Tuesday, June 26, 2007

Die oorplanting is steeds aan die gang

Julle het seker al begin wonder wat het van ons geword. Waarom die radio stilte? Waarom niks nuwe sêgoed? Wel, om 'n swaar stoomlokomotoef weer aan die gang te kry op 'n ander spoor en in 'n ander rigting is nie kinderspeletjies nie. Ons lewenspotplant was netjies met afgebreekte wortels en al in plastiek toegedraai sodat die grond vog kon behou en ons het dit nou reeds 'n maand in die nuwe grond. Haarwortels moet nog vorm, maar ons het darem al 'n paar sywortels in die grond geanker.

Ons kon nog nie aansoek doen vir Medicare nie want ons wag nog vir 'n brief van die immigrasie departement wat aandui wie almal ingesluit is op ons 136 VISA aansoek. So intussen het ons solank 'n privaat mediese fonds gekry wat spesifiek gerig is op mense wat op die tydelike 457 VISA in Australë is. Dit is die IMAN Australian Health Insurance Cover. Ons het die 120 opsie gekies en dit kos sowat $153 per maand vir 'n familie. Die plan stem baie ooreen met die Discovery Core plan in Suid Afrika. (maar ek praat onder korreksie).

Wel, sover gaan dit baie goed by my werk. Ek voel sommer al weer gemaklik in die saal. Ons werk nou aan 'n groot tender en dis baie opwindend. Ek geniet die stresvrye vervoer met die trein en bus. Iets wat my verbaas is die pligsgetrouheid van die mense wat die verkeer by die kruisings reël (noem hulle maar die padpatrollie). In gietende reën en onplesierige wind, in ysige koue tot laat in die aand staan hulle by die stasie en reël die verkeer. In hulle oranje mondering skrik hulle nie vir koue pampoene nie. Ek is beindruk.

Hier in Oz het ek nog nie by 'n gym aangesluit nie. Ek kry my daaglikse oefening deur vanaf die stasie werk toe stap en in die middae weer terug stasie toe verby 'n verskeidenheid winkeltjies. Daar is talle bakkerye, 'n groentewinkel, 'n klein hardeware winkel, 'n moewiese groot internet kafee, 'n dag-spa waar hulle mens se voete kan masseer, 'n "pub", 'n groot biblioteek, oogkundiges, 'n scuba winkel, 'n bergklim winkel, 'n "news agency" (byna soos CNA), Chinese kafees, Japanese kafees, 'n "adult" shop, 'n gym en gesondheidsklub, 'n droogskoonmakery, "'n Flight Centre", 'n hele paar banke, en dan ook heelwat eetplekke. Een in besonder wat ek kan aanbeveel is "The Anatolian". Wat 'n lekker eetplek. Hulle kos is uit die boonste rakke en die kos word verseker met liefde voorberei. 'n Grieks/Turkse vrou en haar dogter bedryf die plek en hulle laat mens sommer baie tuis voel. Ek het my voorgeneem dat ek ten minste een middagete per week by daardie plekkie gaan inloer. Amper soos in "Cheers" vanmelewe se dae op TV.

Die son sak nogal vroeg hier in Sydney op die oomblik. Ek het vannaand lank na donker by die huis aangekom. So teen 16h00 is dit al skemer. Met Laurika Rauch op my iPod Nano (sterk aan te beveel om treinritte interessant te maak), wonder mens tog nog of die prys vir vryheid nie te hoog is nie. Mens laat so baie agter. Maar in dieselfde gedagtegang kom jy tot die slotsom dat dit alles op die ou end die moeite werd sal wees. Die tyd sal leer. Dis nou maar 'n maand in ons nuwe land...en dit voel vir my alreeds moeilik om te glo dat ons, nie lank gelede nog nie, infrarooi beams moes deaktiveer as ons net na die sitkamer toe wou stap in die nag. Wat 'n mens met angs in jou bed gelê en wag het vir die soveelste SWERNOOT om weer oor die 7 voet mure te spring so 02h00 in die oggend...

Ons trek komende naweek in ons ongemeubileerde behuising in....en, wel, die "container" gaan dan nog ten minste 2 weke by doane wees. So ons gaan bietjie uitkamp. Kan nie eens Weg lees nie, want al daardie tydskrifte is ook nog op die "container" (omtrent 20 of meer). Ons het ten minste darem al 'n Yskas, 'n tuimeldroër, 'n gasverwarmer (beslis 'n goeie kopie, want die ding werk soos 'n bom...oftewel 'n kaggel). Daar is 'n ingeboude mikrogolf, skottelgoedwasser, gasstoof en gas-oond. So ek dink ons is uitgesorteer. Laas naweek het ek 'n lessenaar, stoel en laaikassie aanmekaargesit wat ons als vir onder $400 by iKEA gekoop het. Die winkel is GROOT...amper soos 'n Marko++gekruis met 'n builders warehouse en 'n Mr. Price Home, maar net vir huisware. Jy kan spotgoedkoop splinternuwe Sweedse meubels vir jou huis koop en dit dan self aanmekaar sit. Ons was die naweek by die Rhodes winkelsentrum (net oor die Parramatta rivier). Ek beveel dit sterk aan vir mense wat meubels hier koop. Jy sal waarskynlik nie kwaliteit huis ware elders goedkoper kry nie. Hulle het 'n moerawiese pakhuis....jy kies jou meubels in hul vertoonlokale uit, skryf die ry en rak nommer neer en gaan laai dit dan self op. Tuis sit mens dit self aanmekaar...amper soos om 'n 3D puzzle te koop...al verskil - jy kan dan op die puzzle sit, lê of goed daarin bêre.

Ons het nou ook vir ons 'n permanente posbus gekry in Cherrybrook...want byna alle korrespondense word mos hier per brief gedoen...ernstig, ek het selfs al 'n R52000 ($9000) tjek deur die pos gestuur - en dit het veilig by die bestemming aangekom!!!

Die weer is maar reënerig en koud hier...nie juis die beste seisoen om hier aan te kom vir pasgebore Aussies nie.

Ons is ook alreeds besig om ons eie voor- en afkeure te kry wat die TV stasies in Australië betref. Om te begin het ons Foxtel satelliet TV by die tydelike gemeubileerde verblyf, maar ek kan eerlikwaar sê: op satelliet is dit dieselfde ou storie hier...hoe meer kanale...hoe swakker kwaliteit programme. Alhoewel die 2 of so movie kanale darem so af en toe 'n goeie fliek het, maar ons kyk dit nie juis nie. Daar is selfs 'n hele kanaal vir "Friends". Die gratis TV kanale (soos Channel 7,9,10, ABC en SBS) het egter na my mening baie beter programme op. Hier is bekendes soos CSI, NCIS, Crossing Jordan, Gilmore Girls, maar ook welkome nuwelinge soos McLeod's Daughters. Sandag aande kan mens die nuwe SURVIVOR FUJI kyk en ook die nuwe realiteitsreeks op Dinsdagaande deur Mark Burnett wat Pirate Master genoem word.

Dan het ons ook op 'n baie nice christelike radiostasie afgekom wat baie soos Radio Rippel is omdat dit nie NET christelike musiek speel nie, maar gewone mooi musiek ook. Dit word "The Heart Of Sydney" genoem en julle kan dit kry by: FM103.2
Julle kan lewendig oor die internet ook daarna luister.

Die Ozzie verkenner...Swerwer

1 comment:

  1. Hi

    So bly om te sien jy is terug. Ons het bekomerd begin raak. Goed gaan en ons sien julle seker binnekort.

    Dries en fam

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings