Monday, May 07, 2007

Vir die swartste moerbei klim 'n mens die hoogste in die boom

Hierdie emigrasieproses verander mens....dit verander jou uitkyk op die lewe. Dit laat jou weer voorraadopname doen van wat in die lewe vir jou belangrik is. Soms is dit asof jy op 'n afstand staan en afkyk na jou eie lewe en besef hoe min werd dinge soos 'n luukse kar en 'n bewonderingswaardige huis nou regtig is. Jy besef in hoe 'n mate jy jou eiewaarde begin meet het aan al die ou dolleë materiële dinge hier in Gauteng. Ons almal leef mos deesdae 'n dag tot dag bestaan: leef vir naweke, leef vir die einde van die maand, leef op ons eie, gaan nie deesdae meer so baie na parke en mensgemaakte mere nie. Die tyd van opelug musiekkonserte tot laat in die aand is ook lykmy grootliks verby. Ons leef nou binneshuis, oftewel binnesvesting. Mense is uitermate gestram, hul snare is te styf gestem...en mens kan dit agterkom op die paaie. Hoe sê mens in Engels:"On Edge". Almal is agterdogtig...met rede. Jy voel nie meer so sorgeloos veilig en goedgelowig soos in die dae toe jy nog sommer enige troepie langs die pad kon oplaai en dik stukke gesels met 'n totale vreemdeling nie. Nee, deesdae kan mens nie eens meer barmhartige samaritaan speel nie - jy weet nie of dit net weer 'n slenter is om jou van jou swaarverdiende kar (of jou gratis lewe) te beroof nie. Deesdae speel mens se broekspype selfs kitaar wanneer jy deur die "metro polisie" afgetrek word, want jy weet nie of die klere en "badge" nie dalk êrens uit 'n geplunderde polisiekantoor geaas is nie.

Elke naweek sien mens hoe die "gemiddelde" swart en wit welgestelde mense toesak op die winkelsentrums om dan soos pakdonkies te kreun onder al die pakkies nuwerwetse ontwerpers klere en nuutste tegnologiese wonders. Daar is beslis 'n koop-partytjie aan die gang, maar as jy vroegoggend op 'n Saterdagoggend deur die strate van Wierdapark ry, is dit verstommend hoe geweldig baie swart mense langs die strate rondstaan sonder werk. Elke twintig meter of so sit, staan of lê daar groepies van ten minste ses na tien brandarm swart mans met verfrollers, teëlsnyers of met net 'n vinger in die lug en bedel vir werk. Waar kom al hierdie mense vandaan? Hulle is klaarblyklik nie meer onder die geledere van die gelukkiges wat 'n vaste werk het nie. Hulle raap en skraap....en ek sê ook nie dis nie hul eie skuld nie. Hulle val ooglopend in die kategorie mense wat nie genoegsaam geletterd is om in 'n standhoudende inkomste te kan verdien nie. Hierdie prentjie is in strak kontras met die rojale lewe van die middelklas welgestelde inwoner van hierdie woonbuurt en talle ander woonbuurte. En ek wonder by myself....hoe lank nog? Hoe lank gaan hulle tevrede wees om te "wag" vir werk? Hoe lank gaan hulle die bevoordeelde posisie van die ander respekteer? Hoe lank voordat hulle dit maklik in hul kop kan regverdig om bietjie van daai rykdom vir hulself toe te eien? Hoe lank voor hulle verontreg met haat aan die "voorheen (en tans) bevoordeeldes" begin dink? Die damwal van begerigheid en wrewel gaan dalk net eendag eenvoudig breek... Ek wil ook nie nou spoke opjaag of mense vir pampoenspoke bang maak nie, maar na MY EIE BESKEIE mening is die damwal tussen die rykes en armes in Afrika gevaarlik onder stremming. Daar is reeds krake in die dam... Hoë mure en geëlektrifiseerde heinings is deesdae die kasteelmure wat die adel skei van die gepeupel....

Ek het myself al baiemaal die vraag gevra: gaan ek iets hieraan kan verander? Sê maar ek was baie vrygewig en kon vir elkeen van hulle elke dag kos verskaf...sou dit iets verander? Sal hulle dit kon regkry om uit hul van-die-hand-na-die-mond-bestaan te kan ontsnap as ek alles wat ek besit vir hulle sou gee....ek dink nie so nie. Ek dink ook nie al die belasting wat ek in my lewe in Suid Afrika kon betaal sou veel salf aan die situasie kon smeer nie. Nee wat, al lê hierdie land my na aan die hart, dit het tyd geword om die bul vierkantig in die oë te kyk, ...en om so gou as wat ons kon om te draai en oor die kampheining te spring...want wie gaan wen tussen ons en die bul? Die bul natuurlik.

Ek het besluit om te loop voor die pad vol duwweltjies word. Mens voel jy staan tussen die duiwel en die diep blou see. Die bekende "duiwel" of die onbekende land vêr oor die see. Ek het in my lewe geleer dat die mooiste korale nie in die warmer water naby die oppervlak is nie, maar diep onder die water wat 'n langer asem verg om by uit te kom. Vir die swartste moerbei klim 'n mens die hoogste in die boom in. Niks wat die moeite werd is kom maklik nie. Ek het besef ek sal maar my vrese in my sak moet steek. Ek was nog altyd nie een vir verandering nie, het nog nooit eens oorsee gereis nie. Die verste wat ek al ooit was is Kaapstad. Mens kan sê ek is net so bang vir verandering soos 'n bolander vir donderweer en 'n bok vir 'n skoot hael. Ek hou daarvan om vir die "oplossing" te soek naby die straatlig waar mens goed kan sien, in plaas van waar dit regtig lê. Hierdie besluit om te verhuis na groener weivelde het dus nie vir my maklik gekom nie. Ek is bo-my-verwagtinge gerek. Ek moes 'n daadwerkilke besluit neem om uit die boot te klim en om op stormagtige water te begin loop...want die verslag van die mense wat reeds die reis afgelê het het my oortuig dat daar wel 'n beter toekoms vir my gesin daar anderkant wink. Ek kon die kans op 'n lewe waar ons nie gedurig oor ons skouer kyk eenvoudig nie laat verbygaan nie...as ek dit ten minste probeer het sal ek myself nie verwyt as ek oor tien jaar sou wens dat ek dit eerder gedoen het nie. Maar dan sou dit te laat wees...want sien , oor 10 jaar is ek 45: die afsnypunt vir emigrasie na Australië. Vlug is net goed as mens betyds vlug. Maar as mens sou bly moet jy met hart en siel bly en kan saamleef met jou besluit omdat jy weet jy het alles geprobeer en nie kanse deur jou vingers laat glip het nie.

Ek gaan al my kragte inspan om hierdie Australië droom van ons te laat werk en dit 'n "good sporting chance" gee van ten minste 'n paar jaar. Probeer is die beste geweer, maar as jy nie probeer nie, wel, handig dan jou geweer in. Eerder bang Jan as dooie Jan sê ek, want 'n lewendige hond (wat stert tussen sy bene vlug), is beter as 'n dooie leeu. Waarvoor het al die troepies in elk geval gesterf op die grense van Suid Afrika?

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings