat mens gewoonlik by 'n kwekery moet koop en in jou tuin aan die lewe probeer hou. Die eerste meer wat ons by kom is 'Lake Tekapo' waar ons vir 'n wyle gestop het om fotos te neem. Die water hier het so 'n vae blou skynsel en die plantegroei langs hierdie meer is nou nie juis indrukwekkend nie, maar die sneeubedekte berge agter dit maak die prentjie die moeite werd.

Hier is 'n panorama wat ek met CleVR gemaak het van my fotos van Meer Tekapo...

Die plantegroei langs die pad het ook algaande minder groen begin word sodat dit naderhand amper net soos in die Karoo begin lyk het - kompleet soos daar by die Drie Susters. Ek moet sê...New Zealand herinner mens op versekeie plekke nogal baie aan Suid Afrika. As mens na die wye verskydenheid plante kyk voel mens nogal tuis hier, maar om een of ander rede was die vreemdheid in die mense vir ons bietjie meer as in Oz. Ons het telke male nogal terugverlang na ons huis in Australië. Terug na die rit...

So 'n entjie verder met die pad kom ons by die mooiste meer uit wat ons nog ooit gesien het...'Lake Pukaki'. Dis soos om een van die mere uit 'Neverending Story' tegemoet te ry. Van vêr af lyk dit soos 'n see van glas of kristal, en die sneeubedekte pieke in die agtergrond maak dit 'n ongelooflike gesig. Ongelooflik. Onbeskryflik mooi. Gelukkig het ek baie fotos geneem...anders sou julle my wragtig nie geglo het nie - wel, julle kan seker nogsteeds dink ek het die fotos gedokter.

Hier is die panorama wat ek van die fotos gemaak het.

Ek het ook fotos geneem van die baie pienk, pers en violet blomme wat mens oral langs die pad teëkom.



Die eerste karavaanpark waar ons aandoen is in die dorpie Omarama op die oewer van 'n rivier, met 'n stroompie wat daardeur vloei en met pragtige vreedsame treurwilgers wat dwarsdeur die kamp groei. Die koste vir 'n familie wissel tussen NZ$42 en NZ$60 by die verskillende parke. Terwyl die koel luggie waai daal duisende donsveer saadjies soos sneeuvlokkies na benede. Al die staanplekke het kragpunte. Daar is kleedkamers met storte, skottelgoed en wasgoed-was geriewe, plekke waar jy gratis kan gasbraai asook 'n Internet kamer. By meeste van die parke kon ons ook Wyeband Internet koepons koop en inskakel met ons laptop teen 'n tarief van so NZ$6 per halfuur...ons het maar besluit om dit te los vir as ons terug is. Ek het vir ons lekker hamburgers op die BBQ gemaak en toe het ons die 20 min staproete langs die rivier af gaan doen met die pragtige berge oral rondom ons. Die sonsondergange hier lyk net so ongelooflik mooi soos by my ouers in Beaufort Wes met die son wat die skemerhemel letterlik aan die brand steek.


Terwyl ons na sononder sit en drink het aan 'n lekker koppie koffie het die voëls vanuit die bome die mooiste liedjies gemaak. Wat 'n wonderlike manier om 'n dag af te sluit...

As julle na die kaart wil kyk met die fotos van vandag...hier is dit.
Of die skyfievertoning...

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings