Wednesday, July 18, 2007

Ons is nou al amper 2 maande hier in Koala Kontrei

In een van Anneli van Rooyen se liedjies sing sy: "..die dae het later maande geword en die maande later nege jaar...".

Nou ja, ons is maar nog baie kort hier. Maar die tyd vlieg. Jy weet mos hoe vinnig mens se lewe verbygaan as jy eers begin werk en kinders het. Ek het eenmaal gelees dat die mens se ervaring van tyd ge-baseer is op die tyd wat jy al geleef het. Aan die begin van jou lewe voel dit of 'n jaar vir altyd vat om verby te gaan...as jy klein is voel die opeenvolgende skooljare of elk 'n leeftyd op sy eie is ('n jaar is dan 1/6 tot 1/10 of 16% tot 10% van jou hele lewe). Maar soos jy ouer word kom jy agter dat jy net minder en minder tyd het om alles te doen wat jy graag sou wou doen, want in jou twintigs is 'n jaar reeds net 5% van jou leeftyd en jy ervaar dat jou tyd begin "wegraak" sonder dat jy dit eers agtergekom het. As jy amper 35 is soos ek, dan is 'n jaar maar 2.8% van jou lewe - 'n oogwink! As jy nou beplan is dit langtermyn en voeg daarby die feit dat jy nog ook 60% van jou wakker ure by die werk is, dan is die tyd (25% van elke dag) wat jy het om saam met jou mense deur te bring maar bitter bitter kort. Alles in die lewe wat 'n mens kan meet, meet jy aan een of ander maatstaf of maateenheid. Al wat jy het om jou "gevoel" vir hoe die tyd verbygaan mee te meet is dus die jare wat jy al leef. Voeg daarby die feit dat mens se lewe maar bra dieselfde roetine volg elke dag en daar dus min "bakens langs die pad" is om na terug te kyk - dan kan jy verstaan hoekom dit voel of jou jare soos water by die bad uitloop sonder dat jy daarmee kan tred hou.

Nou kan jy ook verstaan hoekom 'n "duisend jaar soos 'n dag is vir God" - as iemand reeds miljoene jare oud is, dan is 'n duisend jaar niks nie.

Ou Job van ouds het eenmaal gesê: "My dae skiet vinniger as 'n naelloper verby, hulle vlieg verby sonder dat ek iets goeds beleef, hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote, soos 'n arend wat afskiet op sy prooi." Job 9:25
"My dae loop vinnig soos 'n wewerspoel, die draad raak gou op." Job 7:6
('n mens se lewe skiet verby jou soos die spoel op 'n weefmasjien wat die wol deur moet ryg totdat al die wol op is...)

Daarom probeer ek maar om soveel as moontlik lekker dinge te doen saam met my gesin...om herinneringe op te bou as bakens...iets om na terug te dink langs die pad; sodat die lewe nie soos 'n vetgesmeerde varkie verbyflits sonder dat ek een of ander houvat daarop kan kry nie: daarom het ek duisende fotos om my te herinner aan al die pad wat ek langs gekom het tot hier.

Een van die gedeeltes wat vir my die lewe en oudwordproses baie goed beskryf is Prediker 12:

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom,
die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie.
(onthou die 25% is maar al wat jy het van elke dag)

Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig,
die maan en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën.
(in alle mense se lewe verswak jou sig as gevolg van die verharding van jou okulêre lens sodanig dat jy van die 18 diopter oog akkomodasie as kind maar net 1 diopter oor het teen die tyd dat jy 80 jaar oud is, daarby kan katarakte maak dat jou oog ook minder lig deurlaat)

Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk,
(jou bene en spiere GAAN verswak as gevolg van die tekort aan vernuwende groeihormoon en die veroudering van jou DNA, tande gaan min word)

wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word, die tyd wanneer 'n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie.
(jou gehoor gaan verswak en jou behoefte aan slaap gaan verminder sodat jy soos my skoonma tot lank na middernag nog na RSG kan luister en teen 4 uur die oggend reeds wakker word)

Dit is die tyd wanneer hy bang is vir 'n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan,
(Wanneer jy baie meer broos gaan word en minder waaghalsig as toe jy jonk was, omdat 'n besering ernstige gevolge kan inhou, as jou hare so wit soos die amandelboom word a.g.v kleurpigment, jy met moeite moet loop en aansukkel, en die kapperkruid ("caperberry") wat 'n afrodisiak/libido middel was dan nie meer enige uitwerking op jou het nie. Dis ook 'n tyd wat jy baie van jou ou vriende en naby familie aan die dood begin afstaan omdat jou generasie besig is om na hul "ewige huis" te gaan)

die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val,
(Kan hierdie dalk 'n verwysing wees na die "silwerdraad" wat mens se gees aan jou liggaam verbind...dit wat jou nog hier hou? Hoe ook al...hierdie is vir my 'n uitstekende beskrywing van die dag as ons hierdie aardse kruik agterlaat om met 'n hemelse faas beklee te word)

die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
(...my gees : daardie stukkie van God wat ek in my het, wat na Hom hunker, wat smag om weer by Hom te wees en daarna roep soos 'n wildsbok na waterstrome, soos 'n leemte wat net Hy kan vul, soos wit rivierversnellings smag na die see....)


Hoe dit ook al sy...'n mens se lewe gaan gou verby. 'n Mens moet alles waardeer wat jy het. Elke dag is 'n geskenk. Voor ons ons oë kan uitvee het ons ons permanente VISA en kort voor lank is ons Australiese burgers. Al ding wat sleg is van die lewe hier is die feit dat so baie van mens se familie en vriende nie meer saam met jou is nie. Dit voel soms asof mens almal van hulle op een slag gelyktydig aan die dood moes afstaan en nou die lewe verder alleen moet loop....maar ek weet dit is nie regtig so nie! Dit is net om jou kop te oortuig wat moeilik is.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings