Monday, November 12, 2007

Wie gaan wen?

Dit is natuurlik een van die dae weer verkiesingstyd hier in springhaasland. En watter politieke party die haas resies gaan wen, is iets waaroor almal wonder. Stemdag is Saterdag 24 November 2007. Daar is 'n aftelling by die Australiese Verkiesingkommisie se webtuiste as julle meer wil lees. As 'n buitestaander slaan mens maar al die gedoentes gade en hoor die debatte kan nogal in 'n sirkus ontaard.

Een ding is seker, dit gaan 'n kop aan kop stryd wees, want nie een van die twee grootste partye in Australië (die Liberal of die Labor partye) kon nog nooit 'n volstrekte meerderheid kry nie en die mag het die afgelope 100+ jaar gereeld verwissel tussen die konserwatiewe Liberal party (ek weet dit maak nie sin dat die liberale party eintlik "konserwatief" beteken nie!) en die Labor party. 14 Keer om presies te wees. Die "stryd" word aan die Liberale kant geveg deur John Howard (68) en aan die Labor party (die opposisie) se kant deur Kevin Rudd (50).
Daar is ook heelwat ander partye met in sommige gevalle baie komiese name soos:
"Australian Fishing and Lifestyle Party"
"Australian Greens"
"Carers Alliance"
"Climate Change Coalition"
"Family First Party"
"Hear Our Voice"
"Non-Custodial Parents Party (Equal Parenting)"
"Nuclear Disarmament Party of Australia"
"Senator On-Line"
"The Australian Shooters Party"
"The Fishing Party"
en laaste maar nie die minste nie...die
"What Women Want (Australia)" (WWW) party...

Sover as wat ek die Aussie partypolitiek kon uitpluis...was daar met Federasie (toe die Aussie state onder een regering saamgesmelt het in 1901) net een meerderheids party en dat meeste mense die Britse kroon ge-ondersteun het met die draai van die eeu. Omdat die Aussies so 'n klein nasie wat (maar minder as 3.7 miljoen) het almal dit goedgedink om deel te bly van die Britse ryk...wat op daai stadium op sy sterkste was...omdat meeste mense geglo het dat Australië nie as 'n nasie sou kon voortbestaan sonder die beskerming van Brittanje nie. Daar was dus nog altyd baie sterk bande met die Koningshuis...vandaar ook die baie plekke wat vernoem is na die koninklike familie...Victoria, Queensland, New South Wales. (dink maar aan die prinses van Wallis)

Ek het vir interessantheid bietjie gaan kyk watter een van die 2 partye het oor die laaste 100+ jaar die langste geregeer, en dit lyk vir my hulle loop kop aan kop...kyk bietjie na die volgende "spreadsheet": dit dui die totale ampstermyne (in dae) aan van die verskillende eerste ministers asook hul politieke party assosiasies (ek het die Labor party se ampstermyne in groen gemerk) Kyk bietjie hoeveel keer het die mag geswaai....14 keer

Soos julle kan sien was die "Liberal Party" sedert 1901 'n totaal van 19442 dae (49.76 %) aan die bewind en die "Labor Party" 'n totaal van 19627 dae (50.24 %).

Die eerste werklike verdeeldheid het begin intree met die eerste wêreldoorlog. Brittanje het oorlog verklaar teen Duistland en sy bondgenote (onder andere Turkye). Omdat Australië 'n Britse kolonie en onder die Britse beskerming is was dit dus vanselfsprekend dat hulle saam met Brittanje sou veg in die oorlog. Australië het egter ontsaglige verliese gely tydens die oorlog (onder andere by Gallipoli aan die kus van Turkye). Baie families het vaders en seuns verloor in die oorlog. Op daardie stadium was oorlog toe gaan 'n saak van eer, avontuur en uit vrye wil. Toe Brittanje later vra vir versterkings en die "Liberal" regering verpligte diensplig wou instel, het almal daarteen geskop. Groot hoeveelhede mense en veral vroue het daarteen in opstand gekom om nog seuns oorlog toe te "dwing". Toe William Morris (Billy/the little Digger) Hughes as leier van die regerende "Labor" party 2 keer referendums uitgeroep het oor verpligte diensplig het die volk 2 keer teen dit gestem en hy het uiteindelik soveel steun verloor dat hy by die Liberale moes gaan stemme werf. Die "Labor" party daarenteen was nasionaliste wat gestreef het dat Australië onafhanklik van Brittanje moes word. Dit is nogal interessant om waar te neem dat die Labor Party telkemale tydens die oorloë vanaf 1914 en toe weer na 1941 aan bewind was...juis omdat die "Liberale" party (selfs met Menzies) ten gunste was van verpligte diensplig en die res van die Aussie mense eerder gevoel het dat dit 'n Britse oorlog was.

Julle kan meer oor die eerste ministers gaan leer by hierdie site.

'n Paar ministers is uit hul ampte afgedank deur die Goewerneur generaal, daar is 'n paar dood terwyl hulle in hul amp was, onder andere Harold Holt wat tragies aan die Victoria kus verdrink het en wie se lyk nooit gekry is nie...hulle moes gou 'n opvolger vir hom kry.

1 comment:

  1. Amper sê ek "who cares", want ek dink die meeste van ons in S.A. weet maar min wat in ander lande se politiek aangaan. Maar dis interessant. Ek dink die verskille daar tussen partye is net nie so groot nie, so die verskil in jou lewe as 'n ander party inkom is nie so groot soos dit hier gaan wees bv. as die DA of VF by die ANC moet oorneem nie. (Grappie!)

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings