Friday, December 28, 2007

Die jaar draai

Julle wonder seker teen hierdie tyd al wat vang ons aan, want dit was maar betreklik stil hier in my blog dagboek. Die jaar staan alweer einde se kant toe en die lewe gaan aan. Dit voel soms nog soos gister wat ons laasjaar Desember met ons buurman in Wierdapark oor die muur gestaan en gesels het oor ons planne om Australië toe te trek. Baie water het intussen in die see geloop. Groot verwikkelinge het die afgelope jaar in ons lewens plaasgevind. Dit was as 'n blote gedagte begin het, is nou 'n werklikheid. Ek het toe nog nie eens geweet of ek 'n werk gaan kry in Oz nie, of ons VISA aansoek gaan slaag nie, of selfs in watter stad in Australië ons gaan opeindig nie. Ons lewe vorentoe was to maar net 'n ruwe boomstomp...nou het die figuur van 'n duidelike houtbeeld vorm aangeneem.

Desembermaand was vir my 'n besondere besige maand by die werk. Een ding wat ek van die Aussies kan sê is dat hulle regtig hardwerkende mense is. Daar word nie rondgesit en tyd verspil nie, en hulle skrik nie om hande uit die sakke te haal, skouer aan die wiel te sit en dinge te laat gebeur nie. Op 20 Desember het ons ons jaareind funksie by Efendy, 'n moderne Turkse restaurant in Balmain gehad. Met die geleentheid het die vrouens die kans gekry om bietjie die mense te ontmoet saam met wie hul mans elke dag werk. Dit was 'n baie gesellige geleentheid en ons het oor alles en nog wat gesels. Ek werk vir 'n maatskappy met slegs 9 werknemers, dus was dit 'n baie intieme geleentheid.

Aan die begin van die maand (2 Desember) is ons deur 'n baie vriendelike Turkse vrou uitgenooi om haar 40ste verjaarsdag saam met haar familie in eg Turkse tradisie te gaan vier. Hulle is al sedert die 1960's hier in Sydney nadat hulle van Europa af hiernatoe ge-emigreer het. Daar was 'n magdom kos omdat koskook blykbaar een van hulle lewensroepings is. Na die ete het ons kinders saam met hulle swetterjoel nefies en niggies aan 'n speletjie ddelgeneem waar 'n groot karton arbei met lekkers gevul en opgehang is, en elke kind dan 'n beurt gekry het om die gedoente met 'n stok te slaan. Sodra van die lekkers dan uitval duik die kinders om handevol lekkers op te tel.

Nog iets wat ons hierdie maand gedoen het was om in die omgewing van die Hunter Vallei noord van Sydney te gaan stap. Wat my altyd verbaas oor Sydney is hoe gou jy in die natuur kan kom deur slegs 'n uur of twee uit Sydney uit die pad te vat. Ons het saam met Afrikaanse vriende van ons 'n 'Forestry Hut' naby Barrington Tops gehuur vir die naweek van die 15-16de Desember. Dit is sowat 300 km of 4 ure se ry van ons af. Ons het die Pete's Ridge afdraai vanaf die Sydney-Newcastle snelweg geneem en al met die klein dorpies langs gery tot by die Moonan Brook Forestry Hut naby Barrington Tops. Die presiese koordinate is hier. By een van die klein dorpies het ons 'n yslike groot metaal renoster teëgekom wat Russel genoem is....seker vernoem na Russel Crowe, wat ok mos van Oz afkomstig is. Die gedoente is omtrent so lank soos 'n kar.


Oraloor in die Hunter Vallei kom mens wingerde teë. En dit lyk vir my of daar 'n kunstenaarsroete is omdat baie skilders blykbaar die omgewing besoek vir inspirasie. Die huis waarin ons gebly het was in die 1800's gebruik as 'n skool vir die delwers se kinders aangesien die omgewing op 'n stadium die middelpunt was van 'n groot goudstormloop. Ons het in die aande vir ons 'n lekker groot kampvuur gemaak met 'n hele hoop hout wat die eienaar voorsien het en gesit en gesels langs die "Bush Telly". Die kinders het dit natuurlik baie geniet omdat ons vriende se twee seuns beide met net 'n maand van ons twee kinders in ouderdom verskil.


Die gebied is deel van die Barrington Tops natuurreservaat en ons het heerlik saam met die kinders in die reëwoude gaan stap. Op sommige plekke was die woude baie soortgelyk aan die woude wat ons in New Zealand teëgekom het. Oraloor was boomvarings en mos teen die bome. Daar is baie mooi uitsigte oor die vallei vanaf die Barrington Tops roete wat op plekke hoër as 'n kilometer bo seespieël bereik. Op een plek het ons in 'n woud gaan stap waar die bome so dig teenmekaar groei dat baie min lig die woudvloer bereik. Behalwe vir die sagte gesuis van die wind deur die boomtoppe wat wieg en kraak in die wind, was die atmosfeer in die woud gevul met die klank van 'n magdom voëlgeluide. Ek het vir julle so 'n grepie afgeneem van die pragtige en eienaardige klanke wat een voel in die woud gemaak het. Die eggos en geluide in die agtergrond was die kinders wat wegkruipertjie tussen die boomstompe gespeel het.




Ou-kersdag het ons die oggend na Bicentennial Park (by die Sydney Olympic Park) gaan fietsry saam met die kinders. Ons het twee fietse by die 'Shop' naby Australia Avenue gehuur (daar is selfs tandem fietse om te huur) en ek het my Rollerblades saamgeneem. Ons het toe so 2 ure deur die menigte fietspaadjies van die park deurgebring as familie. Mens ry tussendeur welige "Mangrove" woud wat langs die soutwater groei. Dit was baie lekker.

Kersdag het ons saam met vriende 'n kers-piekniek gaan hou by Wisemans Ferry Park, so 31 km van ons af langs die Hawkesbury Rivier. Ons het vooraf die kos in die oond gaargemaak en daar gaan piekniek hou, gekuier en eers na donker teruggekom.

Op die 26ste, "Boxing Day", het ons saam met Aussie en New Zealandse vriende 'n egte Aussie BBQ geniet. Die kinders is saam op skool en hulle het lekker saam gespeel. Alhoewel ek nou nie juis 'n aanhanger is van die vienna worse wat die Aussies hier op hul BBQ offer nie, kon ons darem vir hulle bekend stel aan ons eie "Steak and Tjops" spesery wat ons op die skaaptjops gegooi het. Ons het baie lekker gekuier en gesels oor alles van All Blacks, die Wallabies tot die Springbokke. Na die tyd het ons saam met hulle tradisionele Christmas Pudding (amper soos vrugtekoek met brandewyn, maar net baie meer klam) en Pavlova geëet (wat die Kiwi's volhou van New Zealand en nie van Oz kom nie) .

Vanmiddag na werk het ek die trein en bus net tot by Epping stasie geneem. Vroulief en die kinders het my toe daar kom oplaai en ons het sommer reguit deurgeskiet na Harbord of Curl Curl strand toe. Dis net so 32 km van waar ons bly in die Hills en 'n wonderlike strand. Die kinders het heerlik baljaar in die see en ook hul pa moeggemaak deur hom rond te laat hol op die strand. Ons het ribbetjies en soetmielies gesit en eet en tot na 8 (want dis dan nog lig) op die strand gesit en luister na die branders, die seilbootjies op die see gevolg en gekyk hoe die talle jong mans en vrouens paddle-ski op die branders. Hierdie is na my mening een van die beste strande om te besoek omdat dit so lekker naby is.

Ons het die afgelope jaar baie nuwe vriende ontmoet...mense van Brittanje, New Zealand, Oz, Turkye, Sicily, Kanada, Libanon. Stadig maar seker, soos wat ons die brug van ons kant oorsteek, kom ons agter dat die mense van Australië ons ook in hulle harte en huise innooi. Ons kom agter dat ons almal maar presies dieselfde is.

1 comment:

  1. Hi julle,

    Lyk of julle so lekker daar aanpas, ek is sommer jaloers! Ons sit nog hier, maar een van die dae is ons hopelik oor in Aus.

    Ek wens julle die beste toe vir die nuwe jaar! Geniet die avontuur ... alhoewel, julle doen dit al klaar!

    Linda

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings