Friday, May 25, 2007

Ons is van nou af in Sydney

Goeienag aan almal wat ons ken en vir wie ons so baie liefhet. Ek sit hier en blog omdat ek nie verder kan slaap nie. Dis nou net na 3 in die oggend (so net na 19h00 in my gewone slaaproetine...wanner ek gewoonlik wakker was in Suid Afrika).

Ons is van nou af hier in Sydney Australië. Dit waarvoor ons so lank gewag en beplan het het nou uiteindelik aangebreek. Ons is baie opgewonde (en ook bang oor ons nuwe lewe wat voorlê).

Om te begin terugvoer gee oor ons ervarings die afgelope paar dae....

Ten eerste...baie dankie aan my liefling skoonsuster. Ons het van laasweek Donderdag af al by haar huis geslaap omdat al ons aardse besittingkies wat 'n huis leefbaar kon maak in die vraghouer ingepak was. Al wat oor was, was ons klere.

Die afskeid was baie baie baie moeilik. Dit was vir ons baie baie baie erg. Dit het kompleet gevoel of 'n stuk vleis uit my hart uitgeskeur word sonder verdowing en terwyl ek wawyd wakker op die operasietafel lê. Dit was baie baie baie seer. Mens besef eers hoe verskriklik lief mens die mense rondom jou het wanneer jy afskeid moet neem. Ek is baie baie baie lief vir julle. Ek is jammer. Jammer dat ons julle so seer moes laat kry. Toe ons daar wegry en ons julle soos weeskinders daar agter moes laat. Ek kon die seer in julle oë ervaar, die gemis wat ons julle aandoen voel. Ons hou julle baie naby in ons harte. Asseblief, bly naby aan ons met die moontlikhede wat tegnologie bied en hou ons hande met epos, chat, SMS en telefoonlyn vas. Ons wil julle baie naby aan ons harte hou...ons sal net 37 millisekondes weg wees op die Internet.

Ons goeie vriendin Minke het ons by die lughawe gaan aflaai. Ons het so 14h00 se kant daar aangekom. Daar was NIKS NIKS NIKS parkering by die Internasionale deel van die lughawe parkering nie...nogal op 'n Woensdag middag....wat sal mens sê? Sokker wêreldbeker hier kom ons!

Ons bagasie het so 120 kg geweeg (van die 160 kg wat ons kon saamneem met die IOM kaartjies). Daar was 7 moewiese groot sakke. By die "luggage check in" vra hulle dadelik vir ons..."gaan julle emigreer?" Is dit so "obvious"? Voor die tyd het ons natuurlik ons bagasie met plastiek laat toespin. Dit kos R25 per sak en daarna lyk al 7 sakke asof dit soos die prooi van 'n moerse groot knopiespinnekop toegespin is...net reg om leeggesuig te word.

Teen 17h40 sit ons op ons plekke in die Qantas 747. So teen 18h10 begin die groot ystervoël grasieus oor die aanloopbaan beweeg en sekondes later begin derduisende "poprivets" sekuur in-formasie die lug in styg. Die Johannesburgse liggies skyn helder deur die kajuitvenster totdat dit uiteindelik in die niet verdwyn. Die 100 ton krag van die 747 trek ons moeiteloos tot by 11000 meter in die lug in. Die kaptein se kenmerkend Aussie aksent heet ons welkom oor die interkom stelsel en stel ons gerus dat "alles OK sal wees", want ons vlieg nou met Qantas.

Ons het heel agter by ry 73 in die middel gesit. Binne die eerste 5 minute van die vlug het my 8 jarige seun reeds die speletjies op die "entertainment system" van die vliegtuig onder die knie en my popelopsie van 'n dogtertjie (6 jaar) is al klaar besig om met intense konsentrasie in die inkleurboek te teken. Ek hou my liefling vrou se hand vas....en ons besef....NOU is omdraaikans verby! Ons het 'n lekker wind van agter gehad, in so 'n mate dat ons teen 1165 km/h die vlug van 11 uur en 45 minute in net bietjie meer as 11 uur afgelê het.

Die mense op die' lug-"bus" is baie vriendelik en hulpvaardig. Ek dink aan 'n liedjie van Laurika Rauch wat ook handel oor mense op 'n bus en oor 'n hart wat stukkend gebreek is...

Die mense op die bus ( dit is geskryf deur Laurika Rauch se man Christopher Torr)
(Ek sien daar is 'n musiekvideo weergawe van hierdie liedjie op YouTube)

Sing vir my saggies, sing van die reën
waar kom dit vandaan, waar gaan dit heen?
My hart is al lankal, lankal gebreek
ek het jou byna, jou byna vergeet

Die mense op die bus beskou
die liefde soos die oggenddou
my hart is lankal reeds gebreek
Ek het dit net-net weggesteek

Dalk is die liefde soos die reën
dit sal die aarde plek-plek seën
Die mense op die bus sê ja
verspreide buie hier en daar
......

Sing vir my saggies, sing van die reën
waar kom dit vandaan, waar gaan dit heen?
My hart is al lankal, lankal gebreek
ek het jou bynaam, jou bynaam vergeet

.....

Ons kan regtig nie sê ons het in Sydney ENIGSINS probleme by die "customs"/doane gehad nie. My ervaring van hulle is...baie vriendelike mense. Heelparty aantreklike vroue wat mens baie vriendelik groet en mens welkom heet in Australië. Die een lag toe ons vir haar sê dat ons nog ons hele lewe lank net in Suid Afrika was (nadat sy wou weet in watter Afrika lande ons al was in die afgelope ruk) en dat dit vir my die heel eerste keer oorsee is. Ons sien 'n paar SA families van meer as 6 mense. Almal versigtig opgewonde oor hul nuwe toekoms. Dus geen probleme gehad met die gevreesde "customs" nie. Die man wat die bagasie deur die "scanners" laai is skoon verbaas toe ek my eie sak vir hom wil oplaai op die vervoerband. "Don't worry, it is my job..but go ahead if you really want.." is sy woorde wat mens sien hy met trots in die woorde vir ons sê.

Buite die lughawe kan ek dadelik agterkom die son skyn hier teen 'n laer hoek as wat ek gewoond is vir 15h00 in die middag. Oral staan netjiese wit sedan-motor taxi's wat mens laat dink aan die New York taxi's in die flieks...maar net wit. Die verkeer van die lughawe af herinner my baie aan Johannesburg verkeer... Die bane op die paaie voel net effens smaller en die motors wat voor mekaar insny voel vreemd normaal. Ons ry deur die tonnel en mense wag vreemd geduldig vir mekaar soos wat die bane soos 'n tregter bymekaar kom en saamsmelt om twee bane deur die tonnel te vorm. Groot vragmotors jaag met 'n spoed baie naby in die bane by ons verby...al die vragmotorbestuurders blyk wit te wees... Wat 'n kontras met Suid Afrika. Oppad na die Hills lyk die paaie baie besiger en smaller as wat ek dit op Google Earth vooraf bekyk het, baie meer heuwelagtig...amper soos Voortrekker weg oppad deur die poort by Wonderboom Suid. Die vulstasie waar ons stop lyk nogal stil...rustig gooi mens self petrol in en stop dan voor die "Quickshop" om self te gaan betaal...niks vreemd hieraan in Oz nie. In Suid Afrika sou baie gedink het "chrismas" het aangebreek... Ons sien ook 'n drive-through drankwinkel...hehe.

Ons bly vir 'n paar dae by vriende in 'n boomryke deel van Castle Hill. Ons eet Suid Afrikaanse macaroni en hoender. Ons kinders speel 'n hond uit 'n bos uit met ons vriende se kinders...nie eers die geringste sprake van vreemdgeit by hulle te bespeur nie...hulle neem die huis op horings.

Vandag wil ons ons ANZ bankrekening laat aktiveer.

Nou ja, hier sit ek en blog en ek dink aan Jannie du Topit se liedjie : "Drie uur in die more".

Al wat ek wil sê is:
Ek pak hierdie avontuur aan met diep vertroue in my liefdevolle Vader God...ek weet Hy sal ons nooit nooit nooit in die steek laat nie. Hy is ons Skaduwee aan ons regterhand, Hy sal ons troos deur sy kosbare kosbare Heilige Gees by ons en in elke voetstap ons hand vashou en met Sy sagte warm hand op my skouer weet ek ek is nie alleen nie...maar dat ek 'n Vriend het wat nader is as 'n broer.

6 comments:

  1. Julle is baie bevoorreg om daar te kan wees en onthou dit altyd veral in die moeilike tye, dit is 'n vooreg nie 'n reg nie. Ek volg jou blok al vir so 2 maand in my desperate pogings om antwoorde te kry op immigasie vrae laat die Hemelse Vader my op jou Blog kom en dit is soos een groot blessing. Ek kan nie wag om elke aand as ek op my 3G inlok te sien wat het vandag met julle gebeur nie. Met asb nie ophou blog nie jy was my redding want ek het nou berusting in die proses van ons Visa gevind want julle is ook daardeur. Geniet die Aussie wees!

    ReplyDelete
  2. Hallo, Swerwer!

    Ek lees nou-al so tydjie van julle groot besluit en al die denke daar rondom. Wou net se, ek glo julle doen die regte ding. Soms moeilik, maar moenie terugkyk nie.

    Baie sterkte!

    8)

    ReplyDelete
  3. Baie sterkte en moenie terugkyk nie. Dis absoluut de regte besluit!

    ReplyDelete
  4. Hi H & T,

    Ek is so jammer dat ek nie kans gehad het om vir julle totsiens te se nie! Wil net vir julle BAIE, BAIE sterkte toewens met die nuwe lewe in Sydney! Ek hoop dat hierdie skuif vir julle die moeite werd gaan wees en alles sal wees wat julle daarvan wil he. Ons hoop om ook binnekort dieselfde skuif te maak. Baie dankie dat jy julle ondervindings met ons gedeel het, al jou hulp was vir ons baie waardevol die afgelope ses maande.

    Baie liefde,
    Linda, Brett & Ryan

    ReplyDelete
  5. Vasbyt. Vastrap en vorentoe!

    ReplyDelete
  6. Swerver

    Thank you so much for your posting. It is full of emotion and left me in tears. We are emigrating to Warwick (156 km south west of Brisbane) in July and your post really hit home, especially the part where you apologise to your family.

    I wish you all the best in settling in and making Oz your new home.

    I look forward to your next blog.

    Take care...

    Kim and family

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings