Tuesday, November 06, 2007

Sydney Jakarandastad verwelkom al die nuwe immigrante

Wanneer mens deur die voorstede ry staan die Jakarandabome nou oraloor vir jou soos uitroeptekens uit, asof hulle jou wil sê: "Jy is nie alleen nie....daar is baie Suid Afrikaners hier!" Net soos die bekende Jakarandabome wat mens uit jou lewe in Pretoria onthou en dit jou so 'n warm gevoel om die hart gee, net so baie mense is hier wat nog Afrikaans koester as hulle moedertaal. Die bome is 'n stille herinnering aan 'n tyd wat verby is in baie van ons lewens. Ons het die afgelope week reeds 2 families ontmoet wat al meer as 12 jaar hier bly...en steeds Afrikaans praat met mekaar. Maar hulle ook volwaardige Aussies en praat soos ons beide Engels en Afrikaans....ons het ryker geword in kultuur. Baie van die Aussies sê vir ons hulle is mal oor ons mooi Suid Afrikaanse aksent.

'n Mens sê dankie in jou hart. Om werklik gelukkig te wees lê nie in groot dinge nie, maar in die klein dingetjies wat mens as vanselfsprekend ervaar. Soos ek nou onlangs in Sarie gelees het: "As jy gelukkig wil wees...wees dan gelukkig!" Di kom egter nie vanself nie, maar uit die keuses wat jy maak. Ons het gekies om hier te wil wees en die warm, vriendelike en ope arms van die Aussies waarmee hulle die magdom kulture wat op hulle "eilandjie" toesak verwelkom, het my die afgelope 5 of so maande regtig laat lief word vir die lewe hier. Hulle kan regtig met opgewondenheid praat van hulle land en stad as jy hulle net 'n halwe kans gee. 'n Mens WIL sommer net 'n Aussie word. Ek ervaar die Aussie mense as plat op die aarde mense wat hard werk, nie op jou neersien nie en jou 'n "fair go" gee om ook vir jou 'n toekoms in hierdie land van uiteenlopende kulture te kom uitgrawe. Almal van ons is ok maar "Diggers" soos wat daar na die goudsoekers verwys is in Oz tydens die goudstormloop van die 1850's. Wanneer mens as 'n vreemdeling in 'n nuwe land aankom, dan beskou jy alles wat die land jou gee asof dit "krummeltjies van die kinders se kos is, wat van die tafel afval". Jy is maar skrikkerig en onseker van waar jy inpas in die nuwe land. Glo my, ek het nie beplan om 'n vreemdeling te wees in 'n vreemde land nie. Ek het soos almal hard gebou aan 'n lewe in my vaderland...my moeite en harde werk belê in die vrugbare grond van Afrika, selfs aangebou aan my huis.

Vandag was een van daai dae waar ek stille opgewondenheid, 'n amperse uitbundigheid ervaar as ek dink aan my lewe hier in Australië. Jy kry jou af-dae en dan weer die dae wat jy nie jou geluk kan glo nie. Na my mening is emigrasie 'n groot skok op jou gestel. Stel jou voor jy word een oggend wakker en omtrent alles wat jy vir jou hele lewe geken het is skielik net weg!! Jou familie is skoonveld, jy ry in 'n ander kar en werk by 'n geheel ander plek, al die bekende plekke is net vae herinneringe in jou kop. Jy praat skielik Engels oral waar jy kom.... En tog is daar 'n kinderlike opgewondenheid...want sien, dit voel of iemand die vryheid en sorgeloosheid van jou kinderdae aan jou teruggegee het. Na so 5 maande hier ry mens al met dieselfde selfvertoue rond in jou eie "valley". Die vreemdheid is besig om soos die sand uit 'n uurglas uit jou gedagtes te loop. Ek kan nie sien hoe mens, nadat jy hierdie vryheid, beskaafdheid, hardwerkendheid, respek en menswaardigheid geproe het...dat jy ooit weer sonder dit sal kan of wil leef nie. Ek kan nou na 'n paar maande hier verstaan hoekom hulle Australië "The Lucky Country" noem...en "The best kept secret". Brittanje het aanvanklik gedink hulle straf die mense om hulle hier te kom "dump", maar die lewenskwaliteit is net soveel beter hier.

Stel jou net voor die ontsettende isolasie wat die oorspronklike "immigrante" ervaar het toe hulle hier aangekom het. Daar was nog nie email, telefone en Skype nie. Dit het 8 maande (252 dae om presies te wees) geduur vir 'n skip om van Brittanje na Oz te vaar. Dit impliseer dat as jy 'n gesprek per brief wou voer met jou familie wat jy in jou land agtergelaat het, dit 'n hele 8 maande sou duur om jou gedagtes en gevoelens wat jy met sorg neergepen het by hulle te laat uitkom. Na nog 8 maande (as jy gelukkig was en die brief nie "in die pos" of ter see verlore geraak het nie) sou jy dan 'n antwoord terug ontvang - 16 maande later. Op 13 Mei 1787 ('n hele 17 jaar nadat Kaptein James Cook op 29 April 1770 by Botany Bay die eerste keer in Sydney voet aan wal gesit het), het 1418 mense in 11 skepe onder leiding van Kaptein Arthur Phillip vanuit die Engelse kanaal vertrek op die lang seereis na Australië. Die 11 skepe (waaronder 2 skepe voorheen gebruik was as slaweskepe) se name was:

  • HMS Sirius (Die vlagskip)
  • Supply
  • Alexander
  • Fishburn
  • Friendship (waarop die vroulike gevangenes was)
  • Prince of Wales
  • Borrowdale
  • Golden Grove
  • Scarborough
  • Charlotte
  • Lady Penrhyn

Van die 1418 mense was daar 578 manlike gevangenes, 193 vroue gevangenes en 14 kinders wat saam met hul gevangene ouers gereis het, 247 manlike vlootsoldate, en sommige se 46 vroue en kinders, 324 seevaarder bemanningslede/matrose en 15 amptenare en passassiers. Die oorgrote meerderheid 785 was dus as gevangenes weggevoer. 'n Hele 48 mense het nie die "emigrasie" vaart oorleef nie terwyl daar ook 22 kinders op die vaart gebore is. Baie is vir slegs 7 jaar gevonnis, maar omdat die kostes so hoog was om terug te keer, was dit eintlik maar 'n lewenslange vonnis...'n "uitsuiwering" van die "laer klasse" in die Engelse samelewing vir misdade wat ingesluit het die diefstal van pampoenplant sade...

Op 3 Junie 1787 is daar aangedoen by Tenerife in die Kanariese eilande, op 5 Augustus 1787 by Rio de Janeiro in Brazilie en middel Oktober 1787 by Kaap de Goede Hoop, waar daar voorraad aangevul is voordat hulle die laaste been van die vaart tot in Australië aangepak het. Die eerste skip (Supply) het op 18 Januarie 1788 heel eerste in Sydney aangekom en die res op 20 Januarie. Die hele vaart was 24000km vêr en het 252 dae (meer as 8 maande geduur). Omdat Botany Bay (waar Kaptein Cook aanvanklik aangeland het - en waar almal van ons aanland omdat die internasionale lughawe daarlangs lê) nie genoeg vars water en goeie grond gehad het nie het Kaptein Phillip besluit om eerder in Port Jackson verder noord(waar die huidige Sydney hawebrug en Operahuis is) aan land te gaan omdat dit ook meer beskut is en dieper water nader aand die land het. Op 26 Januarie 1788 het hulle by die huidige Sydney Cove hul ankers gegooi, waar die Veerbote daagliks by Circular Quay vertrek. 26 Januarie word tot vandag toe gevier as "Australia Day" en is vir elke Aussie 'n dag om op trots te wees omdat dit hulle hulsef aan hul eie emigrasie "reis" herinner.

Van die voorrade wat aan wal geneem is was onder andere 5000 bakstene en duisende spykers asook 'n "pre-fab" huis vir die nuwe goewerneur Phillip. Kan jy dink hoe skaars was iets soos spykers so ver van die industriële sentrum in Londen en hoe moeilik dit moes gewees het sonder enige iets wat vervaardig kon word. Die volgende voorraadskip het eers 2 jaar later weer met nuwe gevangenes in Sydney aangekom.

252 dae as gevangene vasgekluiter in kettings onder die skip se "deck"
24000 km ter see
48 mense sterf tydens die vaart
1.4 liter water om te drink per dag per persoon
Tropiese storms
Siektes
Klere wat deur luise en insekte gevul word sodat al die klere in Rio de Janeiro verbrand moes word...

...dink nou mooi hieroor na as jy ooit weer wil kla omdat jy 12 ure moet stilsit in die vliegtuig en jy aan "jet lag" lei as jy hier aankom en jy nie dadelik jou ma kan bel nie.....

Hulle het ook nie net gedink hulle gaan nooit weer hulle familie sien nie...dit was 'n werklikheid. Hulle kon ook nie iewers 'n werk gaan soek nie....daar was eenvoudig net bosse, riviere, inboorlinge, plante wat hulle nie geken het nie en 'n kwynende kosvoorraad wat na 'n jaar so besmet was deur insekte dat dit gelyk het of die rys en koring...lewendig is.

"Good on ya!" aan al die Aussie mense wat hierdie land so goed vir ons ontwikkel het dat daar nou 'n groot wêreldstad met groen voorstede is om ons welkom te heet.

Net so kom ons mense ook nou hier aan op soek na 'n beter lewe en ons kan maar net sê : "Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves".

Australië se bevolking het oor die afgelope 100 jaar van 3.7 miljoen tot sowat 21 miljoen vermeerder...hoofsaaklik a.g.v immigrante wat 'n beter lewe kom soek. Kyk bietjie na die volgende Australiese buro vir statistiek grafiek :
1901 3,774,100 mense
1947 7,579,400 mense
1971 13,067,300 mense
2004 20,091,500 mense

vooruitskattings:
2021 23,871,400 mense
2051 28,169,700 mense

Kan julle nou sien dat Oz oor 40 jaar nog nie eens soveel mense gaan hê as Suid Afrika nie...interessant ne?





No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings