Wednesday, August 15, 2007

Die Ku-Ring-Gai Chase Natuurreservaat

Steeds besig met ons besoek aan die West Head in die Ku-Ring-Gai Chase natuurreservaat.

Ek het nog 'n panorama foto gemaak wat meer uitkyk oor na die Suid Ooste toe.


Nadat ons lekker piekniek gehou het, is ons toe terug met die West Head pad en het toe sommer langs die toegangspad geparkeer sodat ons bietjie in die veld kon gaan stap sodat ons 'n beter gevoel van die natuur en plantegroei by hierdie plek kon kry. Die roete wat ons gestap het was die Elvina track van so 5km af water toe en weer terug tot by die kar. Die roete is in die voorgrond in die onderstaande 3D kaart.

Mens kry die idee hierdie is groot sandduine wat toegegroei is deur inheemse plantegroei. Die reservaat word rondom omring deur water wat gevul is met seilbote wat oraloor in die water vasgemeer lê.

Die kinders geniet altyd die gestappery baie...my kinders hol sommer sulke groot ente vooruit op die pad.

Daar is 'n baie beperkte verskeidenheid blomme waar ons gestap het. Meeste van die blomme wat ons gesien het was sulke pers-piek veldblomme.

Sommige bome lyk baie oud en vervormd, soos die volgende een wat ek afgeneem het.
Plek-plek kyk mens uit oor die bote in die water rondom die "head".
Soos mens na onder beweeg kan mens baie huise sien met hul eie "jettys"/vasmeerpunte.
Sover ek kon agterkom was die meeste bome of dennebome of dieselfde tipe Eucalyptus bome wat ons ook in die Blue Mountains gesien het.
...end die bome troon hoog bo ons koppe uit soos wat ons afbeweeg met die steil grondpad nader aan die water.
Sommige bome het die mooiste teksture...'n oorblyfsel van die bas wat bars en afbreek van die boom soos dit jaar na jaar dikker word...
Onder langs die water is etlike houthuise van die mense wat in hierdie geweste langs die water bly en met 'n boot bereik moet word. Soos wat mens stap kry jy die vars reuk van denne gemeng met die rook vanuit die huise se hout skoorstene soos wat die mense kos kook hier langs die water.

Die geluid van voëls kan heeltyd in die bome rondom ons gehoor kon word. Dit was 'n lekker stap....so maak ons die' plek, stukkie vir stukkie deel van ons soos wat ons dit te voet platloop.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings