Sunday, September 30, 2007

Geen nuus is goeie nuus

Goeiedag mense! Julle wonder seker al wat van ons geword het. Hier leef ons, werk ons en kuier ons, gaan sien plekke, doen dinge. In kort, ons raak nou lekker ingeburger hier. In so 'n mate dat ek nou begin vergeet wat is nuut in Oz en wat is dieselfde as in SA. Die somer is besig om stadig maar seker hier aan te breek. Die weer is wonderlik. Ons het die afgelope ruk omtrent net sonskyn dae gehad en nog baie lê blykbaar voor vir Oktobermaand.

Ek werk lekker, maar hard. Daar is genoeg werk by die firma waar ek is om my nog maklik 2 jaar besig te hou, want hulle kry meer werk in as wat ons kan doen. Oor die algemeen kom ek so 17h30 by die huis, maar so nou en dan, dan werk ek vrywilliglik so 2 ure later as ons mikpunte het om te bereik by die werk. Dan stap ek rustig stasie toe in die vars aandlug. Hier en daar stap mense nog met hul kind in die stootwaentjie na 'n straatkafee, daar stap twee jongmense in die straat en af en toe sien jy 'n ou Sjinese tannie of oom aansukkel na 'n restaurant. Dan kry ek stiptelik die trein so 19h22 soos wat dit op die rooster aangedui is en ek klim stiptelik 19h38 af by my stasie. Dit raak net te lekker hier in die aande.

My seun Markus was hierdie week op 'n uitstappie na Botany Bay, waar hy geleer het hoe Kaptein Cook hier aangeland het. Hy vertel my hoe hulle op die strand so 'n mini drama opgevoer het om die geskiedenis te leer ken. Sommige was die Britte en ander die "Aborigines". Hy vertel van Dirk Warthog en moes 'n prent teken van hoe die skepe hier in die baai aangekom het 200+ jaar gelede. Ek het die prent langs my bed...herinner my nogal aan die einste prente wat ons as kinders geteken het van hoe Jan van Riebeeck aan die Kaap aangekom het. Vandag was ons weer Watson's Bay toe. Soos wat ons in die kar ry vertel Markus ons al langs die pad dat hulle ook daar verbygery het met die bus... Hier "voluteer" die ouers om saam te ry op uitstappies en dan kies hulle elke keer een of twee ouers wat dan die uitstappie saam meemaak. Ek is tronts op Markus (wat voor middel hierdie jaar nog nie eens in 'n Engelse skool was nie): hy kry gedurig "Blue Awards" en ook "super speller" toekennings vir goeie spelling. In kort...hy pas ontsettend goed aan hier in die publieke skool.

Klein Naomi doen nou ballet en sy geniet dit baie. Sy is skoon uitgeknip daarvoor. Hulle het ook die week atletiek gehad vir die Kindergarten jaar en sy het blykbaar stof in die oë geskop van al die ander dogtertjie...eerste gekom in die naelope met haar klein maer beentjies. Vrydag het die skole ook gesluit hier in NSW, Oz. Nou lê daar so 2 weke vakansie vir die kinders voor.

Laas Sondag het ons te lekker gaan stap by Muogamarra natuur staproete by ( 33°33'11.69"S, 151°11'12.83"E sien kaart). Ons het saam met ons groter wordende Suid Afrikaanse vriendekring gaan stap...ons is nou al so 6 grootmense en 8 kinders...almal van Pretoria.



Te lekker. Ons het sommer net vir ontspanning gaan stap. As julle op die kaart kyk sal julle sien dat mens nie eens kan sien dat daar 'n staproete is nie. Hulle maak die plek blykbaar net 'n paar keer per jaar oop vir die publiek. Daar is baie mooi uitsigte, alhoewel die plantegroei maar meestal dieselfde lyk. Die kinders het (veral saam met die baie maatjies) dit sommer baie geniet. Om die waarheid te sê, ons kinders het omtrent nie eers in Suid Afrika soveel naby maatjies gehad nie (wel miskien maak ons nou net meer moeite om by mekaar uit te kom). Ons het voor die tyd bietjie piekniek gehou tussen die bome en na die tyd het ons sommer so rondom 'n kuierplek in die veld op boomstompe gesit en kuier. Die kinders het hulself besig gehou deur in die grond te speel, prentjies in die grond te maak en daarna 'n "SURVIVOR" skuiling van afgesnyde boomstompe, takke en blare te bou waarin hulle al te lekker gespeel het.

Vrydag het ons gaan Ten-pin bowling speel in Castle Hill (die plek is hier) saam met mense wat saam met hule 4 tiener kinders nou hier in Sydney bly. Alhoewel bietjie duur (ongeveer $20 per persoon), was dit baie lekker. Daar na het ons tot so 2 ure na twaalf in die nag voor ons "Firepit" gesit langs die "kampvuur". Te lekker gekuier. Ons probeer om ook saam met Aussies te kuier, maar hier aan die begin bou ons maar aan die ex-SA gemeenskap se welstand - die magdom Chinese kan dit doen, hoekom nie ons ook nie.

Vandag was ons na Watson's Bay en het lekker vis en tjips by die Doyles Fisherman's Wharf gekoop en op die gras van Robertson Park gesit en eet en gespeel met die kinders.


As mens so 'n entjie met 'n paadjie aanstap boontoe kan mens die "poort" wat die see volg verby die "North Head"tot by die Sydney Hawebrug duidelik sien.

In die verte sien mens vanaf die park hoe lê Sydney in die agtergrond.

Oral in die park lê mense of en sonbrand, of besig om 'n uiltjie te knip of hulle speel mey hul kinders op die speelparkie. Daar is ook oorgenoeg plek vir party kinders om met hul "skateboards" op die paadjies te ry.

Na die tyd is ons weer na 'n ander strand: Shark Bay. Dit is langs die mooiste park gelee en het 'n wonderlike strand waar die kinders rustig kan swem want daar is nette gespan vir veiligheid.


Groot skepe vaar in hierdie "poort" verby en mens kan te lekker lê en ontspan op hierdie strand. Daar is ook 'n klein restaurant. Al die strande is silwerskoon en daar is toiletgeriewe. Dit is sowat 37km van ons huis af in Cherrybrook en na my mening ry die pad daarnatoe (alhoewel deur die stad) vinniger as die pad van Manly strand af.

More het ons 'n publieke vakansiedag hier: "Labor day". Dus is dit 'n lekker laaang naweek.
Groete uit Aussie land


1 comment:

  1. Swerwer!

    Baie geluk met uitstekende blog! Baie waardevol vir ouens soos ek wat dit ook oorweeg.

    Ook Elektronies geswot van '88 tot'92. In Boekies gebly. Werk nou in telekomms bedryf - ongelukkig nie op MODL.

    My enigste bekommernis is dat ons 2jr oud seuntjie gebore is met Spina Bifida - nie seker of ons die gesondheidstoets sal slaag nie. Probeer op die oomblik uitvind.

    Sal waardeer indien jy dalk 'n tipiese lewenskoste uiteensetting van die lewe in Oz kon gee.

    Sterkte daar!
    Fredrich

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings