Sunday, January 14, 2007

Die IELTS (Engelse) Toets is nou agter die rug

Ja nee, gister het ek toe mos die vereiste IELTS (International English Language Testing System) toets afgelê. Ek moet sê: ek was nogal bietjie bang voor die tyd. Dit, ten spyte van die feit dat ek nou al reeds seker al omtrent 23 jaar van Engels leer, Engelse TV kyk, Engelse flieks kyk, Engels as vak op skool gehad het, in Engels gestudeer het, in Engels klas gegee het en nou al reeds 9 jaar in Engels werk. Dis maar een van daai bergies wat ons trekgeselskap in ons trek oor die Drakensberge (die VISA aansoek) moet oorkom.

Laas laweek het ek spesiaal die werkboek deurgewerk om weer te sien of ek nog met 'n pen kan skryf...mens verleer dit nogal na soveel jare se rekenaar werk. Die werkboek het my defnitief gehelp, al was dit net om my voor te berei op wat ek te wagte kon wees.

Sake het so verloop:

Vroeg gisteroggend 7 uur is ek hier weg oppad na die Wits College of Education in Johannesburg....dis waar die "gevreesde" toets afgelê sou word. Mens ry maar met die N1, volg dan die M1 na Johannesburg se middestad en draai by die St. Andrew's afrit links, volg die pad links en so by die 3e kruising of so draai jy links in die Wits kampus se "relatief verlate" gronde in. Ons het in die Boice blok toets geskryf, wat basies die blok aan jou regterkant is net voor jy by die sirkel kom. Hier is die koordinate van die plek: -26.1796390, 28.0425113 (lat,lon)

Soos verskrikte skoolkinders op hul eerste dag op hoerskool het die mense daar in die voorportaal saamgedrom totdat ons in rye gemaak staan is volgens alfabetiese vanne. Ons moes on paspoorte wys (en mense, moet nie net 'n afdruk bring nie asseblief!!) en saam met die paspoort fotos en registrasie vorm ingee. Al die "sakke en boeksakke" is met nommers gemerk en moes buite die lokaal ingegee word. In die "klaskamer" lokale is ons naampies en registrasie nommer netjies op skoolbankies saam met 'n kit-kat, 'n botteltjie gebottelde water, 'n pen en podlood en uitveer neergesit. Ons moes ons selfone afsit en in die gemerkte koevertjies voor ons verseel...dit het hulle later ingeneem...sodat ons nie dalkies vir ons maatjies sal SMS om ons krip notes te stuur nie... Die strak gesigte van die hoofsaaklik wit mense van in hul laat twintigs tot seker so vyftig, was in strak kontras met die British Council se personeel wat geheel en al uit baie vriendelike swart mense bestaan het. Die personeel was duidelik goed georganiseerd...vir elke persoon wat die toets sou aflê was daar plek voorberei op sy lessenaartjie. Niemand het geweet wat presies vir hom wag nie.

Die personeel het die verigtinge bykans 100% volgens die "boek" gedoen...wat hulle bykans woordeliks afgelees het. Vir die luister toets het ons na 'n CD van die British Council geluister op die hi-fi voor in die lokaal. Stroopsoet het almal geluister en kon vir elke 5 van die 40 vrae eers die vrae lees en dan is 'n stuk gespeel waarin die antwoorde in die presiese volgorde van die vrae in die stuk voorgekom het.

Daarna het ons die leestoets gedoen wat ook 40 vrae gehad het. Al raad wat ek kan gee is: moenie die eerste antwoord gee wat jy raaksien in die begrips leestoets nie, want daar 'n paar plekke in die toets waar die sinne lyk of dit die presiese antwoord op 'n vraag is, maar net effens anders, terwyl die korrekte antwoord in effense ander woorde verskuil lê. Moenie net antwoorde soek nie...lees die hele stuk en verstaan dit. Daar is oorgenoeg tyd.

Daarna het ons almal soos in Engelse klas op skool 'n brief en 'n opstel geskryf. Ons moes deurentyd soos in Graad 2 alles in podlood antwoord, maar die "essay" kon in pen gedoen word.
Hierna was die toets klaar. Die koeverte met die selfone in is uitgedeel en die mense het soos druppels uit 'n kraan uit die lokale gestap met hulle botteltjies water in die hand. Die eerste slag van ons stryd was verby, nou het nog net die mondelinge toets voorgelê. Dit was nog vroeg (net na 12) en ek het sommer na 'n winkelsentrum toe gery en by 'n coffee shop 'n club sandwitch gaan eet. Vir my is Johannesburg maar vreemd, want baie van ons Pretorianers kam mos nie baie daar nie. Deur die strate van Johannesburg het 'n paar mense hul gewonde gang gegaan en ek kon 'n paar mense op kanoes sien ry toe ek by die Emmarentia dam verbyry.

Dit was gister baie warm en ek is daarna toe sommer reguit na die British Council se kantore waar ek 16h20 'n mondeling sou doen...om in hierdie hittige weer in die kar te wees was g'n speletjie nie, die aircon ten spyt. Die British Council se parkeerterrein is hier :
-26.1892403, 28.0392012

Ek besluit toe maar om "aan te meld" en daar in die wonderlike lugversorgde kantore se ontvangs te sit en wag. Dis vriendelike mense hierdie, hulle neem my toe sommer deur na war ek die "speech" moet gee. Dit was nog so twee ure se wag vir my, maar om die tyd om te kry besluit ek om met elke kandidaat emmigrant 'n geselsie aan te knoop.

Die onderhoud self behels iemand wat 'n lysie vrae vir jou vra oor jou werk, waarin jy belangstel en watter gebeurtenis jou lewe verander het. Ek kan verstaan hoekom die ou wat die "onderhoud" voer al teen hierdie tyd van die dag die vrae soos 'n resitasie opsê, want daar was seker so 4 lokale van omtrent 100 mense elk wat al deur die arme drommels beoordeel is en teen hierdie tyd vind hulle dit seker al moeilik om werklik belangstellend te lyk in die antwoorde op vrae wat hulle seker al honderde kere gevra het...Hy vra my om hom te vertel oor iets baie interessant in my lewe, en ek besluit om hom te vertel van al ons wedervaringe op ons Scuba ekspedisies by Sodwana...Ek kon sien hoe hy sy lip byt van belangstelling om my nie verder uit te vra nie, maar die ou moet volgens sy lysie werk en ek kan sien dit is baie moeilik.

Wel, dit was my dag by die Engelse toets. Ek sal die uitslae seker een van die dae in die pos kry.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings