Monday, August 27, 2007

Die 2007 Galston Country Musiekfees

Aan almal wat belang stel. Die jaarlikse lente Country musiekfees word hierdie jaar weer gehou by Fagen Park, Arcadia Road in Galston naby Hornsby in Sydney. Dit vind plaas op Sondag 9 September van 9 am tot 4.30 pm.
Dit begin met 'n Bush Poet's ontbyt en die tema van die dag is "DOWN ON THE FARM".
Daar gaan Karnaval Ritte wees, 'n Ute kompetisie ('n 'Ute' staan vir 'Utility vehicle' en is die Australiese weergawe van 'n bakkie), lekker kos, lekker Country musiek, baie voete stamp en heupe swaai saam met allerhande Country optredes van kunstenaars soos
Kirsty Lee Akers, Mike McClellan, Dragon, and Travis Collins. (Almal nog onbekend vir my, maar daar is net een manier om nuwe musiek te leer ken, en dis om daar te wees.)

Daar gaan ook baie vlooimark stalletjies wees.
Ingangskoste is $15 per volwassene en $5 per kind of $40 vir 'n groot familie.

Hier is 'n paar fotos van vorige kere op die Klub website. Dit word gehou ten bate van die Rotarier klub ("Rotary Club") van Galston se liefdadigheidswerk asook om Australiese Country musiek te ondersteun. Die fees word al sedert 1982 in een of ander vorm gehou.


View Larger Map

Om daar te kom vanaf Kersiefontein ("Cherrybrook"), ry met New Line Road of Castle Hill Road tot julle by Old Northern Road kom, ry tot waar die pad split na Dural toe en neem dan die regterkanste pad (Galston Road). Ry verby Galston Park aan jou linkerkant en draai dan by die Rond-en-bont ("Roundabout" - eie vertaling) links in Arcadia Road wat jy volg vir 1.1 km voor jy die indraai aan jou regterkant kry. Arcadia Road loop voor die afdraai in Gribbenmount Road in wat dan Arcadia Road word. Hier is die aanwysings.

Ons gaan daar probeer wees vir die dag.

Sunday, August 26, 2007

Centennial Park

In die hartjie van die stad is een van die mooiste parke wat ek nog gesien het, genaamd Centennial Park. Dit was vandag "Car Free Day", en geen motors is in die park toegelaat nie. Ons is nadat ons by Bondi Strand was sommer bietjie daar. Het die kinders se fietse en rollerblades (saam met myne natuurlik) ingelaai in die kar sodat ons die kilometers paadjies (wat terloops spesiaal vir fietsryers, drawwers, Rollerblades en skopfietse gemaak is) wat deur die park kronkel kon gaan uittoets. Gaan kyk bietjie wat daar alles is by Centennial Park Sydney. Moet nie hierdie park verwar met Bicentennial Park (oftewel Sydney Olympic Park) wat regs langs die Telstra Stadium is waar die Springbokke teen die Wallabies gespeel het, want dis 'n ander plek, en dis ook nader aan ons hier in die Hills.

Mense...hierdie plek is mooi. Daar is GEEN ingangskoste nie en dit is die ideale plek vir 'n piekniek.

Daar is 'n hele paar mere met eende/swane wat op die water rondswem.


Oral langs die gladde teerpaadjies is groot bome wat die paaie heerlik koelte gee.


Lente is verseker in die lug, want dit het gelyk of die hele Sydney skielik agtergekom het dat dit nou tyd is om weer te begin oefen en om fiks te begin word, want daar was heelwat drawwers, heelwat fietsryers asook mense wat in oefenklere vinnig gestap het deur die park. Hierdie is lyk vir my ook die plek waar die Rollerbladers hulle stokperdjie kom beoefen.

Ek het so 'n video gemaak terwyl ek self deur die park op my nuwe "racing" rollerblades so tussen die bome deur geskaats het...regtig aan te bevele om op 'n "fun" manier oefening te kry.

Bondi Strand

Vandag was 'n wonderlike sonskyn dag na die afgelope week of twee se depressiewe reënweer. Ons het vandag bietjie die Sydney hoof-strand: Bondi Beach gaan verken.

Die strand is 'n hanetreetjie van die middestad af geleë, en die pad daarnatoe is maar redelik besig en vol verkeer. Dit is egter een van die mooiste strande wat ons nog gesien het....en wat meer is, daar is regte golwe, en heelwat branderplank ryers. Ek het so vermoede die strand is gewoonlik baie besiger as vandag, want die meeste mense het nog nie regtig besef dat die reën verby is nie.


Die diepblou hemel en die spierwit strand het dit inderdaad 'n baie mooi dag gemaak.







Bondi Strand (kan dit wees dat die bekende 'Bondi Blue' sonbrille na hierdie strand vernoem is?) is 'n heerlike diep sandstrand, waar die sand soos versiersuiker tussen jou tone deurkrul.

Die geboue rondom die strand is nou nie juis om oor huistoe te skryf nie, want meeste van die geboue lyk nogal verwaarloos.

Die water was nog LEKKER koud. Die seewater was so bietjie warmer as by "Camps Bay" of "Clifton", maar nog heeltemal te koud vir swem na my sin. Die enigste mense wat in die water was, was die "surfer dudes" en hier en daar 'n "lifesaver" wat af-show op die jet-ski.


Oral op die strand was Aussies wat in die son lê en bak, maar heelwat Chinese toeriste wat met netjiese pakke klere hulself voor alles en nog wat afneem.

Daar was baie "surfer dudes" en "surfer sheilas" wat hul ellelange branderplanke agter hulle aansleep oppad iewers heen.

Die kinders het heerlik in die seesand gesit en speel.

O ja...en hier kom hulle weer terug....

Miskien is dit deel van die "image"...om 'n branderplank saam te sleep??

Ek moet sê, ek was heel verbaas met die straatjies van waar ons geparkeer het ( na 'n lang gesoek), tot by die strand. Dit is nou straatjies, met huisies wat mens eerder laat dink aan die ou spoorweghuisies aan die verkeerde kant van die treinspoor (soos hulle sê).

Baie van die huisies is nogal verwaarloos....of is die woord "laid back"?
Voor die huis kan julle 'n ou stoof sien wat sommer op die sypaadjie gelos is...want dis mos weer daardie tyd van die maand wat die Sydney inwoners allerhande goed wat hulle nie meer soen nie sommer net op hul sypaadjie los...almal wat verbyry kan die goed dan oplaai as hulle lus het, want doe stadsraad kom laai dit op so dag of twee later. Gaan lees asseblief die brief van Kanniedood op die SAAustralia forum oor hierdie "vreemde" verskynsel om jou goed op die sypaadjie te los vir ander om op te tel as hulle dit nodig het.




Laat mens nogal dink aan Muizenberg in die Kaap...











Balmoral Strand

So 2 weke gelede het ons bietjie gaan inloer by die strand direk suid van Manly. Dit is in 'n baie beskutte baai en daar is bykans nie golwe nie. Hier is 'n kaart van waar dit geleë is.



Hier is 'n paar fotos van die strandjie. Anders as by Manly is die parkering gratis, maar mens moet nogal baie vêr stap teen die heuwel af as jy uiteindelik gekry het.

Mens kan glad nie die oop see hiervandaan sien nie, omdat die baai heeltemal ingesluit word deur land rondom.



Daai Sondag toe ons daar was, was daar 'n baie groot wynproe aan die gang van allerhande lande se wyne.

In die middel van die strand is daar soos 'n eilandjie met bome en gras wat uitstaan in die see in, dit gee die plek 'n baie lekker eiland gevoel.

Die see lyk soos 'n meer hier, want daar is bykans niks golwe nie.


Ons het te lekker op die strand gesit en roomys eet terwyl ons die sagte koel seesand tussen ons tone gevoel het.

Oraloor het mense sommer net gesit en kuier.





Saturday, August 25, 2007

Iets interessants oor "The Lord Of the Dance"

Op 'n heel ander noot...Ek luister Vrydag toe mos hoe Laurika Rauch die liedjie "The Lord of the Dance" op 'n CD sing...en kan jy glo, die liedjie handel oor Jesus se lewe op aarde. Maar ons het daardie musiek leer ken as deel van die Keltiese "Lord of the dance" dansgroep se repettoir.

Wel, kyk bietjie na die lirieke...

Lord of the Dance

I danced in the morning when the world was young
I danced in the moon and the stars and the sun
I came down from heaven and I danced on the earth
At Bethlehem I had my birth

Dance, dance, wherever you may be
I am the lord of the dance, said he
And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

I danced for the scribes and the Pharisees
They wouldn't dance, they wouldn't follow me
I danced for the fishermen James and John
They came with me so the dance went on

Dance, dance, wherever you may be
I am the lord of the dance, said he
And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

I danced on the Sabbath and I cured the lame
The holy people said it was a shame
They ripped, they stripped, they hung me high
Left me there on the cross to die

Dance, dance, wherever you may be
I am the lord of the dance, said he
And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

I danced on a Friday when the world turned black
It's hard to dance with the devil on your back
They buried my body, they thought I was gone
But I am the dance, and the dance goes on

Dance, dance, wherever you may be
I am the lord of the dance, said he
And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

They cut me down and I leapt up high
I am the life that will never, never die
I'll live in you if you'll live in me
I am the Lord of the dance, said he

Dance, dance, wherever you may be
I am the lord of the dance, said he
And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he


En luister na die wysie hier...



en ook na 'n ander weergawe hier...


Verbasend hoe lank mens na iets kan luister sonder om agter die kap van die byl te kom...

Daar is nog Keltiese musiek lirieke hier.

Thursday, August 23, 2007

Die lewe van 'n skoenlapper

Dis vroeg Saterdagoggend. Ek sit hier voor my rekenaar en kyk uit by die venster. Daar is 'n digte mis oor die stad. Die afgelope week of twee reën dit amper onophoudelik. Hulle sê op die nuus dat daar al Dinsdag op een dag net soveel reën geval het as wat dit in 'n hele maand tydens normale tye val. Sydney se damme is blykbaar amper 60% vol (die hoogste vlak in 4 jaar) en hulle kan dalk begin kyk na waterbeperkings verminder.

Buite die venster hoor ek die voëls sing en sien uit na die naweek. Hoe langer mens hier is, hoe meer verdwyn daai gevoel van onvoorbereidheid, vreemdheid en onbekendheid wat jou soos 'n buitestaander kan laat voel. 'n Mens kan letterlik agterkom dat jy met een of ander aanpassingsproses en doelbewuste verandering besig is - amper soos wat 'n baksteen deur 'n messelaar met sy troffel reggekap word sodat dit netjies op die regte plek in 'n huis vasgemessel kan word. 'n Mens ondergaan ook 'n metamorfose, jy beweeg van een stadium van jou lewe na die volgende stadium.

As kind het ek allerhande troeteldiere gehad:
ganse, hoenders, muise, hamsters, marmotte, konyne, paddas, katte, budgies, kanaries, verkleurmannetjies, skilpaaie en honde...noem maar op.

Maar nog iets wat ek ook gehad het was sywurms. Ek het as kind baiemaal die sywurms (eintlik sy-ruspes) gevolg deur hul hele metamorfose van eiers tot ruspes, tot papies tot motte en weer terug na eiers. Een ding wat ek toe al geleer het was die feit dat 'n sy-ruspe se lewe bestaan het uit 'n opeenvolging van veranderings....want as daar 'n papie was wat 'n papie gebly het - kon jy verseker weet dat die stomme ding dood is, en as 'n ruspe nie vir hom 'n papie kon spin nie, dan kon ek maar weet dat hy nie een van die gelukkiges was wat eendag 'n mot sou word nie...hy sou as 'n ruspe sterf en uitdroog! Sonder 'n metamorfose of verandering was die ruspe gedoem, want die mot-lewe impliseer aanpassings maak. Waar die ruspe tevrede moet wees met sy omstandighede in die skoenboks, het die sy-mot uit sy omstandighede ontsnap een aand terwyl ek geslaap het en sou ek die volgende oggend motte oraloor my slaapkamer hê.

Ek lees nou die dag die volgende:

"Twee ruspes is een dag besig om met mekaar te gesels toe 'n mooi flinder verbyvlieg. Die een ruspe sê toe vir die ander een: 'Jy sal my nooit op een van daai skoenlapper gedoentes kry nie!'

  • Dis normaal vir ruspes om verandering te probeer vermy, want dit druis in teen hul ruspe gestel.
  • 'n Ruspe sien geen behoefte daaraan om te kan vlieg nie. Hy dink dis al wat daar aan die lewe is om te eet om te oorleef.
  • Selfs al maak ruspes nie 'n besluit om te verander nie...dit gaan gebeur.
  • 'n Ruspe hou op om 'n ruspe te wees voor hy 'n vlinder word.
  • Ruspes kan kies om aktief deel te neem aan die verandering en sodoende vir hulle die beste blare in die boom uitsoek om teen vas te spin, of hulle kan toelaat dat die wêreld (en seisoene) rondom hul verander tot hul nadeel.
  • Dis makliker vir vlinders om perspektief te kry oor hul omstandighede as wat dit vir ruspes is.
  • As ruspes verandering weerstaan bring dit stres en swaarkry vir hulle mee later.
  • Ruspes se hele lewe is gefokus op eet en eie oorlewing, terwyl vlinders se lewe handel oor die voortbestaan en verspreiding van hul nageslag.
  • Metamorfose/verandering vind vir die ruspe plaas in 'n donker, klam, benoude spasie van die toegespinde papie waar hy stadig maar seker die eienskappe van 'n mot/vlinder bekom na verloop van tyd en met baie geduld.
  • Wanneer 'n ruspe verander het in 'n volwaardige vlinder/mot, moet hy self die beklemming van die papie oopbreek en begin vlieg...al is dit iets wat hy nog nooit voorheen in sy lewe gedoen het (of selfs bewyse het dat hy selfs instaat is om te kan vlieg nie)."

Nou ja, weet nie of mens bogenoemde regtig op mense van toepassing kan maak nie, maar ek wil tog net iets kwytraak in verband met die pynlike (en soms minder pynlike proses) van veranderings en aanpassings wat ons besig is om deur te maak in ons eie lewens...

Dis nie maklik nie. As ek nou weer 'n groot internasionale vliegtuig oor my kop sien vlieg, dan sien ek nie net 'n klomp mense wat êrens heen oppad is op vakansie of op sakereise nie....nee, nou weet ek dat daar heelparty van hulle is, wat soos in 'n "papie" of "life capsule" oppad is na 'n nuwe toekoms. Hulle weet nie wat vir hulle voorlê nie! Dit is maar die eenvoudige eerste stappie na 'n onbekende, opwindende en soms "scary" reis na 'n ander stadium in hul lewens.

Ek probeer om my gevoelens tydens hierdie veranderingsproses te verstaan en dit hier neer te pen....sodat julle ook kan verstaan waardeur mens gaan as jy hierdie bal in jou lewe aan die rol gesit het.

As jy daai dag (in ons geval 24 Mei in die jaar 2007 AD) jou voet van die Qantas 747 sit, het jy in hierdie wêreld letterlik net die klere aan jou lyf en die klere en goed in jou tas by jou. Jy en jou familie moet dan alles wat gaan gebeur op hierdie nuwe kontinent, 11000km weg van wat jy as beskawing geken het, self laat gebeur. Daar is nog nie eers 'n "footprint"/voetspoor of selfs 'n fingerafdruk van jou of een van jou gesin op enige plek in Australië nie! Dan is dit net jy en jou gesinnetjie! Jy begin feitlik as 'n groentjie van voor af in jou lewe. Ek het al baiemaal gedink dis soos om eendag nog in Suid Afrika te wees en die volgende dag word jy wakker êrens in 'n ander tyd in die toekoms, op 'n ander plek. Amper soos om deur 'n tydmasjien te beweeg. Wat dit moeiliker maak is dat daar nie 'n geleidelike verandering plaasvind in jou kop nie...soos wanneer jy geblinddoek na 'n plek toe gelei word en die blinddoek dan afgehaal word.

Skielik is baie dinge anders, ander weer ietwat dieselfde. Jy is skielik bewus van nuwe reuke en geluide. Sommige dinge wat jy so aan gewoond was en wat jy as vanselfsprekend aanvaar het soos mielepap is ewe skielik net weg - asof dit net nooit bestaan het nie. Dit voel of jou ander familie almal op een slag van jou weggeruk is en van nou af ken jy hulle van nou af net as stemme...
As jy nou met mense praat verstaan hulle nie altyd jou uitspraak nie, hulle vang nie altyd jou grappe nie, jy verstaan nie altyd hul lyftaal nie en die onbewustelike lyftaal gebare waaraan jy gewoond geword het word dalk nie eers raakgesien nie. Die mense hier is regtig "nice" mense, maar daar is 'n ellelange toubrug wat jy nog sal moet oorsteek van jou agtergrond na hulle s'n om regtig soos hulle te wees. Aan die begin is hulle Aussie aksent so vreemd dat jy gedurig vir die mense moet vra om alles te herhaal, want jy kom as hardhorend voor....maar na verloop van 'n paar maande klink hul aksent so natuurlik dat jy eers agterkom dat dit van joune verskil wanneer jy jou eie mond oopmaak en jou lippe en tong lomp voortstrompel om al die ingerygde gedagtes in Engelse woorde te omskep.

Jy besef gou dat jou werkgewer hier (wanneer jy nog op 'n tydelike VISA is), jou enigste waarborg is dat jy hier mag wees. Amper soos om met permissie te lewe. Jy probeer alles wat jy doen by jou werk so goed as moontlik doen, nie net vir jou onthalwe nie, maar ook omdat jy nie wil hê hulle moet 'n slegte idee kry van mense van Suid Afrika nie...want jy is per slot van rekening nou 'n ambassadeur...nie vir die SA regering nie, maar vir al die hoopvolle Suid Afrikaanse mense wat ook graag hier wil kom bly en werksaanbiedinge wil bekom. Die publieke vervoer vat nogal 'n rukkie om gewoond aan te raak, want in SA was jy gewoond om jouself rond te karwei, maar nou impliseer "vervoer" dat jy op die regte plekke op die regte tyd moet wees en jy is van ander afhanklik om jou te kry waar jy wil wees....dis nou as jy kon
"uitfigure" waar jy moet wees en op watter trein en bus jy moet klim. Jy kom ook gou agter dat die mense op die treine en busse mekaar nie "al jare ken nie", want hulle is elke dag vreemdes vir mekaar en sit styf teen mekaar dog ligjare ver. Dis nogal 'n hoë skans om oor te kom om geselsies te kan aanknoop op die busse en treine....dit gebeur bitter min. Wat 'n pluimpie aan my Suid Afrikaanse afkoms! Ons is gasvrye mense.

Die geld wat jy oorgeplaas het is jou enigste lewenslyn vir die eerste rukkie wat jy hier is. Glo my...jy wil genoeg hier in 'n bankrekening hê. Dit bepaal hoe sag of hard jou landing is. Die eerste maand of twee leef jy letterlik nog uit jou tasse. Jy is 'n reisiger oppad na iewers. Jy kan nie besluit hoeveel jy wil uitpak in die kaste nie en hoeveel jy wil los in die tasse nie. Want jy is dan nog hard op soek na huur akkommodasie en hier moet mens soms besluit of jy gaan dit vat wat jy kry, en of jy gaan vir iets beters wag. Die eerste paar weke is dit 'n "flatspin" soos 'n klein maltese hondjie wat met sy pote se naels gly op 'n teëlvloer om blyplek te kry, en as jy dit eers het en daai huurkontrak geteken is, is jy oor die hond se stert. Dan begin jy sorg dat jy 'n Internet konneksie naelstring het na jou familie in SA toe en dat jou water, ligte en gas aangesluit is in die nuwe huis. En glo my...jy WIL dadelik 'n kar hê hier. Moenie sonder een probeer oor die weg kom nie, jy maak die lewe baie moelik vir jousself. So baie plekke om heen te gaan en so baie dinge om te reël...alhoewel baie hier oor die Internet gedoen kan word.

Dis maar beknop in hierdie "papie" waarin jy jouself toegespin het. As mens eers die besluit geneem het om te kom, dan moet jy deurdruk en die besluit deurvoer met elke nuwe spindraad wat jy om jou maak. Eers net paspoorte, en die "Skills assessment"...en kyk dan wat gebeur. Dan, as jy dit gekry het, begin jy al hoe meer glo dat hierdie droom dalk net moontlik is. Dan die PR VISA aansoek en kostes, allerhande sertifikate, die IELTS Engelse toetse...en dit begin stadig in jou kop 'n werklikheid word. Dan 'n werksaanbod, werkskontrak, VISA "sponsor", nominasie, VISA goedkeuring, vliegtuigkaartjie besprekings...en jy is al regtig vas. Dan plaas jy jou geld oor na 'n land waar jy nog nooit was nie, jy maak akkommodasie besprekings, jy betaal 'n kar deposito, jy reël en betaal die vraghouer...alles dinge wat jou vaster en vaster toesspin in die kokon wat jy en jou gesin gaan gebruik om 'n nuwe lewe in Australië te kan maak. En as die motte hier uit die kokon breek, dan moet hulle eiers lê vir 'n vale...want dinge gebeur nie vansself nie. Skole moet gereël word vir die kinders, bankrekenings moet geaktiveer word, belasting nommers is nodig, motorregistrasie moet gedoen word, kar moet gekoop word en reëlings moet gemaak word met jou werkgewer om die werkswiele aan die rol te kry.

Baie dinge is vreemd...as jy skielik in die aand van die eerste weke hier agterkom jy het kruideniersware soos skeerroom, toiletpapier, selfoon lugtyd en koffie nodig, dan het jy nie 'n "clue" waarheen om te ry nie. Jy skakel dan sommer net die GPS aan en vat koers in 'n rigting in die nag in. Jy ry sommer net agter jou neus aan om by 'n winkel uit te kom wat nog na-ure oop is. Want jy ken glad nie die plekke hier nie. Jy weet nie waar is die naaste apteek, poskantoor, KFC of Pizza plek nie. Dis n verkenningstog van die ergste graad. Want sien: vroulief het NOU 'n koppie kofffie nodig en sy verlang na haar Ma. As jy uiteindelik 12 km verder 'n plek opgespoor het wat oop is...dan merk jy dit op jou GPS.

Die verlange vang jou ook nogal. Dis soos 'n lae rugpyn waarmee jy kan saamleef, maar wat nooit regtig weggaan nie. Jy gaan voel of jy jou mense in die steek gelaat het, maar in dieselfde gedagtegang dink jy aan al die redes wat jou maak trek het, en die hoop wat jy vir jou kinders se toekoms gekry het, die vryheid en veiligheid wat jy nou geniet, die groot kontinent wat wag om verken te word en al die vriendelike Aussie mense wat jy tot dusver al ontmoet het.

Nog iets wat mens deeglik in ag moet neem...dan is dit die lewenskoste in Sydney...dit is redelik duur om 'n lewe te maak hier. Sorg dat jy 'n goeie salaris kry, want as jy eers hier is moet jy en jou gesin daarop leef, want dit is nie baie slim om hier in skuld te beland nie, daar is genoeg ander dinge om oor te stres. Want jy moet soos 'n skoenlapper vry wees en nie soos 'n mot wat te naby aan die vlam vlieg nie....

Op 'n ander noot...wat dink julle van hierdie mooi sonsondergang fotos wat ek nou net geneem het...


Genoeg nou van al my vergelykings... dis mos my blog, so verdra maar al my Afrikaanse woordspeletjies - soms doen ek dit sommer net om my te verlekker in my taal...so moet nie te veel daarin probeer lees nie...ek is nie 'n aartswysgeer nie...vat maar alles met 'n knippie sout, want hierdie is die plek waar ek al daai onuitgespreekte gedagtes wat elke dag in my kop opkom op my LCD monitor kom vaspen daar waar die gedagtes oop en bloot op hul eie bene moet staan of afgeskiet word...dit help my om hierdie veranderinge te verwerk.

Mooi ne?

Sunday, August 19, 2007

Dit reën vandag weer in Sydney

Dit reën die afgelope paar dae weer baie in Sydney. Dit kortwiek ons bietjie in al ons verkenningstogte, maar die land het dit nodig. Hulle sê hier is droogte, maar ek moet sê, van al my jare in Pretoria, het ek nog nooit so baie bome en groenigheid gesien soos hier nie. Daar is oral parke, die strate is groen met bome. Daar is plek plek die teken dat die lente aan die kom is in die vorm van lentebloeisels en die vars geur van reën is op hierdie oomblik in die lug net hier buite ons venster. Gister was ek vir die eerste keer in Australië by die haarkapper, en ek moet sê, sy het haarself goed van haar taak gekwyt. Natuulik land en sand gesels oor alles en nog wat by die haarkapper, want hulle wil mos altyd alles uitvis as hulle hoor jy is van Suid Afrika.

Ek en my vriend was vandag as 2 manne alleen saam met die ses kinders na die Powerhouse museum in Sydney. Wat anders kan mens nou doen op so 'n nat dag. Daar is allerhande aktiwiteite vir om kinders in te lig oor die wetenskap en tegnologie. Dit was baie interessant en die kinders het dit baie geniet...van die uitstallings oor vliegtuie, die ruimteprogram, robotte, tot oor hoe animasie en films werk.



Daar was ook uitstallings oor die mooiste glas kuns, en selfs 'n driedimensionele video van hoe dit lyk in 'n glasblaas ateljee.


Hier is 'n video van een van die uitstallings vir die kinders:


Dis nou al amper 3 maande wat ons hier in Sydney is. 'n Paar dinge wat ek waarneem in my eie lewe vandat ons hier bly, is:

  • Ek is baie meer "relaxed" oor my kinders en bekommer my baie minder oor hulle. Hulle loop nou al alleen in winkelsentrums na die kleedkamers toe en as ons in die park is, laat ek myself toe dat ons hulle soms uit die oog verloor.
  • My gesondheid het verbeter. Ek het elke jaar teen hierdie tyd erg aan hoesbuie en sinus gely, iets wat nou soos mis voor die son verdwyn het.
  • Ek is nou alreeds net so ingeburger by my werk dat dit voel asof ek al lank daar werk, dinge gaan aan soos tevore.
  • Ek is minder agterdogtig oor mense en begin weer stadig maar seker glo in die mensdom.
  • Ek kry weer lewenslus...het vir my en my seun rollerblades/inline scates gekoop en ons skaats te lekker hier in ons straat...beplan om sodra die son weer meer skyn oor naweke na Centennial Park toe te gaan, want ek hoor daar is kilometers se paadjies om te ry met skaatse.
  • Ons bekommer ons minder oor besittings...inteendeel ek het selfs al een keer die huis verlaat net om toe ons teruggekom het te besef ons het nie eens die deure gesluit nie.
  • Maar ek kom ook agter dat "die besef" van in hoe 'n mate jy nou weg is van jou kultuur, jou mense en hoe vêr mens nou werklik van alles af is wat jy sooooo lank geken het. Mens verlang nogal hoor. Dit voel asof 'n stuk van jou afgeskeur is soos 'n stuk lap uit 'n kledingstuk, of soos my vrou dit stel: mens voel asof jy erens op die oop see ronddobber besig om te wag vir vasmeerplek.
  • Glo my: imigrasie het sy soet en sy suur, soms kan jy nie jou geluk glo nie, en ander kere is dit asof 'n paniek jou beetpak as jy besef wat die besluit se implikasies was.

Saturday, August 18, 2007

Die basketbal wedstryd

Iets wat ek nogal regtig geniet hier in ons nuwe land is basketbal. Ek het my seun ingeskryf by die Hills Sports Stadium se basketbal program. Vandag was hy al die derde keer daar. Die kinders word ingedeel volgens hul ouderdomsgroepe en leer al die "basics" van basketbal. Dit is ook 'n baie lekker spel om saam met jou kinders te geniet. Ek en hy gaan Sondae middae bietjie oefen in Earlestoke Park waar daar 'n basketbal baan is.

Laas Saterdag aand het ek iets beleef wat ek nog nooit bygewoon het in my lewe nie. Ons heel eerste professionele basketbalwedstryd, en nogal tussen die West Sydney Razorbacks en 'n Amerikaanse span wat die "Athletes in Action" genoem word.

Toe ons daar kom was die saal omtrent gevul met 'n opgewonde atmosfeer. Die aand het 19h00 begin met die Amerkaanse en ook die Australiese volksliedere wat op 'n trompet gespeel is terwyl almal rondom trots geluister en saggies saam geneurie het.

Ek het die reëls bietjie gaan opswot en julle kan dit by die offisiele NBA website gaan beloer of by Wikipedia. Elk van die twee basketbal spanne bestaan uit 10-12 spelers waarvan daar 5 op enige tydstip mag speel. Hulle word deurentyd tydens die spel geroeteer. Die doel van die spel is om punte aan te teken deur die basketbal deur 'n 3 meter en 5cm hoë ring te gooi waaraan daar 'n tou mandjie met 'n gat aan geheg is om te verseker dat die bal reg onder die ring uitval.

Gedurende die spel kan die bal oor die baan (wat in die' geval van gepoleerde plankvloere gemaak was) beweeg deurdat 'n speler die bal aanhou hop sonder om dit vas te hou in sy hande (wat as "dribbling" bekend staan), of die bal kan vir een van sy spanlede gegooi (of selfs gerol) word, wat dit dan verder kan dribbel, of dit in die ring kan probeer kry. Anders as in netbal het die mandjies/ringe 'n agterste paneel waarteen die bal gegooi kan word sodat dit terugspring in die mandjie in. Die baan is sowat 29 meter lank en 15 meter breed.

Glo my, dit is 'n baie opwindende sport om te aanskou, en jy word sommer gougou, sonder dat jy regtig hard probeer, ingetrek in die atmosfeer van die spel, en voor jy jou kan kry raak jy sommer kinderlik gelukkig as jy sien hoe die spelers die bal oor die baan laat vlieg om dit moeiteloos deur die ring te laat gly - veral as dit die span van Sydney is...

Die spel word gespeel in 4 periodes van 12 minute elk - "four quarters". Daar is 15 minute rustyd gedurende die halftyd pouse, en 2 minute rustyd gedurende die kwart en driekwart pouses. Gedurende halftyd ruil die spanne mandjies om en speel weer in die teenoorgestelde rigting. Die horlosie wa hierdie "quarters" aftel, loop alleenlik wanneer die bal gespeel word en nie wanneer die spel stilstaan nie, wat beteken dat 'n basketbal spel amper 2 ure neem om klaar te maak....volop tyd om punte aan te teken. Roeterings van spelers uit die totaal van 12 (of 10) kan alleenlik plaasving wanneer die spel stilstaan, maar daar is geen beperkings op hoeveel keer dit kan plaasvind nie. In Saterdag se "game" was daar 2 "time-outs" (of rusperiodes) toegelaat per span - wat deur die spanne uitgeroep en gebruik word om gou 'n spanpraatjie te hou, en ook om die ander span se spoed te breek wanner hulle besig is om te veel punte na mekaar aan te teken.

Sodra een van die spanne besit van die bal gekry het, is hulle verplig om binne 8 sekondes oor die halfpad merk van die baan te beweeg in die aanvallende rigting, en mag ook nie die bal vir langer as 24 sekondes in hul besit hê voordat hulle 'n poging aanwend om die bal deur die ring te gooi nie. Hoog teen die puntebord is daar dus 'n teller wat begin tel sodra 'n span die balbesit verkry. Daardie span moet binne 24 sekondes 'n punt probeer aanteken, andersins gaan die bal na die ander span. 'n Speler mag ook nie vir langer as 5 sekondes styf vashou nie, en moet die bal vir 'n ander speler aangooi sodra hy met die bal gaan stilstaan het sonder om dit te dribbel of as hy met 2 hande gelyktydig aan die bal geraak het. Hy mag egter omdraai, maar hy moet een voet op dieselfde plek hou waar hy gaan staan het. As hy die bal weer begin dribbel nadat hy gaan stilstaan het, word daar 'n dubbel-dibbel-fout begaan en word die bal aan die ander span gegee om in te gooi vanaf die kant naaste aan die oortreding. Hierdie reëls is nodig om die spel meer aanvallend te maak en te verseker dat geen span die bal net aan hul eie kant probeer weghou van die ander span nie. Daar mag ook nie langer as 3 sekondes in die area reg onder die mandjie vertoef word sonder om die bal in te gooi nie.

Die span wat laaste aan die bal geraak het voor dit uit die baan beweeg het verloor balbesit. As daar 'n obstruksie / "foul" teen 'n span uitgeroep word, word daar vir die ander span een of meer "free"/ongeblokkeerde probeerslae gegee vanaf die 4.5 meter sirkel (sonder dat die ander span die bal mag blokkeer). 'n Span kry 2 vry gooie/probeerslae indien die ander span reeds 4 obstruksies teen hulle het.
Indien die bal ingegooi word kry die span wat dit regkry egter net 1 punt per keer. 'n Obstruksie kan teen die verdedigende span gegee word wanneer hulle die aanvallende span met fisiese kontak belemmer om vorentoe te beweeg, of teen die aanvallende span wanneer hulle die verdedigers met hul rug fisiek wegstoot terwyl hulle die bal dribbel. Enige obstruksie toegeken as gevolg van vuil spel word met 3 vry gooie beboet (en die ander span kan kies wie hulle wil hê moet vir hulle gooi), terwyl met normale obstruksies die vry gooi toegeken word aan die spanlid wat die "slagoffer" van die obstruksie was. Die aantal vry gooie wat hy kry word bepaal deur die aantal punte wat hy kon aanteken tydens die gooi wat hy probeer maak het, maar die vry gooie self (indien suksesvol) tel net 1 punt.

Wanneer die speler wat 'n doel gooi van buite die 7.6 meter sirkel die bal gegooi het, kry sy span 3 punte - hierdie sirkel word die 3-punt sirkel genoem. Vanaf binne hierdie sirkel tel 'n doel 2 punte. En wanneer 'n speler tydens 'n obstruksie met die vry gooi 'n doel aanteken tel die doel 1 punt.


Wel, dis my bydrae om die mis so bietjie te laat lig (rakende die basketbal reëls) vir al my mede volksgenote wat net so "clueless" was omtrent wat aangaan in basketbal.


Saterdag se "game" was baie opwindend tussen hierdie hemelbesems wat basketbal gespeel het, want meeste van hierdie ouens het soos reuse teen my gelyk - alhoewel daar 'n paar korterige outjies was, wat net soveel kon regkry deur eenvoudig nooit 'n doel te mis nie. Soms het hulle die bal sommer so van amper die helfte van die baan, moeiteloos en sonder om die kante van die ring te raak, deur te laat glip....ongelooflik.

Kyk bietjie na die lengtes van die ouens uit Amerika in die volgende lys:

Wel, uiteindelik was die eindtelling 128 - 93 in die guns van die West Sydney Razorbacks, wat beteken het dat daar so by beraming so tussen 110 en 147 doele aangeteken is deur beide spanne...gee jou 'n idee van hoe goed hierdie ouens is....
Ons het die seuns (ons seun en ons vriende se seun) saamgeneem - hulle het dit sommer baie geniet.

Nou ja, ek was vandag weer saam met my seun by sy basketbal oefening - hy sê vir my hy hou baie daarvan.

Ons vat die pad na die stad.

Ons het sommer besluit dis weer tyd om pad te vat stad toe en te gaan kyk watter interessante dinge ons alles daar kan ervaar. Ons het spesiaal 'n "baby-sitter" gereël vir ons kinders en saam met ons vriende direk na werk die trein gevat na Wynyard stasie, want dis die laaste stasie voor die Circular Quay (dis mos nou daai jetty waar die Ferries/Veerbote vertrek na Manly toe). Anders moet mens oorklim op 'n ander trein.

Dit was nou ons aandjie uit "on the town", en wat beter as om dit saam met jou vriende te doen.

Ons wou al lankal die Veerboot Manly toe vat en bietjie daar by een van die Restaurante gaan eet het, en nou was die tyd. Eers het ons bietjie in die lewendige stad Sydney se strate rondgedrentel oppad na die Kaai (Circular Quay). Daar is 'n ge-remoer van busse en karre, die geluide van straatkunstenaars wat akoestiese ghitare speel, tieners wat skateboard ry op die trappe van die wandelgange en 'n menigte mense in korporatiewe snyerspakke wat terugkeer van hul dag se werk in die wolkekrabbers van die' stad.

Die kroeë is stampvol mense wat in groepe sit en gesels oor alles en nog wat, en die strate is vol van kleinerige straatkafees. By die Sirkel Kaai het ons vir ons lekker Royal Copenhagen roomys gekoop by die een kafee en gestaan en kyk na 2 ouens wat hul sirkustoertjies met brandende swaarde daar uitgehaal het.

Mens koop 'n retoerkaartjie en elke halfuur is daar 'n Veerboot Manly toe. Met die Sydney Hawebrug (die "groot klerehanger" of "die ysterlong") aan die linkerkant. Dit is so genoem omdat die werke wat geskep is as gevolg van die konstruksiewerk daaraan in die depressiejare van die 1920-1930's baie mense aan die lewe gehou het. "The bridge itself was regarded as a triumph over Depression times, earning the nickname "the Iron Lung", as it kept many Depression-era workers employed."
Dit is gebou met 'n reuse lening van £10,057,170 vanaf Brittanje wat eers in 1988 klaar afbetaal was.

Dis 'n wonderlike gevoel om so oor die donker swart waters wieg-wieg te vaar oor die Port Jackson hawe. Nadat jy 'n baie kort entjie gevaar het, sien jy aan die regterkant die Sydney Operahuis.

Hier is 'n foto wat ek op Wikipedia gekry het:
Dis presies hoe dit lyk as mens in die aand daar verbyvaar. Mens kan voor op die Veerboot staan of jy kan in een van die gemaklike sitplekke binne in sit tydens die rit. Soos wat die veerboot oor die water beweeg kom seemeeue en vlieg al langs die kant van die boot in die donkerte oor die see. Hier is een wat ek afgeneem kon kry...


By Manly aangekom klim mens af naby die "Esplanade" en jy word begroet deur die vars reuk van die sproeiseesout lug by die vasmeerpunt.


As jy so entjie gestap het begin die reuke van seekos gemeng met lekker filterkoffie jou lok na een van die talle seekant restaurante hier by Manly. Ons het vir ons bespreek by 'n atmosfeervolle Spaanse restaurant wat "Alhambra" genoem word. Regtig aan te bevele.

Hulle het 'n spyskaart vol nuwe smaak avonture om te verken. Die kosse word op die tradisionele manier voorberei in keramiek potjies. Ek het 'n lekker dadel en lamsvleis potjie (Tajine) gegeur met heuning, kaneel, gemmer en lemoen saam met soet gebraaide uie, puimedante en amandels gehad.... 'n Smaak ervaring.

So teen 9 uur die aand is ons vermaak deur 3 spaanse dansers met kastenette en die polsende musiek van die "Gypsy Kings" in die agtergrond. Met ritmiese voeteval en handgeklap het hul ons blootgestel aan 'n stukkie Spanje hier in die hart van Sydney.

Mens kan hier jou eie wyn saambring na die rastaurante. Dit staan bekend as BYO (Bring your own), maar jy betaal wel 'n $9 bottelfooi.



Nadat ons lekker gekuier en geëet het, is ons weer terug om 22h15 die Veerboot terug te vang na die Sirkel Kaai toe. Hierdie keer het ons sommer met dieselfde treinkaartjie die trein by "Circular Quay" stasie gekry, vandaar na "Central station" waar ons so 23h15 gestaan en wag het vir die Northern Line trein terug Pennant Hills toe. Oral op die stasie het nog baie mense gestaan oppad terug van hul Vrydagaand "out on the Town".



Die treine is nogal verbasend vol hierdie tyd van die aand. Terug by Pennant Hills stasie het ons darem hierdie keer 'n kar gehad om terug te ry huistoe, en het nie nodig gehad om soos laas terug te stap nie.

Dit was 'n baie lekker aand en hoogs aan te beveel.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings