Sunday, December 02, 2007

Ons avonture in New Zealand : Ons rit na Rotorua deur die boerderye en terug langs die kus van die Noord Eiland

Dinsdag 20 November 2007
Voordat ons Oz verlaat het moes ons vir ons Case Officer ons reisplanne epos. Hy sou dan die Australiese missie laat weet dat ons Permanente Verblyfpermit toegestaan is en hulle maar die bewys in ons paspoorte kan aanbring. Dus het ons besluit om hulle maar vandag nog 'n ekstra dag kans te gee om seker te maak alles is afgehandel as ons daar kom.

Ons het vandag besluit om die pad van Auckland te vat na een van die baie ou vulkane (een van iets soos 49). Die plek se naam is Rotorua. Die pad daarheen neem ons deur 'n magdom groen, lowergroen, grasgroen, mielieblaar groen en goedbesproeide groen plase. Daar is vrek baie skape hier. Daar is vrek baie beeste hier. Het ek al gesê hier is baie skape? Ek glo nie ek het al ooit so baie skape en beeste in my lewe gesien nie. Hulle staan die groen heuwels vol soos donse op die vorige jaar se donskombers, of nee...soos bosluise op 'n weggooibrak se lyf. Oral.

Hier moet baie boere wees...om die waarheid te sê, ek dink die meeste mense hier is boere... Soos wat ons ry kom ons ook agter dat die plaashuise hier hoofsaaklik van hout of sink gebou is. Plek plek is daar egter plaashuise van klip, maar meer op die suid-eiland. Baie ver van die luukse 'mansions' in Suid Afrika of die peperduur huise met plakpapier bakstene soos in Oz.

Nog iets baie interessant wat ek hier opgemerk het is dat die mense op die meeste plase so 'n digte ry bome reg rondom hulle plaas geplant het wat hulle 'n 'hedge' noem en baie netjies snoei sodat dit sulke drie tot vier verdieping groen mure rondom hulle huise en wingerde vorm. Ongelooflik. Oral waar jy kom is daar sulke mure. Daar is selfs plekke waar hulle 'n 3D doolhof gemaak het met hierdie bome. Dit is ook so dig toegegroei dat mens onmoontlik daardeur kan sien. Ek dink hierdie mure keer die wind baie effektief in die wintermaande af van hulle wingerde en boorde op hulle plase. Of dit, of die NZ mense is baie gesteld op hul privaatheid. Oral waar mens kom is daar spilpunte en besproeiing. Hierdie mense pomp water asof dit nooit uit die mode gaan gaan nie! En as ek so na al die mere kyk in NZ dink ek ook nie dit sal nie. Dit is vrugbare eilande hierdie!

Ek het elke dag se fotos vir julle met die GPS posisies gemerk sodat julle presies tot op minder as 10 meter akkuraat kan sien waar omtrent ons die fotos geneem het. In enige een van die albums kan julle eenvoudig op die 'View Map' knoppie kliek om te sien waar al die fotos geneem is. Kies dan die foto wat julle wil sien van die kaart af. Hier is 'n die eerste kaart. Andersins kan julle op enige foto in die album kliek en dan op die kaart regs onder by 'Photo Location' sien waar die foto geneem is. Hier is die skyfievertoning van vandag.

By die Cambridge Country store (wat eens op 'n tyd 'n kerk geboutjie was) eet ons toe 'n lekker Country ontbyt. Wonderlik lekker. Die winkeltjie self is gevul met die geure wat mens nogal aan Suid Afrika se Mr. Price Home laat dink, vol geurige seep asook allerhande snuisterye, botteltjies en ingelegde konfyte te kies en te keur. Net voor Rotorua kry mens onder andere 'n plek waar mense in 'n moewiese opblaasbal teen die heuwel afrol, 'n binneshuise ski-oord, plekke waar mens quad bike kan ry en ook in 'n luge (amper soos 'n mini kaskar) teen 'n steil heuwel kan afry.

By Rotorua is die reuk van swael in die lug baie skerp. Langs die pad kan mens sien waar die stoom uit 'n magdom plekke uit die aarde uitborrel. Die hele Rotorua is geleë op die plek van 'n baie ou vulkaan wat nou al baie jare dormant is. Maar steeds borrel vuurwarm stoom oraloor uit die grond te midde van die skerp reuk van swael in die omgewing. Ons het bietjie die poele waar die stoom so borrel gaan besoek en dit lyk kompleet asof jy by 'n smeulende vulkaan rondloop. Sjoe maar dit stink! Swael sulfied se moses! Ons is toe daarna na die Rotorua Aquatic Centre waar ons vir so twee ure in die louwarm water van die binneshuise swembaddens gaan swem het. Daardie water word darem net verhit deur die stoom, en is nie van die poele afkomstig nie. Ons het ook by Lake Rotorua gaan inloer - 'n groot binnelandse meer binne in 'n baie ou vulkaan. Die water hier is so vol swael dat dit ooglopend ondrinkbaar is en meer lyk soos 'n maanlandskap as enigiets anders, met die verskil dat daar baie water is. Daarna het ons weer die pad noorde toe gevat en met die see langs teruggery na Manukau City in Auckland. Oraloor kry mens langs die pad steeds die baie hoë boom-heinings, so asof niemand wil toelaat dat mense in hulle erf in moet kan sien nie. Op talle plekke was daar egter padwerke en die verkeer terug was op plekke baie erg, sodanig so dat ons op een plek amper 40 minute baie stadig gery het of selfs stilgestaan het. In Te Puke het ons by 'Subway' vir ons aandete gekoop. Dit was toe reeds amper half sewe in die aand maar nog helder lig. Hier word dit mos eers amper half nege die aand donker. So 120 km van Auckland het die plantegroei begin verander met baie boomvarings langs die pad. Mens ry so tussen die klowe al langs die rivier. Die omgewing is baie mooi. Ons het ook 'n baie mooi sonsondergang gesien oppad huistoe.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings