Sunday, May 27, 2007

Nou ja, ons is nou hier in Oz

Wie weet, iewers is daar dalk 'n land van rus en
Wie weet, waar die vlugteling veilig is
Waar die Swerwer eindelik rus
En as daar is
Neem my saam, neem my saam
(Koos du Plessis...kenwysie van Jopie Adam)

Noem dit maar 'n droom, maar ons "droom" het nou waar geword. Ek het vandag my kamera se battery pap fotos geneem. Ons is nou al van Donderdag middag af in Oostralië. Ek het met die Qantas "time-machine" gery en nou is daar offisiëel 8 ure "missing" uit my lewe. Net iemand wat al "jet-lag" gehad het weet regtig wat dit behels. Dis soos om 'n slaapwandelaar te wees. Dit voel kompleet of mens se geheue net 3 feite ver strek, want as jy by die 3e feit kom wat jy moet onthou val die eerste van die bus af. Waar jy voorheen die magistraatskantoor om 7 uur die oggend besoek het, kry jy snaakse eienaardige "pyne" so 3 uur in die middag. So teen vyfuur die middag voel dit of elke bed jou aan die slaap wil toor en behoede jou as jy so teen 2 uur die oggend wakker word, want dan voel dit of jy van 'n Sondagmiddag slapie wakker geword het so teen 18h00 as 50/50 gaan begin en jy begin verward wonder oor die dinge dink wat jy nog die volgende dag agter die rug moet kry.

Gaan kyk bietjie na ons eerste 2 dae se fotos.

Die eerste 3 fotos is op Jhb. Internasionaal....en die res is in Sydney.


Bogenoemde reënboog parakiete (dink ek) het ek agter in die erf in Castle Hill afgeneem.

Die meeste van die fotos is in die Castel Hill...Pennant Hills omgewing van die Sydney Hills afgeneem. Ons bly by vriende van ons. So my kinders het geen tekort aan maatjies nie. Dit maak die aanpassing vir hulle baie makliker.

Vrydag is ons na die ANZ bank tak om ons bankrekening te aktiveer...al wat ons nodig gehad het was ons paspoorte en die bewys dat ons binne 6 weke hier aangekom het (ons Qantas vliegtuigkaartjies). Daar was geen probleem nie. Die diens was baie persoonlik en professioneel...amper soos private banking in Suid Afrika (en ek is 'n doodgewone klient!). Hulle gee jou baie vriendelike persoonlike aandag... Ons het sommer op een slag die Access Advantage rekening geaktiveer en ook 'n V2Plus spaarrekening oopgemaak. Ons Internet bankdienste is ook dadelik aktief, maar ons wag nog om ons bankkaarte te kry. Ek het ook sommer die reisigerstjeks by die tak gewissel. Baie, baie , baie aangename diens....West Ryde tak.

Later die dag het ons by McDonalds gaan eet....Suid Afrika se burgers is defnitief BAIE meer smaakvol as die Pennant Hills tak syne.

Saterdag is ons saam met die kinders na die publieke park in Castle Hill. Daar was 'n "Dollar-operated electrical barbequeue", 'n "jungle gym" vir die kinders, tennis en basketbal baan en fietspaadjies. Alles langs hoë bome en met groen grasperke. Daar was afdakke waar enigeen 'n kinderpartytjie kon hou as hulle lus is. Die kinders het dit baie geniet. Die park is sommer loopafstand van die huise af.

Julle sal sien die huise lyk of die bakstene soos plakpapier teen die huise vasgeplak is. Ek kon eers nie glo dat dit regte bakstene was nie...maar met nadere ondersoek kan ek bevestig....dit is regte egte bakstene!!! Nie baksteen teëls of plakpapier nie. Ek het nog nooit sulke netjies gepleisterde huise gesien nie. Wat verwag jy vir 'n land waar die messelaars ("brickeys") amper net soveel geld kry as IT mense!

Iets wat my dadelik opgeval het van die omgewing is dat daar bykans oral 'n kenmerkende aroma in die lug is...ek vermoed dat dit al die Eucalyptus bome is, want oral sien jy net bome en helder pers blomme. Selfs die smaak van tamaties is anders as in Suid Afrika...daar is so ietsie van 'n suur waatlemoen smaak daarin. Vegemite ("Marmite") smaak vir my presies dieselfde as in SA, sowel as WheatBix. Wat ek dadelik van gehou het is die "Raisin toast"...defnitief 'n gunsteling...in SA het ek baie van Hot Cross Buns gehou, maar hierdie toast smaak minder na koeksoda.

Saterdag oggend moes ek na die New South Wales se RTA (Roads and Traffic Authority) in Castle Hill om 'n Customer Number te kry sodat ek Maandag my kar op my naam kan sit. Hulle het 'n "rental lease agreement", my paspoort asook 'n bankkaart met my naam en handtekening op benodig sodat ek kon registreer. Vir die wat ooit in Cummunica in Pretoriusstraat elektroniese komponente moes gaan koop...wel, hier werk dit oral net so: by die RTA, by Woolworths, by ANZ bank...oral druk jy 'n knoppie om 'n nommer te kry en dan help hulle jou lyk vir my binne 'n minuut sonder dat jy eers in 'n queue moet staan. By die RTA (lisensiekantoor) het ek skaars my kaartjie gehad, toe word ek al gehelp....en ek is 'n vreemdeling in 'n vreemde stad!

Nog iets wat my opgeval het....al die lorrie berstuuders is...., wel...wit.

Gister is ons na die Maquarie winkelsentrum toe...baie soos Menlyn, Kolonnade of Tygervallei met 'n binneshuise ysskaatsbaan en al. Op 'n paar vlakke gebou....het natuulik vir my 'n Navman N40i GPS gaan koop om verkenningwerk makliker te maak. Ons was ook by Woolworths om kos te koop. Ons kry toe vir ons 9 lekker groot skaaptjoppies vir so $10.50 en maak. Axe deodorant word lykmy hier Lynx genoem. En mens kry ook Vicks vaporub...want om een of ander rede is my neus in die nag so toe dat ek nie kan slaap nie. Binne die eerste 10 minute wat ons in die Woolies was het ander Suid Afrikaners wat al 11 jaar hier is ons dadelik as SAners uitgeken en ons kontakbesonderhede gevra...lyk vir my ons staan nogal uit tussen die Aussies....

Saterdagaand het ons 'n lekker eg Suid Afrikaanse (of is dit nou Oz) "barbie" gehou...die tjoppies smaak maar presies dieselfde.

Ek het Striling lite lager gedrink soos in SA.

O, ja, en hier is ek en my dapper liefling liefling oulike vroulief:



Ons is vandag na Copacabana, by die Central Coast. Dit is Noord van Sydney by die see. Gaan kyk na die fotos wat ons vandag geneem het. Op sommige plekke herinner die pad jou aan die N3 by Pietermaritzburg, op ander plekke aan die tuiroete, soms lyk die winkels en plekke soos in Margate. Ek kon 'n paar baie mooi fotos daar neem.

Daarna het ons by die vriendelikste familie Aussies in Copa gaan kuier, regtig wonderlike mense en ons het land en sand gesels.

Hierna is ons terug met die Newcastle-Sydney snelweg en het toe bietjie na huise in Castle Hill gekyk....almal lyk omtrent of dit uit die Truman Show se TV set afkomstig is...of ten minste vanaf een of ander Hollywood set...blykbaar is hierdie nie juis 'n rykmansbuurt nie. Let bietjie op hoe baie huise omhein is.... In die nag hoor jy omtrent niks honde blaf nie en ek het ook nog geen sirene in die nag gehoor nie. Die Oakhill skool is net so 50 meter af in die straat en die busroete loop net so naby verby.

More kry ons ons kar so ek is nogal bietjie opgewonde, tot nou toe is ons deur ons ons vriende rondgeneem.

Groete uit Aussie land.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings