Thursday, April 26, 2007

Goedkoper opsies om in Australië te kom

Na 'n paar mense laat weet het dat dit hulle goedkoper gekos het om hierdie Australiese avontuur aan te pak deur byvoorbeeld nie deur 'n Angent te werk nie en ook eerder alles te verkoop en dit weer te koop in Australië, het ek die kostes soos volg uitgewerk:

2 x Paspoorte vir volwassenes (R165 elk) 330

2 x Paspoorte vir kinders (R125 elk) 250

4 x Geboorte Sertifikate (R50 elk) 200

Paspoort fotos 180

Huwelik Sertifikaat 50

Engelse graadpapiere 100

Jaarboek afdrukke 80

Verwysings afdrukke 100

ACS Koerier 600

ACS 2240

IELTS Toets British Council 2070

IELTS Toets British Council (vrou) 1633

136 DIMIA VISA Betaling 11383

Vliegtuigkaartjies 22400

Mediese ondersoeke vir 4 mense 1925

2 Stelle X-strale (136 en 457) vir 2 1000

2 HIV Toetse vir my en my vrou 218

------------------------------------------------------------------
Totaal R 44759

Bogenoemde bedrag is wat dit jou gaan kos as jy aansoek doen vir die 136 Independent VISA en jy eenvoudig wag totdat dit goedgekeur word en dan slegs jou en jou vrou en kinders oorvlieg. Dit beteken jy moet alles hier verkoop wat nie in die toegelate bagasie limiet vir 4 persone kan inpas nie. Dit beteken natuurlik ook jy moet alles weer koop in Australië, wat jou waarskynlik duurder gaan kos.

As jy natuurlik so gelukkig is om 'n maatskappy te kry wat jou op 'n 457 VISA sal sponsor en wat al jou relocation kostes gaan betaal en dan namens jou vir die PR (121/856) VISA gaan aansoek doen, dan is jou kostes minimaal:

2 x Paspoorte vir volwassenes (R165 elk) 330

2 x Paspoorte vir kinders (R125 elk) 250

4 x Geboorte Sertifikate (R50 elk) 200

Paspoort fotos 180

Huwelik Sertifikaat 50

Engelse graadpapiere 100

Jaarboek afdrukke 80

Verwysings afdrukke 100

IELTS Toets British Council 2070

Mediese ondersoeke vir 4 mense 1925

X-strale (136 en 457) vir 2 mense 500

2 HIV Toetse vir my en my vrou 218

457 Elektroniese VISA betaling 1100

------------------------------------------------------------------
Totaal R 7103
Kostes gaan waarskynlik wissel, want daar is baie verskuilde kostes.

Hoe om goedkoop fakse te stuur en te ontvang via die Internet

Ek het gister op 'n baie handige faks-na-email en email-na-faksnommer diens afgekom op die Internet.

Dit gaan veral handig wees as ons eers in Australië en ons vir besighede faksimileë moet stuur om al die honderde dienste en debietorders vir die soveelste keer te stop omdat dit nie die eerste keer ingesink het nie. Via die diens (wat lykmy in Vishoek in die goeie ou Kaap gesetel is) kry jy jou eie lokale Suid Afrikaanse faksnommer (08660xxxx). Al die fakse wat dan na daardie faksnommer gestuur word, word gerieflikheidshalwe na PDF, TIF of PS formaat toe ingescan en dan na jou e-pos adres gestuur sodat jy dit maklik kan organiseer. Mens kan ook krediete koop sodat jy vanaf jou rekenaar eenvoudig kan print na die geinstalleerde "driver" en hulle faks dan die dokument na enige faksmasjien in Suid-Afrika of oorsee. Ek het sommer die krediete met 'n Internet oorplasing gekoop gister en het vandag beide die faks-na-email en print-na-faksnommer diens uitgetoets. Dit werk wonderlik en die dokumente word in baie hoë resolusie gefaks en ook ontvang in jou e-pos. Ek kan dit aanbeveel aan enigiemand...dit kan baie handig te pas kom.

Die diens se naam is FaxFx by www.faxfx.net

Monday, April 23, 2007

Hoe om goedkoop te bel Australië toe

Tweedens. Soos ek reeds vermeld het, het ek mos nou 'n Australiese bankrekening by ANZ. 'n Goeie vriendin in Australië was toe so gaaf om vir my $5 in my rekening in te betaal sodat ek kan seker maak alles is in orde en dat die rekening op ons naam is en dat die geld wel inbetaal is.

Die nommer om te bel is +61 3 9683 9999. Dit is ANZ se Bank Oproepsentrum se nommer. As jy die nommer egter vanuit Suid Afrika bel, bel jy 09 61 3 9683 9999.

Ek het bietjie gaan uitvind wat dit nou kos om Australië toe te bel.
Op Telkom se webtuiste is dit R1.50 per minuut na 'n landlyn toe in Oz (en R 2.60 per minuut na 'n selfoon toe in Australië).

As mens egter van 'n Cell-C selfoon af bel in Suid Afrika, is dit R1.85 + bogenoemde Telkom fooi.

Dit beteken dit sou my (wat huidiglik net 'n selfoon het omdat ons Telkom foon gekanselleer is), sowat R3.35 per minuut kos om die ANZ banknavraag te kan doen.

EK WEET VAN SKYPE, maar dis bietjie moeilik om via GPRS op jou selfoon via Skype te bel. As mens egter 'n breëband konneksie het, kan mens Skype credits koop en dan so na enige Australiese landlyn bel, dit kos jou dan sowat 0.017 Euros per minuut = R0.1625 ) Met GPRS wat in Suid Afrika sowat R1 per meg kos en omtrent 0.82 meg wat per minuut benodig word vir Skype in beide rigtings, sal dit my dan R0.82 per minuut kos op 'n baie "dodgy" GPRS konneksie - maar by Cell-C sal dit R1.64 kos per minuut)

Ek kom toe egter Saterdag by Woolworths af op 'n internasionale telefoon kaart waarmee mens vir so min as R0.69 per minuut van 'n selfoon af kan bel. (Dit kos R0.69 na 'n Australiese landlyn en R1.90 na 'n selfoon.)
Die GLOBEL kaarte kan by Woolworths, CNA, Edgars, Jet, Boardmans, ens. winkels gekoop word vir R10, R50, R100 en R200 kaarte gekoop word. Op die kaart is 'n PIN wat jy eenvoudig verskaf as jy goedkoop wil bel.

Ek het vanoggend voor 7 uur (terwyl ek nog my Cell C free minutes kon gebruik) na ANZ in Australië gebel.

Dit werk soos volg:

  • Jy bel een van die GLOBEL toegangs nommers:
    011 250 1250
    021 464 0364 of
    031 713 7913
  • Jy tik die PIN op die GLOBEL kaart of "voucher" in en die stem sê vir jou presies hoe lank jy nog kan praat en hoeveel van die bedrag nog oor is (Vir R50 kry jy 72 minute Australië toe)
  • Dan tik jy die nommer in van die plek in Oz wat jy wil bel: 09 61 3 9683 9999
  • Wag 'n paar sekondes en siedaar...R 2.66 besparing per minuut (R0.69 in plaas van R 3.35 en dit van 'n selfoon af !)
Nou het ek bevestiging dat die bepaalde ANZ rekening wel op my naam is en dat die $5 inbetaal is. Volgende stap is om die "Travel allowance" van R160 000 per volwassene en R50 000 per kind wat sonder "red-tape" die land uitgeneem kan word, in hierdie bankrekening oor te plaas.

Ons Tydelike 457 VISA Nominasie is goedgekeur

Vandag het ek nogal baie om oor te rapporteer.

Eertens, is die tydelike 457 VISA Nominasie goedgekeur vir die maatskappy wat my sponsor! Ons het mos elektronies aansoek gedoen vir die 457 VISA, so nou kan ek elke dag die status van die Sponsor en ook die VISA op die internet nagaan. Alles word elektronies gedoen en dit sluit die stawende dokumente vir die VISA in.

Net om my mede trekkers bietjie in te lig oor hoe mens te werk gaan om 'n maatskappy te kry om jou te sponsor:

  • Stuur jou CV, werkgewer verwysings, akademiese rekords en graadpapiere (of watter toepaslike opleiding jy ook al gehad het) na soveel as moontlik Australiese maatskappye wat aan jou vereistes voldoen. Ek het na 'n uitgebreide soektog op Google vir myself 'n kortlys van so 16 maatskappye gemaak wat in die bedryf werksaam is wat ek in belang stel en toe 'n 3 meg zip file vir hulle gestuur saam met 'n e-pos wat breedvoerig verduidelik dat ek besig is om na Australië te emigreer saam met my familie en dat ek bereid sou wees om gesponsor te word om gouer daar te kom.
  • 'n Hele paar maatskappy het terug gereageer met 'n e-pos dat ek hulle moet kontak sodra ek my PR het, maar daar was een wat op hoogte gehou wou word van my VISA "timeline". 'n Rukkie nadat hulle my e-pos ontvang het, het daar egter 'n pos in daardie maatskappy ontstaan vir 'n Senior C# Programmeerder. Omdat my CV reeds by hulle was het hulle my dadelik laat weet en het gevra of daar 'n manier is wat hulle my vinniger daar kon kry.
  • Ek het hulle verwys na die moontlikheid dat hulle my kan sponsor met die "Temporary Business (Long Stay) - Standard Business Sponsorship (Subclass 457)" of andersins die "Employer Nomination Scheme (Subclass 121/856)" permanente VISA waar die werkgewer jou sponsor vir PR.
  • Omdat ons toe alreeds die 136 "Skilled Idependent" VISA se ingedien het en die VISA fooie betaal het, het hulle toe besluit om die 457 roete te volg om net die proses om ons in Oz te kry te bespoedig.
  • Vir die 457 proses moet die maatskappy eers goedgekeur word as 'n geldige Temporary VISA Sponsor. Die proses bestaan uit 3 dele: Die maatskappy word goedgekeur as 'n sponsor, hulle dien 'n nominasie aansoek in om my te kan sponsor en derdens dien ek van Suid Afrika af 'n VISA aansoek elektronies in. Alles word op hierdie bladsy gedoen.
  • Wanneer die maatskappy terugvoer kry van die immigrasie departement oor die sponsor, kry hulle 'n TRN (Transaction Reference Number), wat hulle dan vir my stuur sodat ek solank in parallel vir die VISA kan aansoek doen. Die sponsor en VISA aansoek hardloop dan in parallel. Die VISA betaling word uit jou kredietkaart betaal en kos AU$185. Dit kan ge-"refund" word sou die sponsor aansoek van die werkgewer nie suksesvol blyk te wees nie. Die maatskappy betaal die sponsor fooi, wat AU$55 is.
  • Tydens die elektroniese VISA aansoek kan die aanlyn vorms gestoor word sodat jy later weer die vorms verder kan invul. Sodra die vorms volledig voltooi is, word die kredietkaart besonderhede ingevul en jy kry 'n verwysing nommer waarmee jy al die ingescande stawende dokumente kan oplaai. Daar kan 'n totaal van 15 png/jpg/MSWord of PDF dokumente aangeheg word. Al die dokumente moet kleiner as 1 Meg wees.
  • As ek reg kan onthou het ons die volgende KLEUR ingescande dokumente aangeheg:
    My paspoort, my vrou se paspoort, my 2 kinders se paspoorte
    Ons almal se "unabridged" geboorte sertifikate
    Ons "unabridged" huwelik sertifikaat
    My CV (MS Word formaat)
    Ten minste 3-4 jaar se werksverwysings
    Werkskontrak van die werkgewer af wat salaris ens. aandui
    Ek het my graad sertifikate aangeheg...maar dink nie dis nodig nie
    Vir sommige beroepe moet jy ook kan bewys dat jy 'n goedgekeurde kwalifikasie hou, maar ek het sommer my ACS resultaat aangeheg...net omdat ek dit reeds gehad het, maar ek dink nie dis nodig nie.
    Aangesien die dokumente in kleur ingescan is hoef hulle nie gesertifiseer te word nie.
  • Tydens die proses kan mens dan ook die 26E en 160E mediese vorms aflaai. Kinders moet volledige mediese ondersoeke ondergaan en ek en my vrou moes net X-Strale laat neem. (Ons het egter alles laat doen omdat ons dit wil gebruik vir die 136 ook)
  • Bespreek 'n afspraak by Hatmed in Hilda straat en gaan dan vir die medies sommer nog dieselfde week.
Deur gebruik te maak van die VISA verwysing (saam met jou Paspoort nommer en geboorte datum) kan jy dan die status van die VISA elektronies monitor. Myne sê nou:

Application Status
Application 457 Business Long Stay Primary - VERWYSINGNR
27/03/2007 Application received - processing commenced Message
27/03/2007 Application fee received Message
View your receipt details

Person 1 Date of birth: ...... Passport No: ......
18/04/2007 Health requirements finalised Message
18/04/2007 Further medical results received Message
18/04/2007 Further medical results received Message
18/04/2007 Further medical results received Message
18/04/2007 HIV blood test received Message

Person 2 Date of birth:
......
18/04/2007 Health requirements finalised Message
18/04/2007 Further medical results received Message
18/04/2007 Further medical results received Message
18/04/2007 Further medical results received Message
18/04/2007 HIV blood test received Message

Person 3 Date of birth:
......
18/04/2007 Health requirements finalised Message
18/04/2007 Further medical results received Message

Person 4 Date of birth:
......
18/04/2007 Health requirements finalised Message
18/04/2007 Further medical results received Message


Indien jy die besigheid se ABN (Australian Business Nommer) het, kan jy dit saam met die TRN nommer wat jy by die maatskappy gekry het gebruik om ook die Sponsor aansoek se status na te gaan:

Application Status
Application 457 Business Nomination - SPONSOR VERWYSING
14/03/2007 Application received - processing commenced Message
14/03/2007 Application fee received Message
View your receipt details

23/04/2007 Nomination approved Message




Wel, al wat nou nog oorbly is dat die VISA goedgekeur word. Ek verwag dit binne 2 weke!!!

Thursday, April 19, 2007

Mediese verslae het aangekom in Sydney

Ons mediese ondersoek verslae, die X-Strale en die HIV toetse het aangekom in Sydney en is nou op die rekords sodat die 457 en 136 VISAs uitgereik kan word. Ons het sommer beide VISAs se medies gedoen sodat ons dit hopelik nie weer vir die 136 ook te doen nie.

Dit beteken dit het dan sowat 17 dae geneem vanaf die dag wat ons Hatmed toe is vir die ondersoeke tot vandag. Nou wag ons net vir goedkeuring en dan kan ons die bal aan die rol sit.

Ek het sommer ook vandag my bedankingsbrief by my werk ingegee (maar hulle weet reeds dat ek Oz toe gaan). Dit is vir my baie erg om by my huidige werkgewer weg te gaan. Dit is "excellent" mense waarmee ek saam gewerk het die afgelope 3 jaar, en ek het 'n baie goeie verhouding met almal. Dit is die beste maatskappy in die wêreld! Ek het so baie geleer en neem moeilik afskeid, maar ek weet dat ek in 'n Australiese werksomgewing tussen Australiërs sal moet werk om werklik in te skakel in die nuwe land se kultuur en mense.

Wednesday, April 18, 2007

Hoekom herhaal die geskiedenis homself ?

Die Groot Trek is besig om in ons geskiedenis te herhaal....en dit is hierdie keer groter en meer verreikend.

Kyk, ek is nie 'n persoon wat besonder baie in politiek belangstel nie, maar as iemand vir my donkiedrolle aanbied asof dit sjokolade is, dan is ek nogal geneig om die SNUF in die neus te kry as jy weet wat ek bedoel.

In die grondwet van Suid Afrika se handves van menseregte (Hoofstuk 2) kry mens die volgende waarborge:
"Die Staat moet die regte in die Handves van Regte eerbiedig, beskerm, bevorder en
verwesenlik."
"Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of
meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese
of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens,
gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte."
"Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike
diskriminasie te voorkom of te belet."
"Elkeen het die reg op lewe.
Vryheid en sekerheid van die persoon"
"vry te wees van alle vorme van geweld van hetsy openbare hetsy private oorsprong"

Ek het reeds elders op die Internet hieroor geskryf, maar wil dit graag hier op my blog ook plaas.
Ons gevoelens wissel van woede tot wanhoop omdat ons op so 'n manier gemarginaliseer en verstoot word
(deur 'n terugkry mentaliteit om ons te straf vir "Apartheid" wat ons eers regtig verstaan het toe ons omtrent uit die skool gematrikuleer het)
uit die land wat ons op 'n stadium regtig sou wou voor "lewe en sterwe".

Ek self het my nog nooit juis met politieke dinge besig gehou nie...my doel was nog altyd om sover as wat dit van my afhang in vrede met ander te leef en hulle te behandel soos wat ek graag behandel wou word.

Soos baie ander is ek besig om die los drade van my lewe in Suid Afrika stuk-stuk bymekaar te maak....dit sluit die volgende in:
- Om my sielkindig los te maak van die land wat ek nou al vir 34 jaar lank so lief gehad het.
- Om alle fotos van my en my familie wat ek oor die jare in ons mooi land geneem het en alle fotos van my ouers en ons kinderjare bymekaar te maak (sowel as al ons ou familie videos)...al 27000 fotos in totaal.
- Om my Pa uit te vra oor my voorgeslagte en ons geskiedenis sodat ek weet wat om eendag vir my 2 kinders te vertel van hulle afkoms.
- Om al die bekende plekke vir oulaas te gaan totsiens sê.

In hierdie proses kom ek toe mos nou die dag af op 'n stel van 8 langspeelplate "Ons lewende geskiedenis" wat in die tagtigerjare gedramatiseer is deur baie bekende Afrikaanse akteurs. Ons het nog die viniel plate saam met die Afrikana Ensiklopedie gekry. Ek het dit vir my toe sommer op MP3's gesit.

Op Plaat 3 (kant 2) en Plaat 4 (Kant 1) luister ek toe na die redes vir die Groot Trek wat deur die grensboere aan die Kaapkolonie in 1833 in Suid Afrika begin is en ek was verstom oor die ooreenkomste met ons situasie vandag maar slegs 173 jaar later.... (hulle voorbereidings vir die Trek vanuit die Kaapkolonie was daardie tyd owat 4 jaar omdat hulle self die ossewaens moes bou)

Ons en ons voorsate was lykmy maar nog altyd geneig om te trek...of dit nou dwarstrek, wegtrek, of selfs karavaan trek betref...trek gaan ons trek. Baie van ons voorsate het juis Suid Afrika toe getrek van oorsee af vir baie geldige redes...My Ma se familie (van die Britse settelaars se afkoms) asook my Pa se familie (vanaf Portugal) het na SA toe getrek vir beter geleenthede. Daar is daardie tyd deur die Britse regering gratis grond en plase belowe wat hulle moes bewerk en dan kon hulle hul oeste aan die regering verkoop. Baie van hulle het ook sendelinge ingesluit soos Ds. Andrew Murray. Baie Franse het na Suid Afrika gekom toe hulle gevlug het vir hulle protestantse geloof (toe die Edik van Nantes teruggetrek is en hulle effektief moes vlug vir hulle lewens). Dit was 'n moeilike lewe om "bosveld" in landbougrond te omskep en daarby is hulle OOK gedurig geplunder, hulle vee gesteel en hulle families vermoor deur die Xhosas op die grense van die Oos en Wes Kaap tydens 6 grensstrooptogte.
Die oosgrensdistrikte was die distrikte van Graaff-Reinet, Uitenhage, Somerset-Oos, Tarka, Grahamstad, Cradock en Colesberg. Volgens die geskiedenis het 15000 Xhosas in Desember 1834 die grens die Kaapkolonie binnegeval. Die hele kolonie tot by Uitenhage en Somerset Oos is bykans verwoes. Honderde mense se huise is afgebrand, meer as 5700 perde, 115000 beeste en 162000 skape en bokke is gesteel in daardie een plundering. Onthou...perde was maar daardie tyd ekwivalent aan vandag se motors omdat dit hulle vervoermiddel was. Vandag WEER word die "perde" gesteel.

Dit klink vir my so bekend, want die Britse regering het daardie tyd ook weinig aan die strooptogte, plaasmoorde en diefstalle gedoen en basies vir die boere 'n koue skouer gegee. En vandag....wat het die minister van Veiligheid en sekuriteit vir ons te sê:"as ons dit nie pas nie...kan ons maar emigreer".

Ek het sommer bietjie gaan soek toe kom ek af op die geskiedenis van die Groot Trek op die Web:
http://mysite.mweb.co.za/residents/dugeot/groottrek.html
ek sien daar is ook 'n inskrywing oor jou familie Piet Uys (maar hy is nie saam met Piet Retief vermoor soos jy sê nie maar apart by die Bloukrans- en Boesmansrivier deur Zoeloe impi's vermoor).

Nadat die boere aan die Kaap GEEN ANDER UITWEG kon sien nie het hulle besluit om te trek...terloops, hulle is ook daardie tyd "EMMIGRANTE" genoem. Piet Retief is gekies as die emmigrante se leier en op
2 Februarie 1837 laat publiseer hy die redes waarom hulle "emigreer" in die "The Graham's Town Journal" om aan die Britse regering van daardie tyd te verduidelik hoekom hulle wil trek:
http://www.groottrek.za.cx/manifes_01.htm

Terloops, ek weet nie hoekom hulle dit daardie tyd die "GROOT TREK" genoem het nie, omdat daar maar tussen 10000 en 12000 mense was wat getrek het....vergelyk dit met die grootskaalse emmigrasie van amper 1 miljoen wit Suid Afrikaners die afgelope 10 jaar:
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/...27/jan2okt.html

Ek haal aan: "Die Groot Trek word saaklik beskryf as die georganiseerde verhuising van tussen tien- en twaalfduisend Afrikaners in die jare dertig van die 1800’s uit die oosgrensdistrikte van die destydse Kaapkolonie na die binneland. Hulle sou later die Voortrekkers genoem word."

Wat is dan werklik die Groot Trek???

Lees oor Piet Retief hier.
Piet Retief, wat eers 'n veeboer was, het die volgende redes aangevoer vir die Trek:
22 Januarie 1837
Woordelikse aanhaling:
"1. Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlikie gedrag van vaebonde, wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in 'n land wat op dié manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.
3.Ons kla oor die aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van "swartes" en ander kleurlinge, en veral deur die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.
6.Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om 'n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval word, sal ons ons ten volle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.
8.Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeerte bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.
10. Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan ergernis, om ons te gaan vestig in 'n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met 'n vaste vertroue op 'n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.
P. RETIEF."

In Engels:
"We despair of saving the colony from those evils which threaten it by the turbulent and dishonest conduct of vagrants, who are allowed to infest the country in every part; nor do we see any prospect of peace or happiness for our children in a country thus distracted by internal commotions.
We complain of the continual system of plunder which we have ever endured from the ...... and other colored classes, and particularly by the last invasion of the colony, which has desolated the frontier districts, and ruined most of the inhabitants.
We solemnly declare that we quit this colony with a desire to lead a more quiet life than we have heretofore done."


Dit was 169 jaar gelede...

Klink dit nie SOOOOOO bekend nie!!

Vandag wil ons tog steeds die volgende hê:
1. Ontslae wees van die misdaad, moord en diefstal.
2. In vrede kan leef met die nasie waarheen ons emmigreer
3. Om 'n rustiger lewe te kan lei en sonder vrees vir ons of ons kinders se lewens kan rondbeweeg
4. Om regverdige geleenthede vir ons en ons kinders te hê
(ONS WIL NIE BILLIK OF ONBILLIK TEEN GEDISKRIMINEER WORD NIE!!!!)
5. Om nie miljoene rande se blasting te betaal vir dienste wat ons nooit sal sien nie
6. Nie vir die res van ons lewens moet boet vir iets wat ons self nie gedoen het nie.
6. Om nie ryk regeringsamptenare (soos Dingaan van ouds) vet en ryk te maak nie.

Moet nou net nie dink ek is verbitterd oor my land nie, net teleurgesteld....
Maar ek weet daar wag 'n spliternuwe toekoms vir ons, een wat ons self help skep en wat ons self gekies het...

Die geskiedenis herhaal homself as mens die geskiedenis ignoreer, dit probeer wegwens, dit herskryf of dit ontneem van ander deur al die bakens wat mens daaraan herinner herdoop totdat niemand meer weet watse plek jy nou meer van praat nie.....

Monday, April 16, 2007

Hoeveel kos dit ons nou al vir die Groot Trek

Vir almal wat emigrasie oorweeg...dink baie goed!!!

Ek het in parallel vir beide die permanente (136) VISA
aansoek gedoen sowel as die tydelike (457) VISA omdat ek
gelukkig was om 'n werk te kry wat my vinniger wil oorbring Oz toe.
Hier is 'n opsomming van ons "Groot Trek" uitgawes.













































































2 x Paspoorte vir volwassenes (R165 elk)330
2 x Paspoorte vir kinders (R125 elk)250
4 x Geboorte Sertifikate (R50 elk)200
Paspoort fotos180
Huwelik Sertifikaat50
Immigrasie Agent Eerste Paaiement6200
Engelse graadpapiere100
Jaarboek afdrukke80
Verwysings afdrukke Eerste keer70
Verwysings afdrukke 2e keer45
ACS Koerier1222
ACS2240
Immigrasie Agent Tweede Paaiement4205
IELTS Toets British Council2070
136 DIMIA VISA Betaling11383
IELTS Toets British Council1633
Immigrasie Agent Finale Paaiement4200
Container33000
Vliegtuigkaartjies22400
Mediese ondersoeke vir 4 mense1925
2 Stelle X-strale (136 en 457) vir 21000
2 HIV Toetse vir my en my vrou218
457 Elektroniese VISA betaling1100


Totaal:R 97701

Saturday, April 14, 2007

Ons is nou die trotse eienaars van 'n oorsese Australiese bankrekening

Toe ons nou-nou in ons posbus kyk kry ons die bevestiging dat die ANZ bankrekening geopen is en ons onsself moet gaan identifiseer by die tak in Sydney naby die plek waar ek gaan werk.
Die aansoek is op 1 Maart by die Centurion poskantoor gepos en vandag 14 April was die brief in ons posbus. Dit is egter vir 22 Maart gedateer.

Volgende stap is om 'n klein bedraggie geld in te betaal in hierdie rekening en om dan na 'n paar dae vir ANZ te kontak om te bevestig dat dit inbetaal is. Noem dit maar 'n toets, want ek wil seker maak dat die rekening wel reg opgestel is voor ek ons hele huis se geld daar inbetaal.

Friday, April 13, 2007

Soms is die staptog moeilik, soms maklik, maar altyd vol nuwe avonture

Wie hou van voetslaan? Noem dit stap, wandel wat ook al. Ek en my vrou hou sommer baie daarvan. Is ons veteraan stappers? Allermins!!
Ons gaan net vir die ervaring van die natuur:
die asemrowende panoramiese uitsigte wat jy sien as jy na 'n groot gesukkel hoog genoeg en ver genoeg gestap het om te kom waar min mense die voorreg het om te gaan. Om in die herfs te sien hoe die akkerbome geduldig jaar na jaar die berge met 'n palet van geel, oranje en rooi verander in 'n prentjie wat vasgebrand word in jou gedagtes, net soos die digter NP van Wyk Louw dit in Vroegherfs beskryf:

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

Uit Vroegherfs, NP van Wyk Louw


Om in die vroeë oggendlug 'n lekker koffietjie te drink en te sien hoe die son se glinstering deur die doudruppels op die nat gras, klein reënbogies maak. Om binne in 'n populierbos by Chatedral Peak Didima kampterrein in jou tent te lê en luister na die wind se geluid deur die bome se takke en saans as alles pikgietswartdonker word net die helder sterrehemel bo jou te sien oopvou. Of om by die Monks Cowl tentkamp, of by Injusuti na die veelkleurige grasvelde te sit en kyk wyl jy rustig sit en luister hoe die klokhelder vars bergwater ongestoord sy weg vind oor die ronde, deur eeue heen verweerde, rivierklippe.

Die foto heel bo aan het ek in vroegherfs vanaf die Monks Cowl kampterrein af geneem. Kliek gerus op die foto om na 'n groter weergawe daarvan te kyk. Die wêreld in die berge is net soveel mooier as wat mens op die foto sien. 'n Mens moet dit beleef om dit te waardeer. Mens moet DAAR wees om te weet hoe BETER dit regtig is.

Die bergpaadjies is normaalweg goed gemerk met klein voetspoortjies, die nalatenskap van die die mense wat die weg oor die berge reeds gebaan het. Daar word op die meeste bergpaadjies duidelik aangedui wanneer daar 'n draai in die pad is. Menigmaal het ek al so na bergbestemmings geloop wat ek nog nooit voorheen op geloop het nie, in die vertroue dat die rigtingwysers van my voorgangers korrek was. Dit is seker wat geloof ook is: Om die rigtingwysers te volg van die' wat reeds die roete voltooi het en hul voorbeeld agtergelaat het.
Baiemaal kry mens ook natuurlik nie 'n voetspoor om elke draai nie... Mens moet maar aanhou stap op 'n dikwels dowwe paadjie waarop leidrade gelos is so tussendeur die klippe wat uit die pad gerol is en die platgetrapte grashalmpies deur. Mens neem soms 'n besluit by 'n voetspoortjie op 'n vurk in die pad, in die vertroue dat dit die regte besluit was; maar dan moet jy deurdruk en daardie paadjie enduit volg. Soms wonder jy of jy die regte besluit geneem het...veral as die leidrade yl word en die paadjie steil teen 'n berghang begin uitkronkel. Jy word dikwels uitasem en jou lyf moeg, die gedagte om tou op te gooi maal in jou kop met die woorde: kannie meer nie korporaal!!

Maar dit help oneindig baie as jy iemand het om die paadjie saam met jou te stap. Iemand wat verstaan waardeur jy gaan omdat sy saam met jou daardeur gaan, iemand wat kan getuig dat jy ook daar is, dat die emosies wat jy ervaar nie net jou verbeelding is nie. As jy moeg word en moedeloos in die middel van die pad op 'n klip sit en jouself bejammer, en jy opkyk in 'n vriendelike gesig wat verstaan....dan staan jy sommer op en hardloop met nuwe moed teen die rante uit.

Die bewys dat die besluit by die vurk in die pad nie verkeerd was nie kom natuurlik eers aan die einde van die roete...as jy êrens hoog teen 'n berghang by die uitkykpunt uitkom en uit die hoogte terugkyk op die hele pad waarlangs jy geloop het, 'n gasstofie uithaal en vir jou en jou vrou lekker moerkoffie en beskuit saamflans terwyl jy uittuur oor die wolke....maar hierdie keer van die bokant af. Die wat voor jou daar die weg gebaan het, het toe die waarheid gepraat...jou op die regte spoor gelei. Kyk die pad is nie maklik nie, niks wat die moeite werd is val sommer in mens se skoot nie, maar mens wil ok nie verniet deur swaarkry gaan nie....mens is darem ook nie stupid nie.

Vir my is hierdie Australië planne nogal soos 'n voetpad in die Drakensberge: moeilik maar aan die einde hopelik die moeite werd. Net die tyd sal leer....as ons eendag terugkyk op die smal paadjie deur die berge, ver bokant die sub-gelukkige bestaan, die daaglikse noodgedwonge tronk lewe, die rondrol in die nag van bekommernis oor jou familie se veiligheid en die stelselmatige aanbreek van die winter soos wat alles wat vir jou lief en dierbaar was in jou land soos herfsblare van 'n akkerboom stadig maar verseker verkleur, verdroog en afval om uiteindelik vir altyd net in goeie herinneringe in jou hart te bestaan.....

Tuesday, April 10, 2007

Komaan vriende. Opskud. Die Australiese hekkie raak nou hoër

Ek lees vandag dat die Australiese Skilled VISA vereistes vanaf 1 September 2007 af bietjie gaan verander.

Julle kan daarvan op die "Department of Immigration and Citizenship" (DIAC) website lees of op hierdie skakel van Go Matilda waar dit verduidelik word.

Dit gaan hoofsaaklik daarom om te verseker dat mense wat na Oz toe trek oor die vereiste Engelse taalvaardighede beskik en om krediet te gee vir mense met goeie Engelse taalvaardigheid.

'n Paar van die veranderings behels:
- Die aantal "Skilled" VISA sub-klasse van 15 na 9 vereenvoudig word.
- Die 136 "Skilled Independent" word nou sub-klas 175
- Die 137 (offshore) en 138 Skilled Sponsored word nou 176
- En die Skills Matching VISA 134 bestaan dan nie meer nie.
- Die IELTS (Engelse Taal) vereiste se minimum vereiste is nou 6 (Competent) behalwe vir 'n paar uitsonderings. Mense wat 7 of meer kry in al 4 Engelse komponente kan nou 5 ekstra punte kry.
- Daar is ook effense verandering aan die MODL (On demand) lys vereistes.

Maar die beste nuus is dat alle "Skilled" aansoeke van 1 September af elektronies ingedien sal kan word !

Monday, April 09, 2007

Pretoria Jakarandastad...Sydney blomtuin


Pretoria Jakarandastad - Deur Koos du Plessis

C G7 F C
Pretoria Jakarandastad, dis weer Oktobermaand
F C Am D7 G7
Miskien is dit die rede dat ek so verlang vannaand
C G7 F C
Want hoeveel jare het jy nie my lief en leed gedeel
F C Am G G7 C
En stil geluister wanneer ek my ou kitaar bespeel
G7 C G7 C
Doe doe doe doe, doe doe doe doe
F C Am G G7 C
Stil geluister wanneer ek my ou kitaar bespeel

Pretoria Jakarandastad, waar ek so graag alleen
Straat op en af geslenter het in die lente reën
Waar meisies lank na middernag nog deur die vensters loer
En dromend luister na die lied van elke troebadoer
Doe doe doe doe; doe doe doe doe
Dromend luister na die lied van elke troebadoer

Pretoria Jakarandastad, die tyd gaan gou verby
En daardie jare lê soos ylblou berge agter my
Maar steeds is ek 'n troebadoer wat almal wil vertel
Van jou ou Jakarandastad met sang en snarespel
Doe doe doe doe; doe doe doe doe
Jou ou Jakarandastad met sang en snare spel

---------------------------------------------------------

Wie van ons onthou nie die lekker studentedae in
Pretoria nie.
Tot laataand het ons rondgehand by Sterland of
rondgedrentel by Sunnypark.
Ons kon toe nog onbevange jongmens wees.
Soos Koos du Plessis se liedjie se
woorde lui: "daardie jare lê soos ylblou berge agter my".

Dit was in 'n era toe Pretoria nog
"Pretoria Filadelfia" was. Maar ons neem
dit wat was met ons saam...
Daar in Australië is baie Jakaranda bome.
Ons begin oor en sal ons plekkie wat nou nog
leeg is in Oz in 'n blomtuin omskep...

"Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek
en in vrede gelei word;
die berge en die heuwels sal voor julle
uit jubel en juig en al
die bome in die veld sal hande klap.
In die plek van 'n doringbos sal daar 'n
sipres opskiet,
in die plek van 'n dissel sal daar 'n
mirteboom opskiet." Jes 55:12-13

Die Trekkers trek voort...



Thursday, April 05, 2007

Mediese ondersoeke afgehandel

Ons het vandag, Maandag 2 April 2007 by Hatmed (naby die hoek van Hilda en Burnett straat in Hatfield) by Dr. Johan Momberg by Dr. Lingenvelder se praktyk. Ons het sommer beide die 457 en die 136 VISAs se mediese toetse gedoen. Die mediese ondersoeke het omtrent R2000 gekos vir my en my vrou en ons 2 kinders. Ons moes duplikaat X-strale neem by die radioloog en dit het R1000 gekos in totaal. Verder was die HIV bloedtoetse by die patoloë R217 vir 2 mense. Hierdie dokters is baie vriendelik en ek kan hulle regtig aanbeveel.

Daarna is ons in Pretoria stad in om sommer die "Police Clearance Certificate" aansoeke oorkant die Sanlam sentrum by die polisie se rekords afdeling in te gee.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings