Saturday, August 18, 2007

Ons vat die pad na die stad.

Ons het sommer besluit dis weer tyd om pad te vat stad toe en te gaan kyk watter interessante dinge ons alles daar kan ervaar. Ons het spesiaal 'n "baby-sitter" gereël vir ons kinders en saam met ons vriende direk na werk die trein gevat na Wynyard stasie, want dis die laaste stasie voor die Circular Quay (dis mos nou daai jetty waar die Ferries/Veerbote vertrek na Manly toe). Anders moet mens oorklim op 'n ander trein.

Dit was nou ons aandjie uit "on the town", en wat beter as om dit saam met jou vriende te doen.

Ons wou al lankal die Veerboot Manly toe vat en bietjie daar by een van die Restaurante gaan eet het, en nou was die tyd. Eers het ons bietjie in die lewendige stad Sydney se strate rondgedrentel oppad na die Kaai (Circular Quay). Daar is 'n ge-remoer van busse en karre, die geluide van straatkunstenaars wat akoestiese ghitare speel, tieners wat skateboard ry op die trappe van die wandelgange en 'n menigte mense in korporatiewe snyerspakke wat terugkeer van hul dag se werk in die wolkekrabbers van die' stad.

Die kroeë is stampvol mense wat in groepe sit en gesels oor alles en nog wat, en die strate is vol van kleinerige straatkafees. By die Sirkel Kaai het ons vir ons lekker Royal Copenhagen roomys gekoop by die een kafee en gestaan en kyk na 2 ouens wat hul sirkustoertjies met brandende swaarde daar uitgehaal het.

Mens koop 'n retoerkaartjie en elke halfuur is daar 'n Veerboot Manly toe. Met die Sydney Hawebrug (die "groot klerehanger" of "die ysterlong") aan die linkerkant. Dit is so genoem omdat die werke wat geskep is as gevolg van die konstruksiewerk daaraan in die depressiejare van die 1920-1930's baie mense aan die lewe gehou het. "The bridge itself was regarded as a triumph over Depression times, earning the nickname "the Iron Lung", as it kept many Depression-era workers employed."
Dit is gebou met 'n reuse lening van £10,057,170 vanaf Brittanje wat eers in 1988 klaar afbetaal was.

Dis 'n wonderlike gevoel om so oor die donker swart waters wieg-wieg te vaar oor die Port Jackson hawe. Nadat jy 'n baie kort entjie gevaar het, sien jy aan die regterkant die Sydney Operahuis.

Hier is 'n foto wat ek op Wikipedia gekry het:
Dis presies hoe dit lyk as mens in die aand daar verbyvaar. Mens kan voor op die Veerboot staan of jy kan in een van die gemaklike sitplekke binne in sit tydens die rit. Soos wat die veerboot oor die water beweeg kom seemeeue en vlieg al langs die kant van die boot in die donkerte oor die see. Hier is een wat ek afgeneem kon kry...


By Manly aangekom klim mens af naby die "Esplanade" en jy word begroet deur die vars reuk van die sproeiseesout lug by die vasmeerpunt.


As jy so entjie gestap het begin die reuke van seekos gemeng met lekker filterkoffie jou lok na een van die talle seekant restaurante hier by Manly. Ons het vir ons bespreek by 'n atmosfeervolle Spaanse restaurant wat "Alhambra" genoem word. Regtig aan te bevele.

Hulle het 'n spyskaart vol nuwe smaak avonture om te verken. Die kosse word op die tradisionele manier voorberei in keramiek potjies. Ek het 'n lekker dadel en lamsvleis potjie (Tajine) gegeur met heuning, kaneel, gemmer en lemoen saam met soet gebraaide uie, puimedante en amandels gehad.... 'n Smaak ervaring.

So teen 9 uur die aand is ons vermaak deur 3 spaanse dansers met kastenette en die polsende musiek van die "Gypsy Kings" in die agtergrond. Met ritmiese voeteval en handgeklap het hul ons blootgestel aan 'n stukkie Spanje hier in die hart van Sydney.

Mens kan hier jou eie wyn saambring na die rastaurante. Dit staan bekend as BYO (Bring your own), maar jy betaal wel 'n $9 bottelfooi.



Nadat ons lekker gekuier en geëet het, is ons weer terug om 22h15 die Veerboot terug te vang na die Sirkel Kaai toe. Hierdie keer het ons sommer met dieselfde treinkaartjie die trein by "Circular Quay" stasie gekry, vandaar na "Central station" waar ons so 23h15 gestaan en wag het vir die Northern Line trein terug Pennant Hills toe. Oral op die stasie het nog baie mense gestaan oppad terug van hul Vrydagaand "out on the Town".



Die treine is nogal verbasend vol hierdie tyd van die aand. Terug by Pennant Hills stasie het ons darem hierdie keer 'n kar gehad om terug te ry huistoe, en het nie nodig gehad om soos laas terug te stap nie.

Dit was 'n baie lekker aand en hoogs aan te beveel.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings